ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Leon Fensham (60). Foto verskaf.

Sy lag vir altyd stil

Date: 20 August 2021 By: Pétria de Vaal

Die dorp neem met groot hartseer afskeid van nog een van ons geliefde aptekers, wat op 19 Augustus sou verjaar. 

Leon Philip Fensham is in 1960 gebore. Hy het in Pretoria grootgeword en het aan die Universiteit van Pretoria Aptekerswese gestudeer. Ná sy weermagopleiding het hy Louis Trichardt toe gekom en was sedertdien by Da Silva Apteek betrokke, waar hy saam met wyle Louis van den Heever aandele besit het. Ses jaar gelede het Leon Louis se aandele uitgekoop.

Op 5 Julie het Leon siek geword en is in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem. Voordat die Covid-19 toetsuitslae egter bekend was, was hy reeds so ernstig siek dat hy in die MediKliniek in Tzaneen se intensiewesorgeenheid (ISE) opgeneem moes word. Hier was Leon tot en met sy afsterwe op 13 Augustus weens Covid-19 komplikasies.

Vir ‘n baie hartseer Reneé, wat vir sewe jaar met Leon getroud was, is die goeie herinneringe blywend. “Hy was ‘n mense-mens, ‘n omgee-mens. Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. Sy geselsies en laggies sal altyd onthou word.” Sy vervolg deur te noem dat Leon se kleindogter van twee jaar oud sy trots was. Leon het een seun van sy eie, Christiaan. Reneé het twee seuns, wat Leon as sy eie beskou het. “Hy het reeds só uitgesien na Ruan en Maureen (van der Walt) se troue op 4 September vanjaar en hy sou dit vir niks in die wêreld wou misloop nie” sê Reneé.

Reneé voeg by dat die kleinste dingetjies soos ‘n braai by vriende hom opgewonde gemaak het en hy telkens baie daarna uitgesien het. “Hy was lief daarvoor om met ons karavaan in die Wildtuin te gaan kamp.  As Leon ‘n beskikbare tydjie gehad het, het hy graag gaan teikenskiet. Ons wil graag sy vriende bedank, aangesien hulle ‘n groot deel van sy lewe was,” sê Reneé.

George Schempers was Leon se boesemvriend. “Leon was iets spesiaals, daar was nie iemand soos hy nie. Ek en hy het mekaar vir 20 jaar geken. Ons het vir baie jare saam muurbal gespeel. ‘n Meer lojale vriend kon jy nie kry nie. Vir my het dit gevoel of Leon my broer was. Hy het altyd met sy oë gelag.  Dit was vir hom vanselfsprekend dat as jy nie iets moois van iemand kan sê nie, dan bly jy liewer stil. Hy het hom dus ook altyd van skinderpraatjies weerhou. Ons gesinne het minstens drie naweke uit ‘n maand by mekaar gebraai, maar dikwels ál die naweke. Nou is dit verby,” sê ‘n bewoë George.

Reneé wil ook graag al sy kliënte en personeel bedank. Personeellede Esmarié Potgieter, Mariëtte van Blerk, Andani Govhola, Henry Madilindi en Elijah Mabukane bring die volgende huldeblyk: “Leon was 'n wonderlike mens, hy was altyd daar gewees vir sy personeel en sy kliënte. Hy het uit sy pad gegaan om almal te help. Hy het altyd uit sy maag uit gelag en dit sal vir seker gemis word. Ons was meer 'n familie as net kollegas. Ons het soveel pret gehad in die apteek. Ons het só lekker saam gelag en ons sal dit almal mis. Leon was 'n omgee-mens, so vol liefde. Leon sal baie gemis word.”

Leon se seun Christiaan skryf: “As ek aan my pa dink, dink ek eerste aan sy lag, hoe moeilik dit vir hom was om stil te sit, die geluid van die SodaStream wanneer ons regmaak om te braai. As ek langer dink, is daar te veel om alles te noem. Hy is prominent in soveel van my gelukkigste herinneringe. Hy was my beste vriend, hy sal altyd wees.”

“Ons sal hom onthou vir sy opregtheid en aansteeklike lag, en al die liefde wat hy aan al ons kinders en kleinkind betoon het,” sê Stefan Bezuidenhout, skoondogter Nina en kleindogter Suné.

Die kinders wat eersdaags trou, Ruan Bezuidenhout en Maureen, is dit eens dat geen ander woord as die woord “gentleman” vir Leon kan beskryf nie.  “Hy was altyd reg met ‘n lekker storie of ‘n grappie in sy mou met die doel om iemand te laat glimlag.  Sy aansteeklike lag was die hoogtepunt van elke braai. Hy het diep spore agtergelaat wat geen mens kan volstaan nie,” sê hulle.

 

 
 
 

Viewed: 2378

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT