ADVERTISEMENT:

 

 
 

Barbaarse moord skok gemeenskap

Date: 29 April 2022 By: Andries van Zyl

Vir die kinders van die vermoorde Louis Cloete (71) en sy vrou Ina (65) is die dood van hulle ouers nog ‘n onwerklikheid en ‘n seer waaroor hulle nog nie maklik praat nie.

Familie, vriende en lede van die boerderygemeenskap het Maandag saam in die hofbanke in die landdroshof op Vuwani gewag vir die eerste hofverskyning van die twee jong mans wat in verband met die gru-moord gearresteer is.

Die Cloete-egpaar is Woensdagmiddag, 20 April, aangeval in hulle plaashuis op Levubu, waarna hulle woning aan die brand gesteek is. ‘n Plaaswaglid het die rook gesien en gaan ondersoek instel. Hy het die huis in vlamme aangetref. Hy het ook twee onbekende mans in die Cloetes se bakkie opgemerk en wou die mans vra wat hulle daar soek, toe hulle skielik uit die bakkie gespring en te voet gevlug het. By nadere ondersoek is wapens, wat vermoedelik tydens die rooftog gesteel is, in die bakkie gevind. Louis en Ina se lewelose liggame is vasgebind binne die huis gevind nadat die vlamme geblus is. Die hele huis het afgebrand.

Groot dankbaarheid heers dat verdagtes in verband met die moorde so gou gearresteer is. “Ek het glad nie gedink daar gaan so gou iets gebeur nie,” het seun Andries ná Maandag se hofverrigtinge gesê.

Twee 19-jarige mans, Mukhethwa Goodman Magoma en Engetelo Advice Sambo, is binne 24 uur ná die moorde in die Hasani-woongebied naby Malamulele vir die moorde aangekeer. Hulle het Maandag in die Landdroshof op Vuwani verskyn op klagte van onder meer moord, poging tot moord, roof en brandstigting. Hulle het nie gepleit nie en hulle saak is uitgestel tot 11 Mei vir verdere polisieondersoek. Hulle sal tot dan in polisie-aanhouding bly.

Die moord van die Cloete-egpaar het skokgolwe deur die gemeenskap, die provinsie en die land gestuur.

“Daar is geen woorde om die afkeur op die moorde op die bejaarde egpaar van Levubu te beskryf nie … dit was wreed en barbaars… ” het die ondervoorsitter van TLU SA se Noordstreek, mnr. Fanie Havinga, in ‘n verklaring gesê kort nadat die twee verdagtes aangekeer is. Havinga is ook die voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-Unie.

Vir die familie is dit nou ‘n kwessie van wag tot Magoma en Sambo se volgende hofverskyning. “Die hof is maar ‘n uitgerekte storie. Ons weet nie hoeveel jaar dit kan vat nie,” het Andries gesê. “Daar is maar baie prosesse, maar ons voel hulle doen die regte dinge op die regte manier,” het dogter Ria bygevoeg.

As blyk van meelewing met die Cloete-familie en ordelike protes teen plaasmoorde, het talle boere ook Maandag by die hof opgedaag. “Ons is bly dat hulle in aanhouding bly tot dan toe en dat hierdie terroriste nie die geleentheid kry tot dan om hulle duiwelswerk voort te sit nie,” het Havinga ná die twee se hofverskyning Maandag gesê. “Ons sal beslis poog om getuienis aan te bied tydens ‘n moontlike borgaansoek om te verhoed dat hulle enigsins vrygelaat word,” het hy bygevoeg.

Intussen het Cloete se kinders en familie hulle opregte dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het op die toneel en om die verdagtes vas te trek. “As dit nie vir ons plaaswagstruktuur was nie, dan het ons nog gesit en wag [vir ‘n arrestasie]. Dit was een van die plaaswaglede wat die rook gesien het en toe is hy soontoe,” het Andries gesê. Hy het bygevoeg dat, teen die tyd wat hy by sy ouerhuis aangekom het, sowat 30 bakkies van plaaswaglede reeds op die toneel was. Te midde van die twee verdagtes se arrestasie is dié feit vir die kinders ‘n bittersoet troos, want niks gaan hulle ouers weer terugbring nie.

Lof het ook gegaan aan die Limpopo polisie en die taakspan wat saamgestel is om die verdagtes op te spoor. Dit het gevolg ná ‘n grootskaalse mensejag geloods is en die implementering van ‘n 72-uur aktiveringsplan in opdrag van die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe. Hadebe het haar lede geloof vir hulle flinke optrede.

Wat spekulasie oor die nasionaliteit van die twee beskuldigdes betref het die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder in Limpopo, me. Mashudu Malabi Dzhangi, bevestig dat Magoma en Sambo Suid-Afrikaanse burgers is. Of die Cloete-egpaar reeds dood was toe hulle huis aan die brand gesteek is, is in hierdie stadium nog nie duidelik nie.

 

 
 
 

Viewed: 1477

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT