Winter sprokiesland? Nee, hierdie foto is Sondag in die hartjie van die Bosveld geneem op die plaas van mnr. Arthur Blofield van Dendron ná ‘n erge haelstorm wat gestrek het vanaf Dendron tot by Waterpoort. Talle boere het erg deurgeloop en sommige het hulle totale oeste verloor. Inlas: Die grootte van die haelkorrels wat op Johan Willemse se plaas geval het. Buiten sy oeste wat platgeslaan is, het die hael twee van sy vrou se boklammers dood geslaan en ‘n derde verlam gelaat. Foto's verskaf.

Hael veroorsaak miljoene se skade

Date: 08 October 2021 By: Andries van Zyl

Viewed: 1239

‘n Massiewe haelstorm het Sondagmiddag talle boere noord van die Soutpansberg, in ‘n strook vanaf Alldays tot op Waterpoort, onkant betrap. Miljoene rande se skade is aangerig en van die boere het alles verloor.

“Ek het vir twee jaar hierdie witvlieg virus gekry, en vir twee jaar het ek nie ‘n inkomste gehad nie. Toe kom hierdie goeie oes, en daar is hy nou weg. Ek gaan nou weer vier hektaar plant en probeer aangaan, maar as dit so aangaan, gaan ek my plaas in die mark moet sit,” het ‘n moedelose Jan Duvenhage gesê. Hy boer sowat 18 kilometer vanaf Alldays.

“Hy het omtrent so halfvyf die middag begin reën. Hy het eers ‘n helse stofstorm gemaak, soveel so dat ons nie kon sien nie en toe die wind en stofstorm sak, toe val daardie eerste klip [haelkorrel],” het Duvenhage gesê.

Volgens Duvenhage gaan baie dinge deur mens se kop as dit so erg hael. “Die eerste ding is bid, en dan help dit nie meer nie. Dan raak jy net moedeloos. Daarna ry jy maar lande toe met ‘n hoop en as jy daar kom is alles platgeslaan … en daar was groot tamaties! Hulle het so trosse gehang…” het Duvenhage gesê.

Duvenhage het sy totale oes verloor. “Ek is heeltemal weg … daar is niks oor nie. Niks. Al my tamaties en amper 30 000 koolkoppe is alles weg. Ek het vier hektaar veld tamaties verloor wat ek oor drie weke sou gepluk het. Dit is omtrent R2 miljoen se tamaties. Wat die koolkoppe betref, het ek so R300 000 verloor,” het Duvenhage gesê.

Niks kon hom voorberei vir Sondag se erge hael nie. “Om die waarheid te sê, ek het gedink hierdie jaar gaan hy val, maar nie so erg nie. Ek is nou al 22 jaar op hierdie plaas. Ek het al baie hael gehad, maar dit is die ergste hael wat ek nog ooit gehad het en so dik ook. Dit het vyftien, twintig minute aanmekaar gehael,” het Duvenhage gesê.

Teen Maandagmiddag was Duvenhage steeds besig om die skade op te ruim. “Op die oomblik het ek 16 mense in die tuin net om die blare op te tel en ek is nog nie klaar nie. Al die bome se blare is weg,” het Duvenhage gesê.

Arthur Blofield, wat naby Dendron boer, het ook van sy skade vertel. “Hy het Sondagmiddag ons skielik hier oorval. Die hael het met so ‘n gedruis deur die bosse aangekom. Jy kon nie eintlik agterkom wat is besig om te gebeur nie, want alles was so wit en windstil. Dan hoor jy net skielik hierdie verskriklike gedruis, en toe oorval hy ons met ‘n growwe hael!” het Blofield gesê.

Die haelkorrels was nie so groot by Blofield nie maar, het Blofield gesê, dit het nie gegaan oor die grootte nie maar die massas. “Hier was massas en massas ys wat geval het. Hy het aanmekaar gegooi, sodat jy nie verder as twee, drie meter kon sien nie. Dit was net ‘n ysvlaag!” het Blofield gesê.

Blofield sê daar was nie ‘n plek om sy huis en op sy plaas waar dit redelik oop is wat dit nie gelyk het soos sneeu nie. “Dit was aanmekaar een ys laag. Op plekke het hy tot 100mm diep gelê,” het Blofield gesê. “Ek het vir my vrou gesê dit lyk amper soos ‘n skaatsbaan,” het Blofield bygevoeg.

Blofield sê dat die hael darem nie ernstige skade aan sy boerdery veroorsaak het nie, aangesien hy met beeste en nie met gewasse op sy plaas daar boer nie. “Ek het wel huis skade. Die hael het opgepak op die dak en toe ingeval. Water het oral ingestroom, en toe het die plafon ingeval,” het Blofield gesê.

Die hael het wel ‘n negatiewe impak op Blofield se weiding gehad. “Ons is eintlik nog in ons winterweiding, omdat ons nog nie regtig reën gehad het nie. Nou het hy daardie winterweiding weggeslaan. Ek sê vir jou, hy het hom in die grond in geslaan,” het Blofield gesê. Op ‘n positiewe noot het Blofield gesê dat hulle darem so saam met die hael 42 mm reën gemeet het. “Ek glo dus die gras sal darem nou vinnig optel,” het Blofield gesê. Totdat die gras gereed is, wag daar egter ‘n moeilike tyd vir Blofield wat weiding betref. “Sondagoggend was alles nog so dig, ruig en toe, en na die hael was alles so kaal en gestroop,” het Blofield gesê.

Johan Willemse, Duvenhage se buurman, het ook erg deurgeloop. “Ek was in my stoor gewees toe hoor ek net hierdie gedruis. Ek het Blouberg se kant toe gekyk, toe hoor ek hoe kom daardie hael aan. Ek het huis toe gehardloop, vir my vrou geskreeu en net betyds my bakkie in die motorhuis ingetrek, toe slaan die eerste haelkorrels. Dit was redelik groot goed gewees. Ek kon nie eers uit die motorhuis uit kom nie,” het Willemse gesê.

Willemse se oes is ook daarmee heen. “My suikermielies, tamaties, waatlemoene – alles is weg. Jy kan niks met hierdie goed maak nie,” het Willemse gesê. In totaal het hy agt hektaar se gewasse verloor. Die weiding vir sy beeste is ook platgeslaan. “Dit lyk of die plaas klaar bewei is en daar was nog nie eers ‘n bees in gewees nie,” het Willemse gesê. Gelukkig was hy op die einde van sy oesseisoen en het hy nog ‘n blok landerye sowat vyf kilometer vanaf sy huis waar hy nog gewasse het. “Daar het dit nie eers gereën nie,” het Willemse gesê.

Willemse se boerbokke het ook deurgeloop. Van hulle kon hulle ingejaag kry, maar nie almal was so gelukkig nie. “Die hael het twee van my vrou se boklammers doodgeslaan. Nog een se rug is af, verlam. Ek kan dit nie verstaan nie,” het Willemse gesê. Die hael wat daar by hom geval het, was omtrent gholfbal grootte.

Volgens Willemse boer hy al 30 jaar in die streek en was Sondag se hael nie die ergste wat hy al gesien het nie. “In 2002 het dit een aand in die nag so gehael. Die volgende oggend het jy geloop en die tarentale dood in die veld gekry onder die bome waar hulle geslaap het. In die landerye was die slange, alles, dood,” het Willemse gesê. “Hierdie een was erg, maar nie so erg soos 2002 se hael nie,” het Willemse bygevoeg. Te midde van die skade sê Willemse hulle bly hoopvol en sal aangaan om te boer.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...