ADVERTISEMENT:

 

 
 

Erika Helm, wat verlede week TLU SA se Nico Killian-trofee ontvang het ter erkenning van haar positiewe bydrae tot georganiseerde landbou. Foto verskaf.

Unieke erkenning van TLU SA aan vroue-landbouer

Date: 12 September 2021 By: Andries van Zyl

‘n Unieke eer het plaaslike TLU SA-lid Erika Helm van die Bo-Brakrivier Boerevereniging (Vivo) te beurt geval, toe sy die organisasie se Nico Killian-trofee ontvang het as Landboupersoonlikheid van die Jaar. Die toekenning is aan haar gemaak tydens die TLU SA se jaarlikse kongres wat virtueel op 1 September gehou is.

Hierdie trofee word vanaf die TLU SA bestuur gegee aan ‘n persoon wat hulle voel ‘n verskil gemaak het deur die jaar, op grond van voortreflike dienste gelewer. Die persoon moet ‘n lid van georganiseerde landbou wees en hulself beywer om georganiseerde landbou te bevorder. Vir dié doel is gekyk na die persoon se betrokkenheid by georganiseerde landbou vir die periode tussen 1 Mei verlede jaar en 30 April vanjaar.

“Die Vivo en Waterpoort boere is baie trots op die toekenning wat Erika ontvang het,” het Japie van der Goot, voorsitter van Bo-Brak Boerevereniging, gesê. Sy woorde van gelukwensing is beaam deur Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, ook by TLU SA geaffilieer.

“Erika se rol in die dag-tot-dag bestuur van Bo-Brakrivier Boerevereniging is om daardie sleurwerk soos skakeling met die plaaslike owerhede, skakeling met SANRAL en Limpopo se Departement van Openbare Werke oor paaie, Eskom aangeleenthede, arbeidskwessies, munisipale belastings en vele ander sake uit die landbouer se hand te neem, sodat daardie landbouer op sy taak, naamlik voedselverbouing, kan konsentreer. Erika voer hierdie take met lof  uit. Sy is ook die voorsitster van TLU SA se staande komitee oor Plaaslike Regering,” het Van der Goot gesê.

“Daar is soveel struikelblokke op elke boer en landbouer se pad. Waar hierdie struikelblokke met my gedeel word, is dit my uitgangspunt om dit te oorbrug of uit die weg te ruim, sodat ons landbouers kan konsentreer op dit wat saak maak, om hulle Godgegewe gawes optimaal te kan benut en kos op die tafel van elke inwoner van die land te sit,” het Helm ná ontvangs van die trofee aan die Zoutpansberger gesê.

Erika het gesê dat dit werklik 'n riem onder die hart is as die pad wat gestap word vir landbouers 'n verskil maak aan elke persoon daar buite wat deur die jaar aangeraak is.  “Dit is vir my nie net 'n erkenning nie, maar ook 'n beoordeling van wat ervaar word en ek bedank elke persoon wat die verskil kon ervaar en positiewe uitkoms kon kry.  Die erkenning is vir my 'n aansporing om te bewys dat daar waardering is, en dit gee mens ook die moed om voort te gaan en vol te hou, ten spyte van watter omstandighede ook al op 'n mens se pad kom,” het Helm gesê.

Behalwe vir haar werk by die boerevereniging is Erika ook betrokke by haar man Willem se boerdery en ma van drie kinders, waarvan een op universiteit in Potchefstroom besonder goed presteer. Die baba in die huis is by PHS op skool en ouboet, ‘n volledig gekwalifiseerde elektrisiën, help met die boerdery en ander werk.

 

 
 
 

Viewed: 1029

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT