ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hierdie pragtige foto van die Limpopo-rivier is geneem deur inwoner Sandra Boshoff van die plaas Ratho in die Alldays-omgewing.

Kalenderfotokompetisie vir streek se fotograwe

Date: 22 January 2022 By: Andries van Zyl

Die Zoutpansberger gaan vanjaar weer hulle baie gewilde kalenderfotokompetisie aanbied, maar anders as in vorige jare, kan die streek se amateur fotograwe nou reeds begin inskryf. Hulle hoef nie meer te wag tot aan die einde van die jaar nie.

Fotograwe sal tot en met die week van elke maand hulle foto’s vir daardie maand kan inskryf en ‘n wenfoto sal vir elk van die 12 maande gekies word. ‘n Maksimum van vyf foto’s per fotograaf per maand kan ingestuur word, maar fotograwe kan vir meer as een maand inskryf. Oudergewoonte soek ons na daardie spesiale foto wat die uniekheid van die Soutpansberg-streek uitbeeld, van unieke landmerke en besienswaardighede tot die natuurlewe. Die foto moet egter binne die afgelope 24 maande geneem gewees het en moet die fotograaf se eie werk wees. Die kompetisie vir Januarie sluit op die 31ste van hierdie maand.

‘n Prys van R600 sal vir elke maand se wenfoto betaal word. Elke maand se wenfoto sal in die laaste week van die maand gepubliseer word, tesame met ‘n paar ander goeie foto’s wat daardie maand ontvang is. Wat beoordeling betref, sal gekyk word na tegniese aspekte soos beligting, skerpheid en komposisie. Ten opsigte van die tegniese aspekte van fotografie kan aandag gegee word aan die volgende paar aspekte. Die beste tyd vir natuur- en wildlewefotografie is vroegoggend of laatmiddag. ‘n Sakkende of opkomende son maak die foto se kleure soveel ryker. Heelwat meer fotomoontlikhede bestaan dan ook, soos die neem van ‘n silhoeëtfoto. Ook baie belangrik om te onthou rakende natuur- en wildlewefotografie is om te pasop vir mensgemaakte strukture soos krag- en telefoonlyne, heiningdrade en mure in die foto. Neem eerder bietjie langer om die foto op te stel en dié strukture uit die foto te sny. Die twee-derdes reël kan ook help vir beter komposisie. In kort behels dit dat die fotograaf dit wat hy of sy in hul kamera se oogvinder sien, horisontaal en vertikaal in drie gelyke dele moet verdeel. Die foto mag dalk mooi wees, maar ‘n foto is selde regtig goed as die onderwerp presies in die middel van die raam is. Plaas eerder die onderwerp een of twee derdes na links of regs in die oogvinder. By mense en diere maak dit ook ‘n beter foto as die onderwerp in die foto inkyk as uit die foto kyk. In lae lig toestande, gebruik eerder ‘n langer sluiterspoed, maar gebruik dan eerder ‘n driepoot in sulke gevalle.

Slegs hoë-resolusie digitale foto’s (verkieslik landskap-formaat) sal aanvaar word. Die foto’s kan in hoë resolusie per e-pos gestuur word, of op CD of geheuestokkie ingehandig word by die kantore van die Zoutpansberger te Joubertstraat 16B in Louis Trichardt. Elke inskrywing moet vergesel wees van die fotograaf se naam, kontakbesonderhede, waar die foto geneem is en met watter kamera dit geneem is.

Die 12 wenfoto’s sal aan die einde van die jaar in ‘n groot-formaat muurkalender vir 2023 saamgevat word. Die kalender sal dan onder meer deur die Zoutpansberger  gebruik word vir bemarkingsdoeleindes.

Vir meer inligting oor die kompetisie, skakel Andries by tel. 082 603 2419 of 015 516 4997 (tydens kantoorure). Hoë-resolusie foto’s kan ook aan hom gestuur word per e-pos na [email protected].

 

 

 

 
 
 

Viewed: 805

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT