ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 64-jarige Jimmy Moodie is gelukkig om te leef ná 'n inbreker hom met 'n mes gesteek het.

Jimmy oorleef messteek

Date: 18 December 2021 By: Andries van Zyl

Die welbekende Jimmy Moodie (64) van Louis Trichardt erken self hy is gelukkig om te leef, nadat hy Sondagaand met ‘n mes in die bo-been gesteek is deur ‘n inbreker wat by sy buurman in Burgerstraat ingebreek het.

Jimmy en sy vrou Suzette het Dinsdag vertel hoe hulle Sondag by vriende gekuier het. Ná hulle terugkoms by die huis moes Jimmy gou na ‘n elektriese probleem by Hoërskool Louis Trichardt gaan kyk. Net ná 19:00 was hy terug by die huis en besig om sy gereedskap in sy motorhuis af te laai. Skielik het hy gehoor hoe sy honde tekere gaan teen die heining met sy buurman. Hy het uitgestap om ondersoek in te stel.

“Ek het gedog dit is ‘n nagaap, want die honde het al ‘n paar keer in die aande tekere gegaan oor hulle,” het Jimmy gesê.

Jimmy-hulle kyk gereeld na hulle bure se huis as hulle uitstedig is. Hy het besef dat iets fout was.  “Ek het nader gehardloop en oor die heining gespring na hulle [die bure se] kant toe. Ek kon hoor die honde is erg ongelukkig, so asof hulle iets vasgekeer het,” het Jimmy gesê.

Met dié wat Jimmy om die agterste hoek van sy bure se huis loop, loop hy homself vas in nie ‘n nagapie nie, maar wel ‘n inbreker. In daardie stadium het die inbreker reeds ‘n klip deur een van die kamervensters gegooi en ‘n paar sakke gesteelde goedere het buite gestaan.

“Toe hy my sien, het hy om die hoek, in so ‘n gangetjie, na die voorkant van die huis gehardloop. Ek besluit toe f*k dit en ek is agter hom aan. Toe ek so om die hoek hardloop, toe steek hy my. Hy het net om die hoek op sy hurke gaan sit en vir my gewag,” het Jimmy gesê.

Die inbreker het Jimmy in die linkerbobeen gesteek. Die steekwond self is klein, maar die wond is diep - tot teenaan die heupbeen. Die inbreker het toe opgespring en oor die heining aan die agterkant van Jimmy se bure se huis verdwyn.

“Ek kon nie hardloop nie, want ek kon nie regtig trap nie ... ek het dit so huppel, huppel gemaak tot by die klein hekkie in die heining tussen ons [Jimmy en sy bure] en vir my seun [Duncan] geroep om my te kom help. Ek het vir hom gesê hy moet vir sy ma [Suzette] sê om die polisie bel,” het Jimmy gesê.

“Hy het net geskreeu: ‘Ma, bel die polisie!’” onthou Suzette.

Volgens Suzette het niemand by die polisiestasie egter geantwoord nie. Sy het toe ‘n vriend van hulle en lid van die Soutpansberg Dorpswag gebel. “Ek het vir hom gesê hulle moet kom, hier is groot moeilikheid,” het Suzette gesê.

Binne minute was lede van die dorpswag by Jimmy se huis. In daardie stadium het Suzette nog nie eers geweet dat haar man gesteek is nie. ‘n Lid van die dorpswag het haar dit meegedeel, maar gesê dat Jimmy oraait is. “Elke keer as ek na Jimmy toe wou gaan, het Duncan gesê: ‘Ma, bly hier’ [in die huis],” het Suzette gesê.

Met die adrenalien wat nog gepomp het het Jimmy vir die dorpswaglede gaan wys waar die verdagte oor die heining gespring het na ‘n bouvallige ou huis in Krugerstraat, reg agter die huis waar hy pas ingebreek het.

“Ek kan een ding vir jou sê: Ons buurtwag is champion! Dit was soos mes, toe was hulle hierso!” het Suzette gesê.

Jimmy het saam met ‘n ander lid van die dorpswag omgery na die huis in Krugerstraat waarheen die verdagte gevlug het. “Jy kon hoor daar was ‘n groot rumoer by daardie huis. Toe ons daar stop, was daar nog meer dorpswaglede as wat ek gedink het. Daar het seker 10 voertuie gestaan! Die polisie was ook toe daar,” het Jimmy gesê.

Uiteindelik het die dorpswag en polisie vier verdagtes uit die bouvallige huis gehaal waar hulle geskuil het, insluitend die man wat na bewering vir Jimmy gesteek het en die mes wat hy gebruik het. Jimmy het hom op die toneel uitgeken. Een van die vier verdagtes het blykbaar in die dak van die huis geskuil, waar die polisie ook op gesteelde koperdraad afgekom het.

“Die buurtwag was briljant gewees! Hulle het so vinnig reageer,” het Jimmy gesê. Hy sou eers nadat al die drama bietjie bedaar het, hospitaal toe gaan vir mediese behandeling van sy steekwond. Die wond is ontsmet en Jimmy moes steke kry, asook ‘n klem-in-die-kaak inspuiting. “ ‘n Paar mense het vir my gesê ek was gelukkig dat die man nie my slagaar in die been raak gesteek het nie,” het Jimmy gesê.

Hierdie is nie die eerste keer dat Jimmy se ontmoeting met ‘n krimineel in geweld eindig nie. Van die ouer inwoners sal onthou hoe Jimmy so ‘n hele paar jaar gelede, terwyl hy werksaam was by die plaaslike munisipaliteit, ‘n man gevang het wat koperdraad vanuit die munisipale stoor wou steel. 'n Hewige worsteling het tussen die verdagte en Jimmy ontstaan. Die booswig het hom egter lelik misreken, aangesien Jimmy 'n voormalige nasionale liggewig bokskampioen is. Kollegas van Jimmy het hom later te hulp gesnel en gehelp om die vuisvoos verdagte te arresteer. Jimmy sou eers later uitvind dat die verdagte een van die streek se mees gesoekte moordenaars, Thomas Muleya, was wat die bynaam Lucky 120 gehad het omdat hy geweldig vinnig kon hardloop. Muleya sou in Februarie 2003 deur die hof op Louis Trichardt tot 169 jaar gevangenisstraf gevonnis word vir ‘n string moorde en rooftogte in die Soutpansberg-omgewing.

Suzette is dankbaar dat Jimmy die messteek oorleef het, maar is ook redelik kwaad vir hom. “Die man kon hom in die nek gesteek het. Ek en Duncan het nie eers geweet hy is langsaan toe nie. Hy kon doodgebloei het voordat ons hom sou kry. Ek was nogal kwaad vir hom daaroor gewees. Ek het vir hom gesê as hy weer na iets langsaan wil gaan kyk, moet hy ons sê,” het Suzette gesê.

Jimmy self erken dat sy optrede dalk bietjie roekeloos was, maar sê dat mens nie altyd nugter kan dink is so ‘n situasie nie. Alles gebeur so vinnig. “Ek is net bly ek kon hulle vang,” het Jimmy gesê.

Jimmy inwoners vermaan om beide paraat maar ook versigtig te wees, veral oor die Kersseisoen. Tradisioneel is kriminele meer aktief oor die Kersseisoen omdat hulle weet ‘n mens is meer gemaklik en minder paraat. “Jy moet hulle dophou. Hulle sit op straathoeke en hou jou huis dop. Hulle sien wie ry in en wie ry uit en hoe lank bly jy uit,” het Jimmy gesê.

Die verdagte wat vir Jimmy in die been gesteek het, die 18-jarige Wyne Rushike, het Dinsdag in die hof hier verskyn op klagte van inbraak met die opset om te steel en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 24 Januarie 2022.

 

 
 
 

Viewed: 2406

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT