ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Rosa Maynier (65). Foto verskaf.

Rosa se dood laat leemte in talle se harte

Date: 07 October 2021 By: Pétria de Vaal

‘n Bekende inwoner van Louis Trichardt, Rosa Maynier (néé Gerling), is ná ‘n lang siekbed op 29 September 2021 in haar slaap oorlede.

Dogter Michelle vertel dat Rosa op 14 Julie 1956 in Virginia gebore is. Sy het skoolgegaan en klaargemaak op Ugie in die Oos-Kaap.

Rosa was ‘n bekende gesig in Louis Trichardt, veral vanaf die tydperk toe sy netbal- en korfbal begin speel het.  Sy was besonder lief vir sport. “Wat min mense weet, is dat Rosa by die Eugene Marais Hospitaal as verpleegster gewerk het, en ook na haar ouma en jonger broer, Toit Gerling, omgesien het.” sê Michelle.

In Pretoria het sy haar man, Peter Maynier, ontmoet. Hulle was 45 jaar getroud. Ongeveer 40 jaar hiervan was hulle in Louis Trichardt woonagtig. Uit die huwelik is Michael Maynier en Michelle Maynier gebore. Peter het ook ‘n dogter, Christene, vir wie Rosa soos ‘n ma was. Die kleinkinders was Rosa se kroon en trots.

Rosa was ook veral bekend vir haar werk by Noordvaal Crushers, waar sy selfs haar eie vragmotors gehad het. Voor haar siekbed het sy by Sandberg Vervoer gewerk.

“Jou tyd op aarde is verby ... jou seer uiteindelik verby…  The only scars in heaven, are on the Hands that hold you now. Rus in vrede, Rosie, en weet dat ons jou nooit sal vergeet nie,” was die afskeidswoorde van haar familie.

Vir Jaroldine Simon-Prinsloo is haar vriendin se dood ‘n harde slag. Sy skryf: “Ai tog, my dierbare ou Rosie, 37 jaar se vriendskap was te vinnig verby!  Ek was nog nie reg om jou te laat gaan nie, maar al ons herinneringe sal vir altyd by my bly. Ek loer so deur al ons foto’s saam en dan besef ek net weer watter wonderlike tye ons gehad het. Al die lawwe dinge, die gelag … die geselsies (sommer trane ook), al die ou biertjies en ons eenderse lighters. Man, kon ons nou lekker gekuier het! Die Grandpa’s wat ons sommer vir hartseer, lag en pyn gedrink het. Uiteindelik is jy nou pynvry, gesond en stralend by Jesus se voete en ek weet jy kon nie wag om weer jou geliefdes daar te sien nie. Bye for now, ou Rosie.”

Rosa se gedenkdiens word op Vrydag, 8 Oktober, vanuit die NG Moedergemeente (Haantjiekerk) om 11:00 gehou. Indien enigiemand vooraf respek wil betoon, is geleentheid vir besigtiging beskikbaar voor die diens, vanaf 09:00 – 10:00 by Martin’s Funerals te Burgerstraat 102.

 

 
 
 

Viewed: 2164

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT