ADVERTISEMENT:

 

 
 

Broers Nicolas (links) en Deon van Deventer (regs) tydens hulle arrestasie in Januarie 2017. Die twee is verlede week onderskeidelik 15 en 10 jaar gevangenisstraf opgelê. Foto’s verskaf.

Van Deventer broers se stropery vir eers verby

Date: 13 May 2022 By: Andries van Zyl

Broers Nicolas (56) en Deon van Deventer (53) se dae van renosterstropery blyk vir eers iets van die verlede te wees nadat hulle Woensdag, 4 Mei, effektief tot onderskeidelik 15 en 10 jaar gevangenisstraf gevonnis is in die landdroshof op Giyani.

Die Van Deventers, en medebeskuldigde Onward Muchagowa (47), is op 6 Januarie 2017 gearresteer toe hulle ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tye van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hul bakkie se venster uitgegooi het. Hul skuldigbevinding hou verband met klagte rondom hierdie voorval en gepaardgaande misdrywe wat tussen Desember 2016 en Januarie 2017 op wildreservate buite Polokwane, buite Louis Trichardt en by Witpoort (Lephalale) gepleeg is.

Die twee broers se skuldigbevinding volg vyf jaar ná hulle arrestasie. Muchagowa se saak is intussen van die broers se saak geskei en moet nog afgehandel word.

Ter verswaring van vonnis het die Staat se advokaat Norman Makuvele mnr. Mario Scholtz van SANParke geroep. Scholtz het getuig dat sindikate agter die onwettige jag en handel van renosterhorings sit en dat die twee broers jagters en renosterhoringhandelaars is. Hy het ook getuig dat die land se renosterbevolking kwyn, omdat hulle vinniger uitgeskiet word vir die onwettige handel in renosterhorings as wat hulle kan reproduseer.

Advokaat Makuvele het op sy beurt getuig dat die twee broers al jare lank opslae maak. Sowat 10 jaar gelede is hulle in die Hluhluwe-Umfolozi Park in KwaZulu-Natal gevang vir die onwettige jag van ‘n renoster en daarna weer vir die onwettige besit van renosterhorings in Bela-Bela in Limpopo. Hul verbintenis met die onwettige handel in renosterhorings strek egter verder terug. Die Zoutpansberger het ook voorheen berig dat hulle aanvanklike borgaansoek in Mei 2017 van die hand gewys op grond daarvan dat hulle moontlik verdere oortredings sal pleeg. Tydens hulle borgaansoek het dit aan die lig gekom dat Deon skuldig gepleit het op ses aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters vanaf 14 Desember 2005 tot en met Mei 2006. In een geval het hy twee renosterbulle en een renosterkoei naby Mbabane in die Kruger Nasionale Park doodgemaak en hul horings gestroop. Deon is toe gevang en op 29 Mei 2006 op borg van R10 000 vrygelaat. In die daaropvolgende drie maande het Deon skuld erken op ‘n verdere drie aanklagte wat verband gehou het met die dood van nog ses renosters.

Advokaat Makuvele het met verwysing na die Van Deventers se vorige veroordelings gevra dat die broers langs vonnisse opgelê moet word.

Deon is skuldig bevind op klagte van sameswering om ‘n renoster te stroop, die onwettige jag van ‘n spesiaal beskermde spesie (renosters), die onwettige besit en verkoop van renosterhorings, betreding en die onwettige betreding van ‘n perseel met ‘n vuurwapen waar wilde diere aangehou word. Nicolaas is op sy beurt skuldig bevind op klagte van sameswering om ‘n renoster te stroop, die onwettige jag van ‘n spesiaal beskermde spesie (renosters), die onwettige besit en verkoop van renosterhorings, die besit van ‘n onwettige vuurwapen, die besit van onwettige ammunisie, betreding en die onwettige betreding van ‘n perseel met ‘n vuurwapen waar wilde diere aangehou word. Beide broers is ook onbevoeg verklaar om ooit ‘n vuurwapen te besit.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ná afloop van die saak die vonnisse verwelkom en gesê hulle hoop dit dien as afskrikmiddel vir ander misdadigers. Die NVG het ook die polisie bedank vir hulle goeie ondersoekwerk.

 
 
 

Viewed: 983

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT