ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Paul du Plessis van Talisman in Louis Trichardt staan by die mangat waar vir weke lank ‘n stroom riool uitgespuit het. Die probleem was so erg dat Du Plessis-hulle slote moes grawe om die stinkende riool weg van hulle werkwinkel te kanaliseer.

Stink probleem ná weke eers opgelos

Date: 09 September 2021 By: Andries van Zyl

Die traagheid waarmee die Vhembe Distriksmunisipaliteit klagte rondom riool en water hanteer bly steeds een van plaaslike belastingbetalers se grootste kopkrap frustrasies. ‘n Voorbeeld hiervan is die massiewe rioollek aangrensend tot die treinspoor in Industriastraat.

Vir maande het ‘n rivier van riool by ‘n mangat by Talisman uitgestroom, al langs die spoorlyn af. Die stank was ondraaglik, buiten vir die gesondheidsrisiko wat die riool ingehou het vir talle plaaslike ondernemings, insluitend ‘n welbekende voedselverwerkingsfabriek.

“Ons is raadop! Die afgelope paar weke het ons die lek al ses keer aangemeld en ses verwysingsnommers gekry. Maar niks gebeur nie,” het ‘n moedelose me. Heleen Ysel van Talisman einde Julie gesê. Hulle moes al modifikasies aan hulle perseel aanbring om die stroom van riool uit hulle gebou te hou, insluitend afvoerpype en slote.

Op 30 Julie het die Zoutpansberger die perseel besoek. Met die koerant se aankoms was ‘n paar vroue-werkers van die Vhembe Distriksmunisipaliteit daar, wat midde van die rivier van riool doelloos agter die perseel in die veld rondgestap het. “Hulle soek die steekgat om te kyk wat is fout,” het mnr. Paul du Plessis van Talisman opgemerk. “Ons sit al vier weke met die probleem,” het Du Plessis bygevoeg. In daardie stadium kon hulle al vir weke nie hulle toilette gebruik nie. Nodeloos om te sê, die span VDM-werkers is onverrigter sake daar weg, met die riool wat net aanhou uitstroom het.

Die koerant het op 2 Augustus ‘n medianavraag, tesame met ‘n kort video van die rioolstorting, na mnr. Matodzi Ralushai, woordvoerder van die Vhembe Distriksmunisipaliteit, gestuur vir kommentaar. Sy standaard antwoord van “Ek sal opvolg met die tegniese afdeling” het kort daarna gevolg.

‘n Dag later het Ralushai laat weet dat hy vir ‘n volledige verslag van hul tegniese departement wag, maar dat ‘n groot “waarskynlikheid bestaan dat uitbreiding aan die gebou die rioolnetwerk affekteer”. Hy het aangedui dat hy teen 4 Augustus die volledige verslag sou kry met duidelike bevindinge.

Hierdie was egter die laaste “terugvoer” wat die koerant van Ralushai ontvang het te midde van weeklikse navrae, tot en met 30 Augustus. Ralushai het aangedui dat sommige besighede met die rioolnetwerk gepeuter het en dat dit nou hulle aandag benodig. ‘n Dag later het hy laat weet die probleem is opgelos – twee maande nadat dit die eerste keer aangemeld is.

“Inderdaad is die probleem opgelos. Wat ‘n verligting!” het Ysel gesê. Sy het egter bygevoeg dat hulle tot nou toe nie weet wat die rioolstorting veroorsaak het nie. “Ons het net een oggend hier aangekom, toe is alles reg,” het Ysel gesê.

Ysel het gesê sy dra nie kennis van enige besighede wat met die rioolnetwerk gepeuter het nie. “O nee! Vir ons het hulle gesê die pomp wat die riool moet wegpomp het uitgebrand en hulle wag vir ‘n elektrisiën om die fout te kom regmaak. Dit is blykbaar nou ‘n elektriese probleem en nie meer ‘n rioolprobleem nie. Daar was allerhande stories gewees. Ek dink dit was maar net ‘n verstopping gewees,” het Ysel gesê.

Dankbaar dat hulle rioolprobleem opgelos is, ten minste vir ‘n rukkie, het Ysel gesê die grootste grap is die feit dat hulle al vir bykans twee jaar geen water by hul besigheidsperseel het nie. “Toe kry ons so twee weke gelede besoek van twee mense van Vhembe wat ons water wou kom lees. Hulle wou by ons weet waar is ons watermeter. My vraag aan hulle was, watter water? Ons het al vir twee jaar nie water nie,” het Ysel gesê. Na wat die koerant kon vasstel uit gesprekke met omliggende besighede, het iemand in ‘n stadium ‘n klep toegedraai om aan ‘n gebarste waterpyp te werk. Die klep is blykbaar nooit weer oopgedraai nie en niemand weet nou skynbaar waar die klep is nie. Hopelik sal Talisman, soos baie ander besighede in die omgewing, ook eendag hierdie geveg met Vhembe wen om weer water by hulle perseel te kry.

 

 
 
 

Viewed: 826

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT