ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Frans van Heerden (68). Foto verskaf.

Hy het nog soveel krag en lewenslus gehad

Date: 02 September 2021 By: Andries van Zyl

Vir die familie van die 68-jarige Frans van Heerden van Louis Trichardt is dit nog moeilik om te glo dat hy weg is. Hy is op Donderdag, 26 Augustus, aan hartversaking vanweë Covid-19 komplikasies in die Medikliniek in Tzaneen oorlede.

“Vir ons as familie was dit ‘n geweldige skok ... Hy het nog baie krag en lewenslus gehad. “Mens het darem die vertroosting dat my pa die Here gedien het,” het sy seun Andries van Heerden, pastoor by die plaaslike Emmanuel Christelik Kerk, Dinsdag gesê.

Andries het vertel sy pa het sowat drie weke terug begin siek word. “Maar hy was oraait gewees. Dit was die laaste week-en-‘n-half wat hy regtig baie siek was,” het Andries gesê. Hy het bygevoeg dat sy pa ‘n diabeet was en dat hy in ‘n stadium ophou eet het. Vandaar het sy toestand vinnig agteruit gegaan. “Hy is net ná Nico König oorlede, wat langs hom in die hospitaal gelê het,” het Andries gesê.

Frans is in Germiston gebore en het op Vaalwater grootgeword en later op Nylstroom (Modimolle) skoolgegaan. Ná skool het hy ‘n loopbaan in die Suid-Afrikaanse Lugmag begin wat hom uiteindelik in 1990 na die destydse Lugmagbasis Louis Trichardt (nou Makhado) gebring het. Hier was hy verbonde aan die basis se radar en tegniese afdeling, tot hy in 1995 met die rang van sersant-majoor uit die lugmag getree het.

Tydens sy jare hier in die lugmag het Frans saam met sy vrou Madelene en vriend Villie Kuun (oorlede in 1994) FMV Elektronies op die basis begin. Hulle het die besigheid na-ure bedryf. In 1993 het hulle na Louis Trichardt verhuis, waar hulle besigheid reeds gevestig was. Die besigheid sou later Super Electronics genoem word, waar Frans sedert sy uittrede uit die lugmag in 1995 werksaam was. Sy ander seun Japie sou later ‘n fietswinkel en onderneming wat naamborde vervaardig vanaf dieselfde perseel saam met sy pa bedryf.   

Frans en Madelene het hierdie jaar hulle 46ste huweliksherdenking gevier. Hy het haar in Nylstroom ontmoet en vier kinders, die seuns Andries en Japie, en dogters Trudie en Antjie, is uit die huwelik gebore.

“My pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy kon van karre regdeur tot enige iets reggemaak het. Sy gawe was sy hande. Hy kon met sy hande enige ding doen,” het Andries gesê. Hy het gesê dat hulle bevoorreg was om hul pa se laaste verjaarsdag op 11 Julie nog saam met hom te vier, al die kinders en kleinkinders.

“My pa was ‘n rotsvaste persoon gewees. Hy was onwrikbaar. Jy kon hom nie beweeg nie. Dit waarop hy gestaan het, het hy op gestaan. My pa was nie een wat met woorde vir jou gesê het hy is lief vir jou nie. Hy het met sy hande gepraat,” onthou Andries sy pa.

Wyle Frans se gedenkdiens vind eerskomende Donderdag, 2 September, om 11:00 vanuit die Emmanuel Christelik Kerk plaas, onderhewig aan die nodige Covid-19 bepalings. Hy word oorleef deur sy vrou Madelene, kinders Andries, Japie, Trudie (Scheepers) en Antjie (Brennan), skoonfamilie en nege kleinkinders. Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor al die boodskappe van vertroosting wat hulle ontvang het vanuit plaaslike, nasionale en internasionale geledere.

“Dit is daardie klein dingetjies wat ons gaan mis. Hy was ‘n groot visserman en het regtig ‘n passie gehad vir die lewe. Jy kon hom nie moedeloos maak nie. Niks in die wêreld kon hom onder kry nie. Hy was altyd ‘n persoon wat opgestaan het met nuwe hoop vir elke dag,” het Andries gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2390

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT