ADVERTISEMENT:

 

 
 

Rakende koste is tydens verlede week se vergadering gehoor dat die aanvanklike regskoste om net die munisipaliteit se briewe aan klubs te beantwoord sowat R30 000 gaan beloop. Generiese foto.

Die wet van Transvaal...

Date: 30 October 2021 By: Andries van Zyl

Die wet van Transvaal is k@# en betaal! Iets wat weliswaar weereens die geval is vir sportklubs in Louis Trichardt wat gebruik maak van munisipale infrastruktuur. Die Makhado Munisipaliteit het vroeër vanjaar besluit om die rassekaart te speel en het briewe aan 11 geaffekteerde klubs gestuur, waarin die klubs in kennis gestel word dat hulle 99-jaar huurkontrakte met die munisipaliteite opgeskort gaan word.

Die besluit is amptelik deur die Stadsraad geneem tydens hulle 159ste virtuele spesiale raadsvergadering in Mei vanjaar. As rede vir die besluit om die kontrakte eensydig te kanselleer voer die Raad aan dat die klubs uitsluitlik vir “wit” mense voorsiening maak en nie toeganklik is vir die ander rassegroepe in die woongebiede om die dorp nie. Die 11 klubs sluit in die  Soutpansberg Gholfklub, die Louis Trichardt Rugbyklub, die Soutpansberg Muurbalklub, die Louis Trichardt Stoeiklub (en ander klubs wat gebruik maak van die stoei- en gimnastieksaal), die Louis Trichardt Rolbalklub, die Soutpansberg Atletiekklub, die Soutpan Jukskeiklub en die posduifklubs.

Van meet af aan het die onderskeie klubs aangedui dat hulle dié besluit gaan beveg. Louis Trichardt prokureur Suwil Rudolph wat homself beskikbaar gestel het om die saak, teen minimale vergoeding, namens die gemeenskap te dryf. So ook het adv. Piet van Niekerk van Pretoria sy hulp teen ‘n verminderde bedrag aangebied.

Op Woensdag, 20 Oktober, het  adv. Van Niekerk en adv. Stephanie Green met verteenwoordigers van die onderskeie klubs op Louis Trichardt vergader om die pad vorentoe te bespreek, aangesien hierdie saak  duidelik op pad is Hooggeregshof toe.

“Daar is besluit om die briewe van die munisipaliteit te beantwoord en te wag dat hulle met uitsettingsaansoeke kom. Enige poging om klubs af te sit sonder ‘n hofbevel sal met interdikte begroet word,” het Rudolph ná die vergadering gesê.

Rudolph het die proses verduidelik. “Ons gaan vir hulle sê dat ons nie die beëindiging van die ooreenkomste aanvaar nie en ook ‘n klomp vrae aan hul stel aangaande hul planne met die klubs, of dit strook met die regering se Witskrif [oor sportontwikkeling] en of hulle finansieel kan bekostig om die klubs te onderhou. Ook sê ons dat ons nie die klubs sal ontruim sonder ‘n hofbevel nie … Kortom, ons trek nie tensy ‘n hof so beveel nie … Ja, soos dit maar gaan, kan hulle mors met ons geld,” het Rudolph gesê.

Wat sy opmerking “mors met ons geld” betref, het Rudolph verwys na belastingbetalers se geld wat deur die munisipaliteit gebruik word om die klubs te beveg. In teenstelling hiermee moet klubs uit eie sak die munisipaliteit teenstaan.

Rakende koste is tydens verlede week se vergadering gehoor dat die aanvanklike regskoste om net die munisipaliteit se briewe aan klubs te beantwoord sowat R30 000 gaan beloop. Hierdie briewe moet voor die einde van November aan die munisipaliteit gestuur word. Die klubs is dus almal versoek om dringend met hulle lede te vergader, sodat hul lede vir hulle ‘n mandaat kan gee om met die regsaksie voort te gaan. Klubs is ook gevra om aan te dui of hulle gewillig sal wees om hulle huurbedrag met die munisipaliteit te heronderhandel, sou dit moontlik ‘n opsie wees.

Elke klub se “bydrae” tot die regskoste sal bepaal word deur hulle ledetal. So byvoorbeeld sal die gholfklub die meeste moet bydra, teenoor klubs met kleiner ledetalle. Met regskostes wat dreig om oor die langtermyn honderde duisende rande te beloop, is die klubs met reg ongelukkig hieroor.

“Ons voel ongelukkig daaroor en dink dis onregverdig,” het Ryno Gerber, klubkaptein van die Soutpansberg Gholfklub, gesê. Grant Phillipson, ondervoorsitter van die Louis Trichardt Krieketklub, het ook gesê die besluit is onregverdig en meen die individue in die munisipaliteit wat die saak dryf, moet vir die regskoste aanspreeklik gehou word, want volgens hom betaal hulle nou “twee keer”. “Maar wat anders kan jy doen? Jy kan dit nie los en niks daaroor doen nie … Dit wys net weer hulle [die munisipaliteit] het geen probleem om geld te mors nie,” het Phillipson gesê.

Volgens Ronel Welman, voorsitter van die Soutpansberg Muurbalklub, kan die hele situasie net as hartseer beskou word. “Dit is hartseer dat klubfondse wat deur lede betaal word om netjiese, skoon fasiliteite te kan gebruik, nou gebruik moet word om 'n saak te beveg – ‘n saak wat duisende rande gaan kos - en daar geen waarborg is dat die munisipaliteit nie net sal voortgaan en die bestaande klubs ook ten gronde sal laat gaan nie,” het Welman gesê.

Alhoewel hulle een van die heelwat kleiner klubs is, was die klubpresident van die Louis Trichardt Rolbalklub, Carel Volschenk, veral baie uitgesproke oor die munisipaliteit se voorneme. “Dit is een van die werklikhede in ons land. As jy dit wat jy opgebou het wil beskerm, moet jy dit maar uit jou eie sak uit doen en in die howe gaan baklei, terwyl hulle [die munisipaliteit] die voordeel het om met ons belastinggeld met ons te maak wat hulle wil. Dit is hartseer, maar dit is ‘n realiteit. Ons sit met ‘n regering wat Witskrifte uitvaardig, en sover my kennis strek behoort die munisipaliteit ook ‘n Witskrif te hê rondom sportontwikkeling en die instandhouding van fasiliteite vir die gemeenskap. Maar, soos ons almal weet, word die rassekaart gespeel, terwyl ons klubs almal oop is vir enige een wat belangstel om deel te neem aan die klub,” het Volschenk gesê.

Volgens Volschenk moet die munisipaliteit sekere realiteite in gedagte hou. “Die klubhuis en die sportvelde moet in stand gehou word. Dit moet netjies wees, maar dit kos geld en dit kom uit die lede se sakke uit. Hulle [die munisipaliteit] wil alles hê, maar hulle wil nie bydra tot ontwikkeling nie. Nou moet die klublede, wat bloot hulle sport wil beoefen, weereens hulle hande in hulle sakke druk en geld uithaal om hierdie saak te beveg. Die ironie van die saak is, die eiendom behoort aan die munisipaliteit, maar dit word in stand gehou deur die klublede self, sonder ‘n sent bydrae vanaf die munisipaliteit … hierdie sien ek as ‘n rassekaart wat gespeel word voor die verkiesing en dit word misbruik deur die politici,” het Volschenk gesê.

Volschenk het as voorbeeld verwys na die haglike toestand van die twee munisipale swembaddens in die dorp, die een langs die Louis Trichardt Tennisklub en die een in Eltivillas, asook die sokkerveld langs laasgenoemde swembad. “As jy sien in watter toestand daardie goed is, dan wonder ek net hoe trots die munisipaliteit is oor hoe dit lyk? Ek praat nou van die munisipale bestuurder en burgemeester. Is dit wat hulle daar bereik het wat hulle wil hê vir al die sportklubs in die dorp? Moet alles so lyk?” het Volschenk gesê.

Nog ‘n sprekende voorbeeld van ‘n eens trotse klub met ‘n klubhuis is die munisipaliteit se Sosiale Klub, aangrensend tot die Louis Trichardt Krieketklub in Rissikstraat. Die Sosiale Klub het onder die munisipaliteit se beheer etlike jare gelede afgebrand. Vandag staan nog net ‘n murasie van die gebou. In kontras hiermee word die Louis Trichardt Krieketklub se velde en infrastruktuur reg langsaan uitsonderlik onderhou – uit klublede se eie sakke.

 
 
 

Viewed: 1232

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT