ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die uitgebrande huis van die Cloete-egpaar waarin hulle verkoolde, vasgebinde liggame onder die puin gevind is. Foto verskaf.

Twee vas binne 24-uur ná Cloete-moorde

Date: 21 April 2022 By: Andries van Zyl

Twee verdagtes is aangekeer in verband met die wrede moord op die 71-jarige Louis Cloete en sy 65-jarige vrou, Ina, skaars 24-uur nadat die egpaar se verkoolde liggame Woensdagmiddag, 20 April, vasgebind in hulle uitgebrande plaashuis in Levubu gevind is.

Provinsiale polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Malesela Ledwaba het in ‘n verklaring gesê die twee verdagtes is aangekeer ná ‘n grootskaalse mensejag geloods is en die implementering van ‘n 72-uur aktiveringplan in opdrag van die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe. In reaksie het Hadebe die polisie en die taakspan wat saamgestel is om die verdagtes op te spoor geloof vir hulle flinke optrede.

 

Die 71-jarige Louis Cloete en sy 65-jarige vrou Ina wat wreed in hul plaashuis op Levubu vermoor is. Foto verskaf.

 

Daar word egter nog gesoek na ‘n derde verdagte. Die polisie het gevra dat enige iemand met inligting oor waar die derde verdagte hom mag bevind, die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Mashudu Lesley Muneri, sal skakel by tel. 082 469 1260, die Stop Misdaad nommer 08600 10111 of hulle naaste polisiestasie.

Die wrede moord het nasionaal opslae gemaak.

“Daar is geen woorde om die afkeur op die moorde op die bejaarde egpaar van Levubu te beskryf nie,” het die ondervoorsitter van TLU SA se Noordstreek, mnr. Fanie Havinga, in ‘n verklaring gesê. Hy is ook die voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-Unie.

“Die moord op die bejaarde egpaar was wreed en barbaars … Ek was self op die toneel, en wat ek daar aangetref en gesien het, is te gruwelik om te beskryf. Dit is duidelik dat die lafhartige moordenaars - wat eerder as terroriste beskryf moet word - wat bejaarde sagte teikens aangeval het, geen tekens van menslikheid getoon het nie en absoluut barbaars opgetree het,” het Havinga gesê.

Volgens Havinga glo hulle nie vir een oomblik dat roof die motief vir dié aanval was nie, ongeag wat hulle dalk mag gevat het. “Dit wil voorkom of die terroriste die egpaar vermoor het voordat die huis aan die brand gesteek is. Hulle het boonop doodluiters buite die huis in ‘n voertuig gewag tot die eerste hulp opgedaag het toe die rook en gloed van die vlamme waargeneem is. Hulle het daarna die hasepad gekies,” het Havinga gesê.

Havinga het sy waardering uitgespreek teenoor die polisie wat vinnig by die toneel opgedaag het en professioneel en menslik opgetree het. “Ons hoop dat die terroriste gevang sal word, en hoop verder dat die strafregtelike proses behoorlik voltooi gaan word. Dit is egter betreurenswaardig dat misdadigers soos hierdie uiteindelik kan aanspraak maak op die Handves van Menseregte, terwyl dit nie van toepassing behoort te wees op hierdie terroriste nie,” het Havinga gesê.

Havinga het weereens ‘n beroep op die boeregemeenskap gedoen om betrokke te raak by georganiseerde strukture wat ook na landelike veiligheid omsien.

“Ons betuig ook ons meegevoel met die naasbestaandes van die Cloete gesin, en ons betreur hulle heengaan.”

Reaksie op die moorde is ook van die Demokratiese Alliansie se woordvoerder van Vervoer en Gemeenskapveiligheid in die Provinsiale Wetgewer, Katlego Suzan Phala, ontvang. Sy het haar medelye met die familie uitgespreek en gesê die veiligheid van Suid-Afrika se kwesbare gemeenskappe soos op die platteland het dringend en duidelike aksie nodig. “Die DA se plan vir landelike veiligheid is gemeenskap gefokus, ‘n ‘stewels op die grond’ aanslag wat insluit die intensiewe gebruik van tegnologie en voorstelle vir groter polisie sigbaarheid en ondersteuning aan buurtwagte en plaaspatrollies om plattelandse inwoners veilig te hou,” het Phala gesê.

Intussen het dominee Innes Nagel, leraar van die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt waar die Cloete-egpaar lidmate was (Louis in die amp van ouderling) aan die Zoutpansberger gesê dat die moorde inderdaad hartverskeurende nuus is. “Nog ‘n sinlose en waansinnige plaasaanval. Nog ‘n weerlose egpaar vermoor! Geliefde inwoners van Levubu, dierbare lidmate van die Here se gemeente - wreedaardig uit die lewe weggeruk. Daar is nie eintlik woorde om die ontnugtering, skok en hartseer behoorlik uit te druk nie. Ons kyk in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld - ons kan nie verstaan waarom sulke dinge gebeur nie. Wat ons wel weet, is dat ons in ‘n gebroke wêreld met stukkende mense leef en dat die wêreld nie ons woning is nie,” het Nagel gesê.

 
 
 

Viewed: 11368

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT