ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die bytmerk van die Mosambiekse Spoegkobra aan die vrou se vinger. Foto verskaf.

Pasop die slange 'loop'

Date: 28 January 2022 By: Andries van Zyl

Inwoners word weereens vermaan om op die uitkyk te wees vir slange nadat drie slangbyte op een dag die afgelope week in Louis Trichardt en omstreke aangemeld is. Volgens plaaslike slangkenners is die voorkoms van soveel slangbyte in so ‘n kort tydperk uiters ongewoon.

“Vir ons omgewing is dit uiters ongewoon. Gewoonlik hanteer ons so drie of vier slangbyte ‘n jaar,” het plaaslike slangkenner en -vanger mnr. Jan “Slang” van Rooyen gesê.  

Al drie slangbyte het verlede Woensdag, 19 Januarie, plaasgevind. Twee van die slangbyte is deur nog ‘n plaaslike slangvanger, Frikkie Venter, hanteer. Twee mense is in twee afsonderlike voorvalle aan die voet gebyt toe hulle in die aand buite hul wonings in die donker geloop het. In beide gevalle is die persone na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gehaas vir mediese behandeling, maar gelukkig kon Venter vasstel dat beide byte afkomstig was van die gewone Bruin Huisslang, wat onskadelik is vir die mens.  

Die derde slangbyt het vroeër die middag op die plaas Arbor in Levubu plaasgevind en was ongelukkig nie ‘n onskadelike byt nie.

‘n Vroue plaaswerker was besig om ‘n beskadigde spuitjie (sprinkelbesproeiing) in ‘n boord te vervang. Toe sy haar hand in die gras insteek, het ‘n slang haar skielik aan die middelvinger op haar regterhand gebyt. Die plaaseienaar, mnr. Stephen Hoffman, is dadelik ontbied.

“Die eerste ding wat ek geleer is met ‘n slangbyt is, jy het ‘n uur om die slagoffer sou gou as moontlik by die hospitaal te kry,” het Hoffman gesê. Hy kon sien die byt is ernstig en al wat die vrou vir hom kon sê was dat dit ‘n swart slang van ongeveer ‘n meter lank was.

Hoffman het die vrou deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal. Daar aangekom, het Van Rooyen reeds vir hulle buite gewag. “Jan kon vinnig die byt identifiseer en die vrou gerusstel,” het Hoffman gesê.

Op grond van die vrou se beskrywing van die slang, haar simptome en bytmerk kon Van Rooyen, wat opgelei is in die identifikasie van slangbyte, bepaal dat die byt dié van ‘n Mosambiekse Spoegkobra was. Wat in die vrou se guns getel het, was dat die byt ‘n “reaksie” byt was. Dit, het Van Rooyen verduidelik, is wanneer ‘n slang jou byt om jou te waarsku dat hy daar is. Reaksie byte is gewoonlik minder gevaarlik, omdat die slang minder gif daarvoor gebruik. “As die vrou ‘n ‘volle’ byt gekry het, sou sy baie meer moeilikheid gehad het. Sy kon haar vinger of hand verloor het,” het Van Rooyen gesê. Die vrou is vir die aand opgeneem vir observasie en die volgende dag ontslaan. Sy het Dinsdag hierdie week weer teruggekeer werk toe.

“Ons is net dankbaar dit was nie meer ernstig nie,” het Hoffman gesê. Vir hom, soos vir baie ander, is die dood van bekende plaaslike sakeman Manny de Sousa (52) op 22 Januarie verlede jaar ná ‘n byt van ‘n Swart Mamba ‘n strak herinnering aan hoe vinnig dinge verkeerd kan gaan. Dit gesê, het Hoffman bygevoeg dat slangbyte baie ongewoon is. “Dit is die eerste slangbyt waarvan ek weet sedert my skoonpa Bertie le Roux in 1941 na die plaas gekom het,” het Hoffman gesê. Alhoewel slangbyte skaars is, het Hoffman gewaarsku om nie met slangbyte kanse te vat nie. “Die belangrikste ding is, sien ‘n slangbyt as ‘n veiligheidsoefening. Gaan eerder hospitaal toe en stap daar uit, as wat jy te laat gaan,” het Hoffman gesê.

Soos met die Mosambiekse Spoegkobra se byt, het Van Rooyen gesê dit wil voorkom asof die byte van die Bruin Huisslange ook reaksiebyte was. Volgens Van Rooyen skep die huidige bedompige en nat weer die perfekte toestande vir slange om meer aktief te wees en derhalwe ook die baie gevalle van slangbyte. “Die grond is nat en hulle gate vol water. Nie net is hulle op soek na kos nie, hulle is ook op soek na droë, warm skuiling. Die weer is deurmekaar en die slange skep terwyl hulle kan,” het Van Rooyen gesê.

Juis hierdie soeke na droë, warm skuiling bring slange tans al hoe meer in kontak met mense. “Sedert die begin van die jaar het ek en Frikkie seker al 20 slange by mense se huise gevang. In meeste gevalle was die slange in mense se buitegeboue of buitekamers,” het Van Rooyen gesê. Die verdeling van giftige en nie-giftige slange was so 50/50. Die giftige slange het ingesluit drie Swart Mambas, agt Wipneuskobras en ‘n paar Mosambiekse Spoegkobras. “Die luislange is veral aktief hierdie jaar. Ons het al ‘n hele paar van hulle gaan uithaal,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen het ook inwoners gewaarsku om versigtig te wees vir slange. “Moenie in die aand buite loop sonder ‘n flits nie.  Kyk waar jy loop. As jy gebyt word, en as jy kan, neem ‘n foto van die slang. Indien jy nie ‘n foto kan neem nie, kyk na die slang se lengte, kleur(e), vorm van die kop en kenmerke soos bande op die nek of lyne op die kop. Kyk ook na die slang se gedrag ná die byt,” het Van Rooyen gesê. Sy raad is ook om so vinnig moontlik mediese hulp te kry of kundige hulp in te roep. “Moenie die slang probeer vang of doodmaak nie, want daar is ‘n goeie kans dat jy weer gebyt gaan word,” het hy gesê.

Van Rooyen het weereens inwoners uitgenooi om hom te skakel vir enige slang-verwante navrae of hulp met ‘n probleem slang. Hy kan geskakel word by tel. 067 835 0816. Frikkie Venter kan geskakel word by tel. 082 058 7601.

 

 
 
 

Viewed: 1068

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT