ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nuwe direkteur en vennoot van Coxwell, Steyn, Vise en Naudé Christoff Venter (links) skud blad met die uittredende André Naudé (regs). Foto verskaf.

André Naudé het diep spore by firma getrap

Date: 07 May 2022 By: Pétria de Vaal

André Naudé, bekende, gesiene en geliefde prokureur en direkteur van Coxwell, Steyn, Vise en Naudé (CSVN) het aan die einde van April vanjaar afgetree. Hy het diep spore in hierdie 104-jaar-oue prokureursfirma getrap.

André is in 1955 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Linden gematrikuleer, waar hy hoofseun was in 1972. Hierna het hy sy BA graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi, alvorens hy sy LLB aan die destydse Potchefstroomse Universiteit verwerf het. Hy het sy klerkskap by die Staatsprokureur gedoen tot Augustus 1983, waarna hulle na Louis Trichardt verhuis het. Hier het hy aangesluit by CSVN, waar hy sy leerklerkskap onder die bekwame leiding van die legendariese Roelf Steyn voltooi het. André het in April 1984 vennoot van hierdie firma geword.

“Dit was ‘n voorreg om in die voetspore van Roelf Steyn verder te stap en ook met mnr. Pieter de Vaal (destyds prokureur van Louis Trichardt en outeur van Die Dorp Louis Trichardt) saam te werk aan die historiese navorsing ten opsigte van die Louis Trichardt / Makhado naamsaak. Mnre. De Vaal en Roelf Steyn was uitsonderlike mense,” sê André.

André is deel van ‘n aantal legendariese persone wat deel was van die firma sedert dit in 1918 tot stand gekom het. André se naam sal beslis verewig word in die firma se geskiedenisboeke. Hy het ‘n groot aantal hoogtepunte in sy loopbaan en lewe beleef – byna te veel om op te noem.

Die stig van ‘n prokureursvereniging kort ná 1984 was ‘n besliste hoogtepunt. André vertel ook dat sy diens by die Soutpansberg Kommando (aanvanklik as kaptein en later as majoor) hom na aan die hart lê. Daar het hy dissiplinêre verhore hanteer en regsadvies in dié verband gegee.

“In 1993-1994 is ‘n aansoek teen die Venda Coalition Committee ingedien om die destydse Venda regering te dwing om weer beheer oor die Staat oor te neem en die Staat behoorlik te regeer. Ons het ‘n interdik in die Hooggeregshof in Venda gekry om die opstande wat toe aan die orde van die dag was, tot stilstand te bring. In hierdie tyd is daar gepraat van direkteur-generaals as instant millionnaires. Ons moes uit die hof en parlement-terrein begelei word en beweeg deur ‘n massa van ongeveer 36 000 mense wat destyds teen die Venda regering in opstand gekom het. Ná die hofbevel is wet en orde herstel. Hierdie hofsake is in die Suid-Afrikaanse hofverslae gepubliseer,” onthou André.

André was ook in die vroeë negentigerjare voorsitter van Soutpansberg Laerskool se bestuursliggaam. “In hierdie tyd het ons die eerste rekenaarsentrum vir ‘n laerskool gevestig. Rekenaartaal en -terminologie is in Afrikaans vertaal en aangebied,” sê hy. André vertel ook dat hulle dikwels musiekaande aangebied het.  By een so ‘n geleentheid het Gé Korsten en Rina Hugo hulle eerste duet saamgesing – op uitdruklike versoek. Die Afrikaans- en Engelssprekende mense het ongelooflik goed, hard en spontaan saamgewerk om Souties ‘n baie goeie skool te maak.

Benewens André se eie boerderybedrywighede en –vertakkinge sedert 1984 (onder meer ‘n cockatoo papegaaiboerdery, proteas, avokado’s, wild en beeste), was hy betrokke by die registrasie van planttelersregte ten opsigte van die peppadew produkte in die 1990’s. Hy was ook verantwoordelik vir die internasionale kontrakte in hierdie verband, sowel as die kontrakte met boere.

André was ook betrokke by die vestiging van ‘n tot dusver uiters suksesvolle struktuur bestaande uit die boere in die berg om grondeise teen te staan.

“Saam met ‘n groep leraars het ek as regsadviseur opgetree om aan die Algemene Sinode van die NG Kerk advies te gee om uitsprake te doen oor die kerk se siening ten opsigte van grondeise en die hantering daarvan kort ná 1998,” voeg André by.

Hy vertel ook dat hy in ongeveer 2001 betrokke was by die eerste entrepreneursweek – gereël deur die Soutpansbergse Sakekamer. Sowat 4 500 leerlinge is toegespreek en opgelei. Mnr. Cyril Ramaphosa en mnr. Tito Mboweni was van die sprekers tydens hierdie geleentheid.

André het op twee verskillende geleenthede toekennings van die Soutpansberg Sakekamer ontvang. Hy is aangewys as die Sakepersoonlikheid van die Jaar in 2003 en het die Voorsitterstoekenning van Iain Purdon (toe voorsitter) gedurende 2006 ontvang. André se een dogter, Johesta, het tydens dieselfde geleentheid met ‘n toekenning as top-entrepreneur weggestap.

Onder André se bekwame leiding het die Voorsittersvereniging talle suksesse behaal. ‘n Sinergie is gevestig tussen alle kultuurgroepe in die omgewing, bestaande uit ongeveer 70 000 lede. “Dit het tot geweldige goeie resultate gelei in onderhandelinge met munisipaliteite en ander instansies om goeie koöperatiewe bestuur, deursigtigheid en eerlikheid te vestig en die nodige drukgroep te vorm om dit af te dwing,” sê hy. Een van die Voorsittersvereniging se grootste suksesverhale was met die saak oor die naamsveranderandering van die dorp. “Sedert ongeveer 2003 is heelwat teëspoed ervaar, maar die uiteinde van die saak, toe dit in 2016 gefinaliseer is, is dat die dorp se naam steeds Louis Trichardt is,” sê André.

In 2009 is die “Calvary Community Empowerment Award” vir “outstanding service as community builder” deur President Kgalema Motlanthe aan André en sy dogter Marisa Naudé-Odendaal oorhandig.

“Een van die grootste en mees spesiale oomblikke was toe die Streekshof Landdros, me. Kellerman, op 25 April 2022 die hele Streekhof versoek het om aan my ‘n laaste totsiens-buiging te doen. Mnr. Fanus Booyens het ook sy seënwense uitgespreek,” sê ‘n diep geraakte André.

“Van besonderse betekenis was die pad wat ek met my kollegas en die regslui in diens van die Reg, Louis Trichardt en omgewing geloop het. Ek wil graag al die wonderlike en begaafde mense van die omgewing, insluitende my ondeunde en uiters bekwame personeel by CSVN Ingelyf, bedank. Die liefde en omhelsing van ons kliënte en die breër gemeenskap het die ware waardes in ons lewens bepaal en gerig. Deur dit alles het my baie stoute en eiesoortige vrou, Martie, en my kinders Marisa Naudé-Odendaal, Johesta Botha en André Naudé, sowel as hulle gades, my bygestaan en ondersteun deur dik en dun,” sê André.

“Deur dit alles het die Almagtige Vader ons in sy hande gedra en styf teen sy bors vasgedruk. Hy het ons altyd gerig om geregtigheid in alles na te streef. “

CSVN verwelkom vir Mnr. Christoff Venter as vennoot en direkteur wat vanaf 3 Mei 2022 by die span aangesluit het. André bly vir ses maande aan in ‘n adviserende hoedanigheid, maar nie permanent nie. Hy gaan nie self meer konsulteer nie. Dan gaan hy voltyds boer op sy plase buite Thabazimbi, maar bly steeds permanent op sy plaas op die Bluegumspoortpad.

 

 
 
 

Viewed: 1320

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT