ADVERTISEMENT:

 

 
 

Klein Mateo Venter en sy mamma, Verushca. Foto verskaf

Klein Mateo het dringend hulp nodig om koste te help dek

Date: 04 September 2021 By: Denise van Bergen

Min dinge in hierdie lewe laat ‘n ouer so magteloos voel soos wanneer ‘n eens gesonde kind skielik ernstig siek word. Die blote idee dat jou kind swaarkry vat ongelooflik baie uit ‘n ouer uit, maar om deur dit als nagte om wakker te lê oor die mediese onkostes daaraan verbonde, is byna ondraaglik. Derduisende mense sweet bloed vir mediese fondse (wat juis vir so ‘n onvoorsiene geval uitgeneem word) wat dan in die oomblik van nood met ‘n honderd verskonings vorendag kom oor hoekom hierdie spesifieke kondisie nié deur hulle gedek word nie.

Dit is presies wat met Verushca Venter van Louis Trichardt gebeur het toe haar seuntjie, Mateo (‘n jaar en ‘n maand oud), net skielik in April siek begin word het.

Mateo het een dag vreeslik begin hoes. Verushca het hom dokter toe gevat, wat vir hom medikasie voorgeskryf het, maar niks het verbeter nie. Die kleinding het onophoudelik bly hoes – so erg dat hy opgegooi het. ‘n Paar maande later, ná talle doktersbesoeke, het Verushca hom by ‘n pediater in Polokwane gehad, wat aanbeveel het dat Mateo gaan vir toetse. Op 18 Augustus is hy in die Netcare Hospitaal in Polokwane opgeneem. Hulle het ook ‘n biopsie op hom gedoen en hy moes ‘n kamera sluk, waarna hulle vasgestel het dat hy ‘n skadelike bakterie het wat gaatjies in sy magie vreet.

Mateo is nou op ‘n nuwe reeks medikasie vir die volgende maand. Daarna sal nog toetse gedoen moet word om vas te stel of die behandeling suksesvol was. As dit nié die geval is nie, sal Mateo vir ‘n operasie moet gaan, wat nog ‘n verdere R100 000 – R150 000 mag beloop. Maar sy mamma verkies om positief te bly en te vertrou dat hierdie medikasie haar seuntjie gesond sal maak.

Verushca sê dat hy nie meer so verskriklik hoes vandat hy op die nuwe medikasie is nie, maar nog baie opgooi, en dat hierdie gesondwordproses duidelik tyd gaan neem vir klein Mateo.

Die mediese kostes het Verushca egter reeds in ‘n baie netelige finansiële posisie geplaas. Voordat sy hom kon laat opneem in die hospitaal moes sy R29 460.20 neersit, waarvoor sy ‘n lening moes aangaan. Dit sluit nie die pediater, toetse of medikasie in nie. Hul totale uitgawes sover staan reeds op R47 910.60, en ‘n string bloedtoetse en doktersbesoeke lê nog voor, om nie te praat van die vervoerkostes heen en weer nie.

Verushca het uit desperaatheid ‘n versoek om donasies op Back A Buddy se webtuiste gerig, waar die fondsinsamelingsteiken vir R60 000 gestel is om voorsiening te maak vir die mediese uitgawes wat nog voorlê. Sy is innig dankbaar vir die R7 265.36 – deur verskeie donateurs - wat sover ingekom het en sê by voorbaat dankie aan elkeen wat hul harte hiervoor oopmaak.

Vir donasies, bel of WhatsApp gerus vir Verushca direk by 083 601 6510, kliek op https://www.backabuddy.co.za/mateo-venter  of gebruik asseblief die volgende bankrekening vir inbetalings:

Mateo Charl Venter
FNB Spaar Takkode: 250655
Rek nr: 62 89 956 5611

 

 
 
 

Viewed: 1375

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT