ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 47-jarige Jannie Bouwer, kort nadat hy in die Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem is nadat die staalplaat in sy kop ‘n abses begin vorm het. Foto verskaf.

Jannie dalk die naweek weer tuis

Date: 03 December 2021 By: Andries van Zyl

Ouers Jan en Anita Bouwer van Louis Trichardt het vanjaar ‘n vroeë Kersgeskenk ontvang met die nuus dat hulle seun Jannie dalk al hierdie week uit die hospitaal ontslaan kan word.

Sewe-en-twintig jaar gelede, in Julie 1994, het inwoners saam met Jan en Anita gebid vir Jannie se spoedige herstel ná ‘n ernstige motorongeluk. Die voertuig waarin Jannie ‘n passasier was het teen ‘n stilstaande vragmotor vasgejaag by die Levubu-pad/N1-kruising. Met die impak het die voertuig se enjinkap deur die voertuig se windskerm teruggedruk en Jannie teen die kop getref. Hy is met ‘n groot, gapende kopwond na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorgeplaas en almal het die ergste verwag.

 “Hulle het hom destyds met die ongeluk drie dae gegee om te leef. Toe sê hulle sewe dae en daarna het hulle vir ons gesê dat Jannie ‘n ‘koolkop’ gaan wees,” het ma Anita Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Maar Jannie het almal verkeerd bewys en merkwaardig goed herstel, tot so ‘n mate dat hy ‘n redelik normale lewe kon geniet, ten spyte van sy breinbesering. Sy pad na herstel het ingesluit ‘n staalplaat van sowat twee by tien sentimeter wat oor die gat in sy skedel ingeplant moes word. Dieselfde staalplaat, wat aanvanklik gehelp het om sy lewe te red, sou egter die afgelope week vir Jannie terugbesorg in die hospitaal.

“Dinsdagmiddag [23 November] toe ek in sy kamer kom, toe sien ek hier waar sy wond is, is sy hele gesig geswel. Ons kon sommer sien hier is nou fout,” het Anita gesê. Die ouerpaar het vroeg die volgende oggend [24 November] vir Jannie dokter toe geneem. “Die dokter het hom een kyk gegee en gesê ons moet dadelik vir Jannie by die neurochirurg in Pretoria kry,” het Anita vertel.

Dieselfde dag nog het Anita en Jan vir Jannie deurgevat na Pretoria, waar hy Donderdag in die Unitas Hospitaal opgeneem is. ‘n Klomp toetse is gedoen en medici het vir Anita en Jan gesê hulle vermoed dat ‘n abses onder die staalplaat ontwikkel het, want Jannie se liggaam is nou besig om die plaat te verwerp. ‘n CT-skandering het die prognose bevestig. “Die dokter het vir ons gesê hy sal vir Jannie teater toe moet vat om te kyk. As die abses oppervlakkig was, sou dit nie gepla het nie, maar as dit die plaat is, sal hy dit moet uithaal,” het Anita vertel.

Anita en Jan het gesê dit was toe dat hulle sou uitvind dat die plaat in Jannie se kop, soos baie ander dinge in die lewe, ‘n “vervaldatum” het. “Ons het dit nooit geweet nie, maar die dokter het vir ons gesê daardie goed hou net so 10 tot 15 jaar. Jannie s’n het nou 26 jaar gehou,” het Anita gesê.

Jannie is teater toe. “Hy [die dokter] het gesê toe hy die plaat oopmaak, toe loop die etter sommer so uit!” het Anita vertel.

Die dokters kon egter weens die abses nie dadelik op Jannie opereer nie. “Hulle het net die wond gespoel met antibiotika en dit weer toegemaak. Die dokter het gesê hy kan nie nou dadelik weer ‘n plaat insit nie, want die wond moet nou eers goed dreineer en skoon wees. Eers oor so ses weke tot drie maande kan hulle weer vir hom ‘n plaat insit,” het Anita gesê.

Beide Jannie en sy ouers het ‘n paar benoude oomblikke gehad die afgelope week. “Toe ons Sondag daar kom, het hy vir ons baie sleg gelyk. Sy oë was sommer so pap en dit het sommer so gehang. Hy het vir ons gesê hy is naar en ons het baie bekommerd begin word,” het Anita gesê.

Maar weer het Jannie aanhou veg en sy toestand het dramaties verbeter. Toe sy ouers Maandag by hom kom, het hy penregop in sy bed gesit. “Hy het vir ons gesê hy wil huis toe gaan,” het Anita gesê. Volgens haar kan Jannie dalk al teen die naweek ontslaan word. “Van Maandag af is hy weer soos ons hom ken, maar die voorafgaande dae was hy baie siek gewees. Hy was seker hy is besig om dood te gaan … maar hy maak darem nou weer grappies,” het Anita gesê.

Anita-hulle het almal bedank vir hulle gebede. “Daar is soveel mense wat ons ken wat vir ons gebid het, maar daar is ook baie wat ons nie ken nie. Graag wil ons vir hulle almal baie dankie sê en almal laat weet dit gaan goed met Jannie,” het die egpaar gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1552

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT