ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Ted Uys (96) met sy nuutste  boek "Die Lewe is ...?"

Op 96 skryf Oom Ted nog ‘n boek

Date: 17 October 2021 By: Anton van Zyl

Oom Ted Uys het verlede week ‘n vinnige draai by die Zoutpansberger se kantore gemaak, net om te sê dat hy ‘n nuwe boek gepubliseer het. Hierdie is sy tweede boek in die bestek van drie jaar. So terloops het hy gemeld dat hy vroeër die week verjaar het - sy 96ste verjaardag.

Maar Oom Ted het ongelukkig nie ‘n kopié van die nuwe boek saamgebring nie. Hy het my egter uitgenooi om ‘n draai op die plaas te maak, sou ons iets wou skryf en ‘n foto wou neem. Ek het saam na buite gestap en trots beduie hy toe na sy motor, ‘n wit Hyundai Elantra. “Die motor mag dalk oud wees, maar dit is so betroubaar en gerieflik,” sê Oom Ted. Hy stap sonder ‘n kierie en het nie nodig om ‘n bril te dra nie. Hy moet een van die oudste bestuurders in die land wees, dag ek.

Die Uys-plaas is nie ver uit die dorp nie en hier woon Oom Ted en sy lewensmaat vir die afgelope klompie jare, tannie Martie Rossouw. Die tuin spog met besonderse blomme, veral die veelkleurige amarillis en die besonderse malva-plante. Die tuin moet afgespan word, want ‘n baldadige blouwildebeeskalf het sy intrek op die werf geneem. Dié “weeskindjie” het ‘n liefde ontwikkel vir sekere van die blomme en nou moet alles toegemaak word. Om die twee ouer mense verder te frustreer, het hase begin om hulle groentetuin te verslind. Maar die stryd teen die natuur hou hulle aan die gang.

Ons gesels verder rondom ‘n stewige eetkamertafel, gemaak uit ‘n donker hout, soortgelyk aan dié wat gebruik is vir spoorwegdwarslêers. “Ek het die tafel gemaak toe ek 85 jaar oud was. Dit was die laaste van my houtwerkprojekte,” sê oom Ted. Die tafelpote is enorm en ek kan my net indink hoe moeilik dit moes wees om dit op ‘n draaibank te vorm.

Ná die tafel voltooi is, vertel oom Ted, het hy al sy houtwerktoerusting weggegee. Hy het begin om af te skaal en hom toegespits op sy beesstoet, ‘n kruising tussen Beefmasters en Hugenote. Op die vraag waarom dié spesifieke kruising, antwoord oom Ted met ‘n eenvoudige “ek hou van die geelwit kleur”.

Dalk is die beeste ook ‘n skakel met die verlede; ‘n huldeblyk aan ‘n lewe wat op 5 Oktober 1925 op ‘n beesplaas in die Standerton-omgewing begin het. Hy was die 15de van 16 kinders. Latere jare het hy onderwyser geword, maar die boerdery was altyd naby aan sy hart.

In 2019, op 93-jarige ouderdom, het Oom Ted die ongewone ding gedoen en sy eerste boek gepubliseer. Die titel van die boek is Rooiysterkliprant tot Jakkalstjank. Tot ‘n mate is dit ook ‘n outobiografie, wat sy lewensreis volg vanaf die kliprante op die plaas Rietpoort in die hoëveld tot by Jakkalstjank in die Soutpansberg.

Maar ná die boek het hy besef dat daar nog stories vertel moet word. Oom Ted se brein is steeds klokhelder en met sy geheue skort min. Die ervarings wat hy kon meemaak en die lewenslesse wat hy geleer het, kon nie net verlore gaan nie. Dit het gelei tot die boek: “Die Lewe is ...?

Die nuwe boek beskryf wat die lewe behels vir ‘n uiters diverse groep mense wat Oom Ted se lewenspad gekruis het. Dit bevat verhale van seuns wat in ‘n nywerheidskool geplaas is en daar moes leer wat blywende waardes is. ‘n Dogter wat net die klein bietjie aanmoediging nodig gehad het om haar vraestel te slaag. Komiese sketse van karakters wat lank reeds gelede oorlede is, en selfs ‘n staaltjie wat dateer uit Paul Kruger se tyd – iets wat nie in die anale van toentertyd opgeteken is nie.

Oom Ted het egter baie meer verhale as wat in die boek aangeteken is. Hy reken dat hy ontsettend geseënd is. Hy is baie lief vir lees en die dors na kennis is nog lank nie versadig nie. Hy het vroeër vanjaar Covid-19 opgedoen, maar het weer herstel - iets waarvoor hy besonders dankbaar is.

Op 96 mag dit klink asof oom Ted heelwat van die antwoorde het, selfs asof hy weet waaroor die lewe behoort te gaan. Hy verkies egter om verhale te deel van hoe ander mense sin kon maak uit die eise wat die lewe stel. Sommige van die hoofstukke is hartseer, ander komies. Dit leen wysheid uit sy eie ervaringe, maar ook by talle ander wie sy paaie gekruis het.

Die boekie, Die Lewe is ...?, is beskikbaar by Leach Drukkers asook by die boekwinkel langs Ou Wawiele in Joubertstraat, Louis Trichardt.

 

 
 
 

Viewed: 1261

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT