ADVERTISEMENT:

 

 
 

Veilig terug by die DBV… Die jong tefie wat deur haar aanneem-eienaar vir een van sy werkers weggegee is saam met plaaslike DBV inspekteur Lawrence Khodobo. Foto verskaf.

Herrie na aanneemhond weggegee word

Date: 13 August 2021 By: Andries van Zyl

‘n Facebook-plasing het die afgelope week ‘n herrie ontketen ten opsigte van eienaarskap oor ‘n hond wat by die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) aangeneem is, maar ‘n paar maande later deur die aanneem-eienaar sommer net weggegee is.

Die plasing is gedoen deur Alicia Thomas van die plaaslike DBV. In die plasing van 6 Augustus skryf sy: “XXXXX die DBV vra asseblief dat jy die hondjie wat jy by ons aangeneem het en toe weggegee het vir jou werker, om in 'n village te gaan bly, ONMIDDELLIK terug besorg aan ons. Jou kontrak wat jy geteken het sê duidelik dat die hond mag nie vir iemand anders gegee word nie en moet terug gebring word DBV toe as jy hom/haar nie meer wil hê nie. Ons vra dat jy ASB ook saam met ons sal gaan help soek vir die arme hondjie wat nou verward en verlore in 'n village is, omdat die werker hom agter op 'n bakkie vasgemaak het en sy toe afgespring het. Die arme werker moes 'n bakkie huur om die hond terug te bring. Groot asseblief gaan help nou soek vir die hond!!!” Die daaropvolgende kommentaar op die plasing was glad nie vleiend teenoor die betrokke persoon nie, tot so ‘n mate dat een regskenner in haar kommentaar persone gewaarsku het om versigtig te wees wat hulle sê en om nie lasterlik op te tree nie.

Volgens Thomas is die jong tefie as klein hondjie ‘n paar maande gelede deur haar nuwe eienaar, ‘n man, aangeneem. Dit nadat hulle die nodige inspeksie by die man se huis gaan doen het om te kyk of hy vir haar sal kan sorg en nadat hy die betrokke aannemingskontrak voltooi het.

Op ses maande het die DBV die man geskakel en gevra om die tefie in te bring, sodat sy gesteriliseer kon word volgens die bepalings van die kontrak. Sy antwoord was bloot dat hy die hond aan een van sy werkers weggegee het omdat sy blykbaar stout was. “Ons het eers gedink hy maak ‘n grap en vir hom gesê hy kan nie net die hond weggee nie!” het Thomas gesê. Hulle het egter besef die man maak nie ‘n grap nie en het hom opdrag gegee om dadelik die hond te gaan haal en aan hulle terug te besorg. “Hy het net geen moeite gedoen om die hond te gaan haal nie,” het Thomas gesê.

Intussen het die DBV die man se werker in die hande gekry en gevra dat hy die hond DBV toe moet bring. “Ek het nogal jammer gevoel vir hom. Hy het gedink hy moet die hond terugbring vir ‘n inspuiting,” het Thomas gesê.

Met dié dat die werker die hond agterop sy bakkie wou vasmaak om haar DBV toe te bring, het die tefie egter geskrik en weggehardloop. “Dit was toe dat ek die boodskap op Facebook geplaas het vir die ou om na sy hond te gaan help soek. Ek het vir hom gesê dit is sy verantwoordelikheid. Hy is die een wat die hond by die DBV aangeneem het,” het Thomas gesê.

Steeds was daar geen reaksie van die man nie. Lede van die DBV het toe maar self saam met die man se werker na die hond gaan soek. “Gelukkig het die hond na die werker se huis teruggehardloop, wat vir ons sê sy huis was nie ‘n slegte huis gewees nie,” het Thomas gesê. Hulle het toe die hond teruggeneem DBV toe.

Alhoewel die man nie na die hond gaan soek het nie, het hy wel via WhatsApp op Alicia se Facebook-plasing gereageer en haar dreigement dat sy hom gaan aankla van kontrakbreuk. “Alicia dit is reg, gaan maak 'n saak. In die eerste plek, daai wat julle aan my verkoop het is nie ‘n Daxxie [worshond] nie. Tweedens, die Verbruikerswet sê as ek enige iets by ‘n persoon of instansie koop en jy gee vir my ‘n faktuur, is die eiendom die koper s'n. So gaan maak jou saak. En julle sal nie ‘n enkele sak kos by ons kry as donasies nie, dit belowe ek jou,” het die man aan Alicia geskryf. “Hy het my baie sleg gesê, maar ek het vir hom gesê ek gaan nie met hom op WhatsApp baklei of sy oproepe antwoord nie. As hy met my wil praat, kan hy my kom sien,” het Alicia gesê.

Wat die man se opmerking betref dat die hond nie was wat hy “gekoop” het nie, naamlik ‘n worshond, het Thomas gesê dat hulle nooit die hond as ‘n suiwer worshond vir aanneming geadverteer het nie. “Ons het die ma gesien en geweet daar is worshond (dachshund) in die kleintjies, maar ons het nie geweet wat die pa is nie. So, in al die plasings wat ons op sosiale media gedoen het, het ons aangedui dat dit ‘n worshond-kruising is want ons weet nie wat die hond se spesifieke gene is nie,” het Thomas gesê.

Met betrekking tot die man se opmerking dat hy nie gekry het waarvoor hy betaal het nie, het Thomas gesê dat die fooi wat betaal word ‘n aannemingsfooi is en nie ‘n koopsom nie. “Ons verkoop nie honde nie. Baie mense dink ook ons druk die aannemingsfooi in ons sakke. Dit is doodeenvoudig nie waar nie. Die aannemingsfooi dek skaars ons koste wat betref die dier se sterilisasie, inenting, ontwurming en mikroskyfie. As jy hierdie vier goed in aanmerking neem en jy maak jou sommetjie, maak ons nie ‘n sent op ‘n aanneming nie. Inteendeel, ons betaal in,” het Thomas gesê.

Wat die man se argument betref dat hy die “eienaar” van die hond geword het toe hy die hond “gekoop” het en derhalwe die beskerming van die Verbruikerswet geniet, het Thomas gesê die man moet maar liefs weer sy kontrak deeglik gaan lees.  “Dié is nie ‘n koopkontrak nie. Ons reik nie ‘n faktuur uit nie. Dit is ‘n aannemingskontrak, wat beteken dat die hond eintlik nooit regtig jou eiendom word nie. Ons vertrou jou met ons kat of hond. Dit bly die DBV se eiendom. Daarom, in die kontrak, gee jy toestemming dat die DBV elke nou en dan ‘n inspeksie kan kom doen om te kom kyk of dit nog goed gaan met hierdie hond of kat van ons. Alles wat ons van jou verwag, word in die kontrak uiteengesit,” het Thomas gesê.

Die tefie is weer terug by die DBV en gereed vir aanneming. Dit sal sekerlik ook die vraag by baie laat ontstaan hoekom hulle nie maar die hond by die man se werker gelos het nie. “Ons kon nie die hond vir die werker gee nie. Heinings buite die woongebied bestaan amper nie. Hy sou ook nie ons inspeksie slaag nie, want hy kan nie veeartskoste bekostig nie, wat een van ons vereistes is,” het Thomas gesê. Op die einde gaan dit vir hulle om ‘n hond of kat by die beste moontlike huis te plaas. “Ons was baie dankbaar dat ons die hond kon terugkry,” het Thomas gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1564

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT