ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Ria van Biljon (81). Foto verskaf.

Louis Trichardt se geliefde ‘tandarts-tannie’ oorlede

Date: 22 October 2021 By: Pétria de Vaal

‘n Hartseer familie neem afskeid van Ria van Biljon (81), wat op Sondag, 17 Oktober, by Ons Tuiste in Louis Trichardt aan natuurlike oorsake oorlede is.

Maria Aletta (née Geldenhuys) is op 24 Maart 1940 in die  Wakkerstroom-distrik gebore en het skoolgegaan by die Marthinus Wesselskool in Wakkerstroom.  

“Ria was die vyfde van agt kinders. Sy het haar verpleegopleiding in Germiston ontvang. Sy het my pa, Frik van Biljon, deur haar broers ontmoet. My pa en sy ouer broer Pieter het saam met my ma se broers Ouboet en Jan by die destydse YSKOR gewerk,” sê Ria se dogter, Leanda le Cornu.

Leanda voeg by dat hulle op 10 Junie 1961 in die Ermelo-Oos Kerk getroud is, waarna hulle hulle in Louis Trichardt gevestig het. “Hulle eerste tuiste was in die toe nuut-geboude Alpha woonstelle en my ma het by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal begin werk. Gedurende 1963  het sy by die tandarts, dr. Stegmann, in die kantoor begin werk en toe later vir dokters Klopper, Bosman en Stoop, tot Augustus 2001. Sy was alombekend as die ‘tandarts-tannie’,” sê Leanda. Sedert 1 November 2014 was Ria woonagtig in Ons Tuiste.

Huldeblyke stroom van oral in. Sy word beskryf as ‘n sterk, vriendelike vrou wat haar merk gemaak het in Louis Trichardt – ‘n omgee-mens. Anita Benadé onthou: “Ek het só lank haar hare gesny en sy het my altyd op my verjaardag gebel. Praat nie eers van al die kalmeerpilletjies wat ek by die tandarts gekry het nie!”

“My ma het gebrei, gehekel en baie van lees gehou - ons kinders kan haar vetkoek en beskuit onthou, en pannekoek as dit gereën het. My ma was ook mal oor die wildtuin en oor krieket kyk!” sê Leanda.

Ria word oorleef deur haar ouer broer Jan Geldenhuys (83) jonger suster Dorothy Erasmus (75), broer Victor Geldenhuys (69), kinders John en Leanda Le Cornu, Willem en Erika van Biljon, Naomi en Grant Phillipson – kleinkinders Vinita en Ulrich Pelser, JP Terblanche en Bernadine van Biljon, asook Frederick en Willem-John Phillipson.

‘n Roudiens vir Ria vind plaas op Saterdag, 23 Oktober, om 11:00 in die Hervormde Kerk, Louis Trichardt.

 

 
 
 

Viewed: 1657

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT