ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle André du Preez (76). Foto verskaf.

Bekende oud-sakeman se skielike dood kom as skok

Date: 28 January 2022 By: Andries van Zyl

Nuus van die skielike dood van die 76-jarige André du Preez van Louis Trichardt Dinsdagaand het as groot skok vir familie en vriende gekom. Die bekende afgetrede sakeman was ten tye van sy dood op vakansie saam met sy vrou Nellie waar hulle by die Maroela Oasis buite Bela-Bela gekamp het.

Volgens André se jongste seun Pierre het sy pa omstreek 19:00 uitgestap om ‘n stoel van buite af in te bring toe hy inmekaar gesak het. Paramedici is ontbied, maar hulle kon nie weer vir André bybring nie. Pierre het Woensdag bevestig dat die oorsaak van sy dood ‘n hartaanval was.

“Alhoewel ons lankal so iets verwag het, was dit steeds ‘n groot skok vir ons almal,” het Pierre gesê. Hy het verduidelik dat sy pa in Desember 2017 ‘n pasaangeër moes kry, en skaars 10 dae ná die operasie het hy ‘n beroerte gehad. “In daardie stadium het medici vir ons gesê ons moet nie hoop op ‘n vinnige herstel nie. Ons was egter verstom oor hoe vinnig hy toe wel herstel het,” het Pierre gesê.

Die beroerte het egter sy merk gelaat en André moes ophou werk. “Die laaste vier jaar het hy nie meer gewerk nie,” het Pierre gesê.

André en sy gesin het in Desember 1979 vanaf Jukskeidrif na Louis Trichardt verhuis waar hy vir sy skoonpa, wyle Frans de Wet, by Louis Trichardt Nywerhede begin werk het. Deur die jare het hy vir homself ‘n bewese kennis opgebou van die houtwerkbedryf en in 1994 het hy saam met wyle Norma Scott die welbekende Kitchen & Home begin. Later jare het hy die besigheid alleen bedryf, tot en met sy beroerte in 2017.

“My pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was altyd bereid om te help, al het hy daardeur homself in die voet geskiet. Sy hart was altyd goed teenoor ander en hy het geen vyande gehad nie,” het Pierre gesê.

Teen druktyd was nog geen begrafnisreëlings beskikbaar nie. Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor almal vir hulle boodskappe van ondersteuning en belangstelling. Van Nellie se kant af het sy al hulle kliënte van Kitchen & Home bedank vir hulle jarelange ondersteuning.

Wyle André word oorleef deur sy vrou Nellie, seuns Hagar (Dennis), Cois (Francois) en Pierre en hulle eggenote, ses kleinkinders en een agterkleinkind.

 

 
 
 

Viewed: 1683

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT