ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Frans kon dikwels gesien word in die dorp waar hy die onwettige plakkate afhaal wat aborsies en ander bedenklike praktyke adverteer. Hy het geglo dat die onwettige bedrywe baie jong vrouens se lewens in gevaar stel. (Foto: Isabel Venter - 2016)

Oom Frans oorlede

Date: 30 December 2021 By: Anton van Zyl

Frans van der Merwe (83), ‘n persoon waarna dikwels verwys is as die Soutpansberg se eie “Moeder Theresa”, is vroeg Donderdagoggend oorlede.

Oom Frans, soos hy alombekend gestaan het, het tot en met sy afsterwe ‘n groot deel van sy lewe daaraan gewy om vir diegene in nood te probeer voorsien. Hy het geen onderskeid gemaak oor wie hulp nodig het nie en het deur dekades veral jongmense wat om een of ander rede op straat beland het, probeer help.

Oom Frans is verlede week in die plaaslike hospitaal opgeneem met Covid-verwante simptome. Hy is na Elim hospitaal oorgeplaas waar hy in die Covid-afdeling versorg is. Sy toestand het egter nie verbeter nie en hy is vroeg Donderdagoggend (30 Desember) oorlede.

Francis van der Merwe is op 20 Maart 1938 gebore en het op Louis Trichardt grootgeword. Sy vader was Phil van der Merwe, wat veral bekend was vir sy diens as skoolhoof in die 1940s by Mara Buysdorp en in die jare 60s by die toendertydse Indiërskool (tans Eltivillas skool).

Frans het sy moeder se name geërf, wat ook Francis geheet het. Sy was net so ‘n besonderse persoon wat onder meer in die 1930s die eerste bundel sangspele en dansspele vir kinders in Afrikaans laat verskyn het. Tydens die jare op Buysdorp het sy verskeie artikels oor hierdie gemeenskap se taal, gebruike en kultuur geskryf vir die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal, wat aan die Universiteit van die Witwatersrand uitgegee. In een van die bydraes het sy die bykans vergete ou Voortrekkermelodie van die bekende gesang "Op berge en in dale" aangeteken, soos dit tot vandag nog deur die Buyse gesing word.

Frans was deel van vyf kinders. Twee van hulle, sy broer Roelof en suster Annelie, leef nog. Hyself het nooit getrou nie.

Sy eerste kennismaking met die wêreld van joernalistiek was waarskynlik in die vroeë vyftigerjare. Sy pa het vir ‘n kort wyle ‘n A4-grootte koerantjie onder die naam “Zoutpansberger” uitgebring. Die koerant was gevul met nuus wat gewissel het van aardskokke by “Chipise” tot huwelikke en geboortes.

In die 1960s het die jong Frans ‘n tyd lank in Windhoek gewoon waar hy onder meer een van die eerste koerante vir gekleurde en swart inwoners gestig en bedryf het.

Hy het in die jare 90s na die Soutpansberg teruggekeer en onder meer vir die destydse Noord-Transvaler as joernalis gewerk. In die jare na 2000 het hy as vryskutskrywer menige artikels vir die Zoutpansberger (wat in 1985 weer begin is) gelewer.

Oom Frans sal egter veral onthou word vir sy deernis. Deur die jare het hy die streek se straatkinders probeer help en het tientalle van hulle probeer ondersteun en sover kry om hul studies te voltooi. Hy het dikwels ten koste van homself huisvesting aan diegene gebied wat om een of ander rede haweloos was. Hy het ook nie onderskei tussen kleur, geloof of herkoms nie.

Geen begrafnisreëlings is tans bekend nie.

 

 
 
 

Viewed: 2150

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Oom Frans van der Merwe (83).

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT