ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Danie (links) en sy pa André wat die noodlottige aand by die Viva vulstasie op Bandelierkop doodgeskiet is. Foto verskaf.

DOV gaan vir eers nie vervolg nie

Date: 15 October 2021 By: Andries van Zyl

Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) het einde September besluit om voorlopig niemand te vervolg in verband met die dood van pa en seun André (52) en Danie (29) Duvenhage tydens ‘n skietery by die Viva-vulstasie op Bandelierkop op 28 Mei vanjaar nie. Hy het egter wel gelas dat ‘n geregtelike doodsondersoek geloods moet word na die omstandighede wat tot die twee mans se dood gelei het.

In kort beteken die besluit dat die saak terug verwys word na die hof, en die magistraat wat die saak aanhoor kan getuies roep om oor die voorval te getuig. Wanneer daar na alle beskikbare getuienis en bewyse gekyk is, en na deeglike oorweging, kan die magistraat dan ‘n aanbeveling maak ten opsigte van moontlike vervolging. Hierdie aanbeveling sal dan weer na die DOV verwys word vir finale beslissing. Die DOV se besluit om in hierdie stadium nie te begin met die kriminele vervolging van die man wat die Duvenhages doodgeskiet het nie, beteken dus nie dat die regsproses afgehandel is nie. 'n Geregtelike doodsondersoek sal slegs die einde van die regsproses wees indien bevind word dat die oorsaak van dood geregverdig was en geen persoon regtens vir die dood aanspreeklik gehou kan word nie. So is selfverdediging byvoorbeeld 'n regverdigingsgrond vir die neem van 'n ander se lewe.

Die koelbloedigheid van die voorval die aand van 28 Mei op Bandelierkop het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en ook nasionaal nuusopslae gemaak. Die voorval het op die N1 suid tussen Louis Trichardt en Bandelierkop begin ontvou, nadat ‘n 33-jarige bestuurder van ‘n minibus Danie verbygesteek het. ‘n Alterkasie het toe tussen die minibus-bestuurder en Danie ontstaan. Danie en sy vrou, Catherine van Dyk, en hul tweejarige seun Gideon was onderweg na Danie se pa, André, wat op Bandelierkop gewoon het.

By Bandelierkop het die bestuurder by die vulstasie ingedraai. Danie het vir Catherine en Gideon by die hotel gaan aflaai waar André gewoon het, waarna André saam met Danie terug is na die vulstasie toe. Hier het die insident geëskaleer. Danie en sy pa het die minibus-bestuurder gekonfronteer en ‘n hewige worsteling het ontstaan. Die minibus-bestuurder het sy vuurwapen uitgetrek en verskeie skote afgevuur. Beide Danie en sy pa is gewond. Danie is op die toneel dood, terwyl sy pa kort daarna met sy aankoms by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal dood verklaar is. Die 33-jarige skieter het in die proses homself in die knie geskiet en was weens die ernstige aard van sy besering vir etlike weke gehospitaliseer. Alhoewel hy aanvanklik op twee klagte van moord aangekla is, het hy nooit op die klagte in enige hof verskyn nie, nadat die Staat die saak na die DOV verwys het vir beslissing.

“Ons wil graag hê die saak moet landdros toe gaan en al die bewyse moet voorgelê word. Dit was nie reg wat die taxibestuurder daardie aand gedoen het nie. Hy het twee mense se lewens weggevat en baie mense se lewens verander en beïnvloed,” het Catherine Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2139

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT