ADVERTISEMENT:

 

 
 

Water stroom in die sloot af wat vir die kabel gegrawe is, nadat die tru-grawer-operateur die hoof waterpyp stukkend gesteek het. Hy het ook die waterpype na vyf wonings oorkant die pad afgeruk en dit net so gelos. Hierdie vyf wonings was teen Woensdag hierdie week al amper twee weke sonder water. Foto verskaf.

Straat sonder water ná werker waterpype afruk

Date: 28 October 2021 By: Andries van Zyl

Hoe gebeur dit dat ‘n munisipaliteit vyf wonings/besighede se watertoevoer per ongeluk kan afsny terwyl hulle besig is om ‘n sloot te grawe en nie daarvan weet nie? Dit is nou buiten die feit dat water in die sloot uitgestroom het.

Hierdie is die vraag wat inwoners van vyf wonings (wat insluit besigheidspersele) in Celliersstraat, Louis Trichardt, tussen Erasmus- en Joubertstraat, hulself afvra. Sowat twee weke gelede het die Makhado Munisipaliteit klaarblyklik ‘n sloot oorkant die pad van hulle, aan Laerskool Louis Trichardt se kant, gegrawe vir die lê/herstel van ‘n kragkabel. In die proses het die tru-grawer-operateur ernstige skade veroorsaak.

“Eerstens het hulle my kragkabel afgeruk. Toe was ons 24 uur sonder krag,” het plaaslike tandarts dr. Michiel Roos Dinsdag gesê.

Die krag was egter net die een probleem wat veroorsaak is. Tweedens was inwoners van die straat se krane droog sedert die sloot gegrawe is. Hulle het egter gedink dit was maar vanweë die dorp se kroniese watertekort. “Ons het eers gedink dit is almal in die straat, toe hoor ons dit is net ons water wat af is. Toe kom ons agter, twee weke later, dat die rede hoekom ons nie water kry nie, is omdat hulle almal in die straat se waterpype na hul huise met die tru-grawer afgeruk het en nie reggemaak het nie. Hulle het ook ‘n gat gesteek in die hooflyn, waar die water nou al vir twee weke uitloop,” het Roos gesê.

Tot en met Dinsdag, het Roos gesê, is nog geen poging aangewend om die watertoevoer na die vyf wonings te herstel nie. “Ons het vandag [Dinsdag] die munisipaliteit gebel en iemand het uitgekom,” het Roos gesê.

Roos sê hy kan nie verstaan hoe niemand kon weet van die probleem nie en hoe niemand iets daaraan kom doen het nie. “Die sloot lê nou al vir twee weke oop. Niemand kan aan daardie kant by die skool parkeer nie en die kinders moet in die straat afgelaai word,” het Roos gesê.

Die feit dat so ‘n groot fout nie aandag ontvang het nie, maak Roos veral ongelukkig. “Toe ek die ou [van die munisipaliteit] vra wat Dinsdag uitgekom of hy dit gaan regmaak, het hy gesê hy maak dit nie reg nie, hy gaan dit net rapporteer. Maar die feit is, as ons dit nie gerapporteer het nie, sou daar niks van gekom het nie. Dit maak my woedend! Hoekom moet ék dit rapporteer as ‘n munisipale tru-grawer vyf huise se water afsny en die hoofpyp stukkend steek?” wou Roos weet.

Navrae oor die voorval is aan munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoering ontvang nie. Klaarblyklik is hierdie weer ‘n geval van niemand weet wie nou eintlik verantwoordelik is daarvoor om die skade reg te maak nie. Alhoewel die skade klaarblyklik deur ‘n werknemer van die Makhado Munisipaliteit veroorsaak is, val waterprobleme onder die beheer van die Vhembe Distriksmunisipaliteit en terwyl hulle nog besluit wie die skade gaan herstel, was wonings in die straat Woensdag steeds sonder water.

 

 
 
 

Viewed: 970

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT