ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hael het Sondagmiddag heel party inwoners laat rondskarrel. Dit het in ‘n redelik wye strook vanaf Elim tot selfs in Louis Trichardt geval. Gelukkig was die korreltjies klein en geen berig van skade is ontvang nie. Hierdie foto is geneem deur dr. Suwil Rudolph op sy plaas net buite Louis Trichardt ná die haelstorm.

Skielike koue kondig 'amptelik' begin van winter aan

Date: 26 May 2022 By: Andries van Zyl

Die winter het die afgelope naweek “amptelik” sy aankoms in die streeks aangekondig namate ‘n kouefront oor die streek inbeweeg het, vergesel van wydverspreide reën oor groot dele van die land, asook oor die Soutpansberg.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds vroeg verlede week gewaarsku dat die koue op pad was. Die waarskuwing het ingesluit ‘n waarskuwing dat sneeu vanaf 19 Mei oor hoogliggende dele van die Weskaap, Oos-Kaap, Lesotho en die Drakensberge verwag kon word, met die kouefront wat die binneland teen Vrydag sou bereik. Dit het ‘n dramatiese afname in temperature tot gevolg gehad, met maksimum dagtemperature van tussen 14°C en 16°C wat vir plekke voorspel is.

Alhoewel die Soutpansberg se maksimum temperature darem nie so laag gedaal het nie, was die naweek beslis koud en nat gewees. Gelukkig nie so nat soos in KwaZulu-Natal nie, waar vloedskade weer oor die naweek aangemeld is. Vir Louis Trichardt en omstreke is gemiddelde reënvalsyfers van tussen 30 mm en 40 mm vir die naweek gerapporteer en veral die boere is baie dankbaar daaroor.

“Hier by my [op Levubu] het ek so 44 mm gehad … Ons is eintlik baie gelukkig, want ons het eintlik ‘n baie goeie seisoen gehad. Die wêreld lyk regtig baie mooi agter die berg. Oral is dit regtig nog baie mooi groen, ten spyte van ‘n baie droë Februarie en Maart wat ons eintlik gehad het. Gewoonlik kry ons dan baie reën, maar hierdie keer was dit onder gemiddeld,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie en ondervoorsitter van TLU SA se Noordstreek, gesê.

Volgens Havinga is die “laat reën” ‘n seën. “Hierdie reën wat ons nou gekry het, gaan ons net goed doen. Dit gaan ons in ‘n goeie winter in vat, dat ons bome nie onder stres is nie. Die veld is nog groen en die brande mag dalk bietjie later wees as altyd,” het Havinga gesê.

Hy meen die afgelope naweek se goeie reën is nie abnormaal nie. “As jy met die ouer garde in Levubu praat, moet Levubu spesifiek ‘n winterreëntjie kry wat gewoonlik in Meimaand val. Hierdie was ons reëntjie gewees. So, dit is heeltemal op tyd. Ek is baie gelukkig. Ons het weer ‘n goeie, normale reënseisoen gehad,” het Havinga bygevoeg.

Alhoewel hael in die streek nie abnormaal is nie, was Sondagmiddag se haelstorm so laat in die seisoen buitengewoon. Hael het in ‘n strook vanaf Elim tot teen die Soutpansberg geval.

“Die hael het redelik wyd geval, maar dit was sagte hael gewees, nie harde hael nie. Ek dink dit het meer gepaard gegaan met die koue wat oor die streek inbeweeg het. As dit warm is en dit hael, het daardie haelkorreltjies paar keer op en af gegaan in die stratosfeer en ys bymekaar gemaak, wat hom hard maak voordat hy val. Hierdie hael was as gevolg van die kouefront en afsnylaag. Die korreltjie het opgegaan en die water het maar net gevries. Hy het te swaar geraak en toe val hy maar net uit die lug uit. So, ek glo nie daar was werklik haelskade gewees nie,” het Havinga gesê.

 

 
 
 

Viewed: 746

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT