ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 48-jarige Jannie Bouwer van Louis Trichardt in ligte luim tydens sy opname in die Unitas Hospitaal in Pretoria. Hy het Maandag teruggekeer  huis toe, waar hy medikasie ontvang vir ‘n bakteriële infeksie in sy skedel.  

Jannie se terugkeer 'n getuigskrif van geloof

Date: 27 May 2022 By: Andries van Zyl

Vreugde voer weer die botoon in Jan en Anita Bouwer van Louis Trichardt se harte nadat hul seun, die 48-jarie Jannie, Maandag uit die Unitas Hospitaal ontslaan is om by die huis aan te sterk voor sy volgende breinoperasie. Ná twee weke van bekommernis is hulle dankbaar hulle seun is weer tuis en gee die Here die eer daarvoor.

Jannie se gesondheid het twee weke gelede ‘n terugslag beleef, ná die aanvanklike opgewondenheid oor die sukses van ‘n operasie om ‘n gat in sy skedel toe te maak. Dit het gevolg nadat Jannie einde verlede jaar skielik begin siek raak het toe ‘n abses gevorm het by die plaat wat 27 jaar vantevore onder sy kopvel geplaas is om ‘n gapende kopwond te bedek (Die kopwond is veroorsaak tydens ‘n motorongeluk in 1994).

Die plaat is in Desember 2021 in die Unitas Hospitaal in Pretoria verwyder, maar kon nie dadelik vervang word nie, aangesien daar eers gewag moes word vir die infeksie om op te klaar. Op 1 April vanjaar is Jannie terug teater toe, weer in die Unitas Hospitaal, waar ‘n nuwe plaat ingesit is om sy brein te beskerm teen die gat in sy skedel van ongeveer 2,5 cm by 13 cm. Ongelukkig het ‘n abses weer gevorm, ten spyte van die nuwe plaat, en Jannie is op 11 Mei terug Pretoria toe, waar die nuwe plaat op 12 Mei tydens ‘n noodoperasie verwyder moes word.

Jannie het sedert hierdie noodoperasie aangebly in die hospitaal om te bepaal wat die abses veroorsaak het ná afloop van die 1 April operasie. Ná verskeie toetse is bepaal dat die abses veroorsaak is deur ‘n rare bakteriële infeksie wat in Jannie se skedel gevorm het. Die goeie nuus was egter dat hierdie bakteriële infeksie suksesvol met medikasie gesond gemaak kon word oor ‘n periode van ses weke.

Die slegte nuus was egter dat Jannie-hulle se mediese fonds geweier het om hierdie behandeling goed te keur. Dit het gelei tot ietwat van ‘n dooiepunt tussen Jannie se internis en die betrokke mediese fonds. Die internis het doodeenvoudig geweier om Jannie te ontslaan alvorens die mediese fonds die nodige behandeling goedgekeur het.

Aanvanklik het Jan en Anita gehoop dat Jannie verlede week al ontslaan kon word. Die kwessie oor die goedkeuring van die behandeling het egter ‘n stokkie daarvoor gesteek. Jan en Anita se finansies het ook begin min raak en hulle het verlede Vrydag besluit om maar eerder weer huis toe te kom.

Wat daarna gevolg het, was ‘n wonderbaarlike getuigskrif van geloof.

“Ou Jannie se geloof was duidelik groter as ons s’n. Nog voordat ons Vrydag gery het, toe sê hy vir ons: ‘Ek weet Maandag gaan ek huis toe’. Maar ons kon nie langer daar bly nie. En dan was daar nog die ding met die mediese fonds,” het Jan gesê.

Maandagoggend het Jan ‘n oproep gekry van Jannie se internis. “Hy het vir my gesê hy bel my persoonlik om te sê hulle is nog besig met die mediese fonds. Skaar ‘n driekwartier later het hy weer gebel en gesê die behandeling is goedgekeur,” het Jan gesê.

Met die duur mediese kostes van die afgelope paar weke, asook die koste om heen en weer tussen Pretoria en Louis Trichardt ry en daar te bly, het Jan gesê hulle moes R2 000 gaan leen by ‘n vriend om Jannie te gaan haal.

“Ons het letterlik daarna toe gery, Jannie opgelaai, en teruggery,” het Jan gesê.

Op pad terug gebeur daar toe iets merkwaardig. “Anita het so ‘n WhatsApp-groep waarop sy almal op hoogte hou van Jannie te toestand. Toe kom een van die tannies by die ouetehuis op die groepe en sê: ‘Hoor hier mense, Jan en Anita het baie kostes. Kan elkeen van ons nie net R100 gee nie? Net om hulle te help met hulle kostes’. Anita wys my toe die boodskap, maar ons besluit om nie daarop te reageer nie. Dit is nie maklik die goed nie, so ons los dit eerder uit,” het Jan gesê.

So ‘m rukkie later sien Jan en Anita egter dat geld op hulle rekening inbetaal word. “My dogter in Johannesburg is ook op die groepie. Sy het gesien haar ma reageer nie met ‘n banknommer of niks nie, want sy ken haar ouers en sy het geweet ons gaan dit nie doen nie, toe gaan sy en sit ons bankbesonderhede op die groepe,” het Jan gesê.

Om ‘n lang storie kort te maak, teen die tyd wat Jan, Anita en Jannie Maandagmiddag by die huis gestop het, het drie mense elke R500, twee R200 en een R100 inbetaal – presies genoeg om die persoon terug te betaal by wie hulle die R2 000 die oggend geleen het!

“Is dit nie amazing nie! Ons prys die Here en ons dank hierdie mense! Ek word skoon bewoë as ek net daaraan dink. Daar voorsien die Vader vir ons en hier op nommer 99,” het Jan gesê.

Jannie sal nou vir die volgende ses weke op behandeling wees om die bakteriële infeksie in sy skedelbeen op te klaar. Daarna sal hy homself weer mooi moet oppas vir ‘n paar maande met sy volgende operasie om die gat in sy kop toe te maak wat vir vroeg volgende jaar geskeduleer is.

 

 
 
 

Viewed: 979

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT