ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle me. Vos de Preez (82). Foto verskaf.

Familie en vriende neem hartseer afskeid van tannie Vos

Date: 14 January 2022 By: Pétria de Vaal

Familie en bekendes van Louis Trichardt het met hartseer afskeid geneem van Vos du Preez - alombekende noemnaam van Johanna Adriana (gebore Grobler) - wat op 29 Desember 2021 oorlede is.

“My ma is op 8 Julie 1939 in die Mara-distrik op die plaas Spitskop gebore. Haar hare was rooibruin toe sy ‘n kind was en vandaar haar noemnaam. Sy was die tweede jongste van agt kinders. Van hulle almal is sy die laaste wat oorlede is. Sy het op Mara en later in Louis Trichardt skoolgegaan,” sê Elsabé Potgieter, Vos se dogter.

Vos het onder meer by Binnelandse Sake en Truworths gewerk. “Gedurende haar laaste jare was sy my pa se regter- en linkerhand by Noordstaal BK. Die besigheid was hulle twee se droomkind,” sê Elsabé. 

Sy vertel dat hulle ma en pa mekaar geken het omdat hulle in dieselfde distrik grootgeword het, maar hul liefde vir mekaar het eers in 1959 begin blom terwyl albei in Germiston gewoon en gewerk het. Hulle is op 1 Oktober 1960 in Louis Trichardt getroud.  “Dad was die liefde van haar lewe.”

“Moeks se prioriteite was haar Hemelse Vader, haar man, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Sy het vir haar familie gelewe. Sy was ook ‘n bobaas-kok, ‘n raakvatter soos min. Sy het die mooiste handsakke en teddiebere gebrei. Sy het ‘n oop hand gehad vir almal en gehelp waar sy kon. Niks was ooit te veel moeite vir haar nie,” sê Elsabé.

Vos het vrou-alleen haar man, Dirk, versorg en bygestaan tydens ‘n bitter moeilik tyd vanaf sy ongeluk op 19 Jan 2018. Tot en met haar afsterwe was sy aan sy sy.

“ ‘Moederafie’ was my vriendin (ek het niks sonder haar gedoen nie). My raadgewer, luisteraar en gebedsmaat. Die voorbeeld wat sy gestel het, sal ek probeer handhaaf en uitleef sover dit moontlik is (want haar standaard was baie hoog). Haar gunsteling sêding was ‘Jou vuil uil’ - veral as die seuns haar siel so kon uittrek. Sy het die mooiste glimlag gehad wat altyd op haar gesig was – wat ook al die omstandighede,” sê Elsabé.   

Die familie is dit eens dat sy altyd deur ‘n ring getrek kon word - of sy nou alleen by die huis was of dorp toe gegaan het. Haar horlosie, skoene en handsak het altyd bymekaar gepas.  “Sy was ‘n juweel van ‘n vrou,” sê Vos se seun, Dirk du Preez.

Elsabé noem met groot dankbaarheid dat hulle ma se beste vriendin Adda Joubert was. “Hulle het elke Vrydag gaan uiteet, wat die hoogtepunt van haar week was. Dankie, Tannie, dat jy altyd daar was vir mamma - geluister het en raad gegee het, haar hand gevat het en die pad saam met haar geloop het.”

Wyle Vos laat haar man Dirk (snr.), kinders Elsabé Potgieter, Dirk (jnr.), skoondogter Lianie, kleinkinders Franswa, Rochelle en Ruan Scheepers, DJ en Christian Du Preez, asook agterkleinkinders Francois en Jolinke Scheepers agter.

Die familie wil graag die volgende persone en instansies bedank: George en Ria (Nenna) van Zyl, Marnus en Florince du Plessis,  André en Griet Weideman,  Hannes Benade en Ben (LTT Bolt & Nut) wat dadelik hul bystand aangebied het toe ons op hul knoppie gedruk het; Mosaiëk vir die waardige wyse waarmee sy hanteer is; die VEK kerk, Louis Trichardt en Phuluso Ambulansdienste.

 
 
 

Viewed: 1536

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT