ADVERTISEMENT:

 

 
 

Afgeneem tydens die loodsing van die nuutse uitgawe van Pioneer Women is Renthea (links) en die redakteur van die tydskrif, Tshina Mushi. Foto verskaf.

Renthea se lewensverhaal 'n inspirasie vir ander vroue

Date: 14 April 2022 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt sakevrou Renthea Geyer is nie iemand wat met haar prestasies te koop loop nie; inteendeel, sy is heel gemaklik om op die agtergrond te bly. Tog kon die redakteur van die tydskrif Pioneer Women haar oortuig om haar lewensverhaal met lesers te deel in die jongste uitgawe van die publikasie, en watter inspirerende verhaal is dit nie!

Pioneer Women is ‘n leefstyl tydskrif met ‘n Christelike grondslag wat fokus op mode, dekor, gesondheid en inspirerende verhale van vroue. Die tydskrif verskyn elke drie maande, met Renthea se foto wat op die voorblad van die April tot Junie-uitgawe pronk.

Die 45-jarige Renthea is alombekend as die eienaar van House of Interiors. House of Interiors bedien ‘n nismark van luukse handgemaakte meubels, beligting en kunswerk wat by fabrieke regoor die land vervaardig word. Plaaslik ontwerp en vervaardig Renthea haar eie kopstukke vir slaapkamerstelle, terwyl die besigheid ook spesialiseer in huis dekor, van ontwerp tot installering. Meubels kan ook op aanvraag volgens ‘n kliënt se eie spesifikasies vervaardig word.

Min mense ken egter Renthea se lewensverhaal en dit is juis hierdie verhaal wat sy met lesers deel in die Pioneer Women artikel. In die artikel skryf Renthea van die uitdagings wat sy sedert ‘n jong ouderdom moes oorkom. Alhoewel sy op Louis Trichardt op laerskool was, sou sy haar hoërskoolloopbaan by Hoër Landbouskool Kuschke begin.

Kort daarna het haar kinderlewe in skerwe gelê, nadat haar ma haar eie lewe geneem het. Haar pa se lewenskeuse in daardie stadium was ook vir Renthea te veel om te verwerk en ná voltooiing van haar Graad 9 Julie-eksamen het Renthea besluit om nie net skool nie, maar ook haar ouerhuis, te verlaat. Sy was toe maar net 14 jaar oud gewees.

Tog moes Renthea lewe, en dit het geld gekos. Op die ouderdom van 15 het sy by die destydse Spareco (vandag Autozone) in Louis Trichardt begin werk en hulle gehelp met hulle reklameborde. Renthea het aanhou werk as letterskilder en is op 19-jarige ouderdom getroud. Finansieel het die jong egpaar swaar getrek.

Op ‘n dag, vertel Renthea in die artikel, het sy by ‘n rooi verkeerslig gesit en wag. Skielik het ‘n stem (sy glo dit was die Heilige Gees) vir haar gesê om by die luukse meubelwinkel oorkant die pad in te gaan. Sy het nogal by haarself gedink dat sy nie eers geld het om die kleinste item in die winkel te koop nie, maar sy het ingegaan.

Skaars het sy die winkel binne gestap of ‘n vrou het haar in die gordyne-afdeling genader en gevra of sy nie belangstel om aansoek te doen vir haar pos nie, want sy het pas bedank. Ondanks die feit dat Renthea gesê het sy het skaars Graad 9 en geen ander kwalifikasies nie, het sy haar aansoek ingedien. Dieselfde dag nog is sy aangestel.

Vandaar het Renthea hard gewerk om ‘n beter toekoms vir haarself te maak. In haar was ‘n brandende begeerte om haar eie dekorwinkel oop te maak. Haar verhouding met haar pa het verbeter en dié het vir Renthea ‘n bietjie geld gegee om haar eie plek te begin. Sy het haar werk bedank en op 25 Februarie 1998 het Renthea House of Interiors oopgemaak.

Steeds het die lewe egter struikelblokke in Renthea se pad gegooi. Binne drie jaar was haar huwelik op die rotse, en op die ouderdom van 22 was Renthea ‘n enkelma en besigheidseienaar met skaars ‘n sent op haar naam. Sy het egter vir haarself gesê dat dit nie gaan help om die lewe te blameer as dinge skeefloop nie. Daarna het sy net harder begin werk en elke sent wat sy gemaak het teruggeploeg in haar besigheid.

Renthea sou wel geluk vind. In Mei 2000 het sy haar man, Fanie Geyer, ontmoet en in Desember 2001 is die twee getroud. Vandaar kon niks Renthea keer om haar lewensdrome te bewaarheid nie (gaan lees gerus die volle artikel in die huidige uitgawe van Pioneer Women).

Maar hoe het dit gebeur dat ‘n skugter Renthea besluit het om haar uiters emosionele lewensverhaal met mense te deel, en dit nogal in ‘n tydskrif? Dit opsigself is ‘n interessante storie.

Renthea het aan die Zoutpansberger gesê dat die redakteur van die tydskrif, Tshina Mushi, haar einde verlede jaar gevra het of hulle ‘n artikel oor haar kon skryf. “Ek is ‘n baie teruggetrokke mens - glad nie iemand vir die kalklig nie, so ek was baie skepties daaroor,” het Renthea gesê. Eers nadat sy met Fanie gepraat en Tshina haar oortuig het dat haar lewensverhaal as inspirasie vir baie vroue sal dien, dat Renthea besluit het om haar storie te deel.

Die nuutste uitgawe van die tydskrif is op 5 April by Renthea se winkel, Eleganto by House of Interiors, op Louis Trichardt geloods. Die winkel is een van twee plaaslike takke van haar besigheid. Sy het ook ‘n House of Interiors in Tzaneen.

Die aand van die loodsing sou Renthea se vraag beantwoord word oor hoe Tshina van haar gehoor het. “Sy sê toe voor almal sy was 17 jaar oud toe ek die winkel in 1998 oopgemaak het. Sy het ingekom en haar verwonder aan al die meubels. Ek het haar nooit geken nie ... So sy het my vir 24 jaar gevolg en dopgehou, elke keer as ek ‘n nuwe winkel oopgemaak het. In Desember verlede jaar het sy besluit om my te vra of hulle ‘n artikel oor my kan doen,” het Renthea gesê.

Alhoewel haar artikel in Pioneer Women vir vroue as inspirasie moet dien, wou Renthea mense ook daarmee waarsku. “Ek wou ook hê dat mense nie ‘n wanpersepsie daarvan moet kry dat as jy op 14 uit die skool gaan, jy noodwendig ‘n sukses van jou lewe gaan maak nie,” het Renthea gesê. Sy het klem daarop gelê dat sukses net deur harde werk kom.

“Dit is baie taai. Jy bestuur elke dag mense. Jy moenie dat enige groot situasie, al val ‘n trok om met jou hele vrag, jou onder kry nie. Jy moet enige situasie kan hanteer. Ek dink ek het dit dalk maar net reggekry in my lewe om met die stres hiervan te deel,” het Renthea gesê.

Sy verduidelik verder: “Jy weet, lang naels en hoë hakkies werk nie in hierdie bedryf nie. Die lang naels kan maar waai, want hulle gaan waai en die hoë hakkies – dit gaan nie werk nie want jou voete gaan te seer word. Mense dink jy kom sit net hier in ‘n kantoor, maar dit is baie harde werk.”

Renthea is beslis nie een vir lyf wegsteek nie en is nie bang om self die werk te doen nie.. “Vragte moet fisies gelaai word. Dit moet weer by die kliënt afgelaai word. Ek klim self op die leer en boor self gate. Nadat my drywer my in die steek gelaat het, bestuur ek vir meer as ‘n jaar lank self my trok oor die berg Tzaneen toe. Nou nog gaan ek partykeer self, soms saam met my man, Pretoria toe en gaan laai voorraad op. Die ding is, dit is nie enige mense wat dit sal doen nie. Jy moet bereid wees om dit te doen,” het Renthea gesê.

Wat haar besigheid se sukses betref het Renthea gesê sy is dankbaar vir die groei. Daarvoor het sy haar lojale kliënte bedank. “Dankie vir julle wat vir my die geleentheid gegee het om dit te kan doen,” het Renthea gesê. Sy het ook haar man Fanie bedank. “Hy ondersteun my 100% in alles wat ek doen. Hy sê net altyd vir my: ‘Go for it! Ek is daar vir jou!’” Dank gaan ook aan haar personeel wat haar al die jare bystaan.

Vir ‘n kopie van Pioneer Women, skakel 082 748 4888 of gaan na https://www.facebook.com/PioneerWomenMagazine/ vir meer inligting.

 

 
 
 

Viewed: 1240

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT