ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Wrede inbrekers is steeds op vrye voet

Date: 06 May 2022 By: Andries van Zyl

Ten spyte van gerugte dat ‘n verdagte gearresteer is in verband met die reeks gewelddadige inbrake by wonings in Louis Trichardt die afgelope twee maande, het die Makhado polisie hierdie week gesê dat nog niemand in verband met die inbrake aangekeer is nie.

Sedert die begin van Maart voer twee mans ‘n skrikbewind in die area bekend as Louis Trichardt se onderdorp. Tydens die jongste voorval is ‘n jong ouerpaar van Douthwaitstraat, JP van Niekerk (35) en sy vrou Norlette (33), die oggend van 11 April aangeval en beroof.

Die Van Niekerks se beskrywing van hul twee aanvallers stem ooreen met die beskrywing van die twee verdagtes wat die aand van 23 Maart die 69-jarige Willem van Wyngaardt in sy huis in Reitzstraat oorval, beroof en vir dood agtergelaat het. So ook stem hulle beskrywing ooreen met dié van die twee mans wat gedurende die vroeë oggendure van 18 Maart die 70-jarige Elsa Vos van Kokstraat in haar huis oorval en beroof het. Die twee se terreurveldtog het blykbaar op 3 Maart begin toe hulle ‘n familie, skaars drie huise van Vos se woning en ook gedurende die vroeë oggendure, beroof het. Tydens hierdie roof is ‘n klein pistooltjie gesteel. Hierdie wapen stem ooreen met die beskrywing van die wapen wat tydens die aanvalle op Vos en Van Wyngaardt gebruik is, asook die wapen wat tydens die rooftog by die Van Niekerks gebruik is. In al die gevalle, behalwe in Vos se geval, waar die verdagtes besluit het om eerder nie haar voertuig te vat nie, het die aanvallers met hul slagoffers se voertuie gevlug.

Ná die aanval op die Van Niekerks het plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane gesê dat ‘n taakspan aangestel is om die reeks rooftogte te ondersoek. Die polisie was tot op daardie stadium huiwerig om te sê dat die sake met mekaar verband hou, maar het wel genoem dat die modus operandi in al die sake dieselfde is.

Sowat twee weke ná die aanval en rooftog by die Van Niekerks het gerugte die rondte begin doen dat die polisie een van die twee mans aangekeer het. Radzilane het egter Woensdag hierdie week bevestig dat nog niemand gearresteer is wat positief verbind kan word met enige van hierdie rooftogte nie. Wat dit betref, en ten spyte van ‘n redelike stil tydperk ná die rooftog in Douthwaitstraat op 11 April, word inwoners steeds gewaarsku om paraat te wees en nie hulle veiligheidsprosedures te verslap nie.

 

 
 
 

Viewed: 951

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT