ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Rensia Rossouw (39). Foto verskaf.

Rensia was 'n ware “sonstraal

Date: 12 August 2021 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg is steeds vasgevang in die dodelike greep van die derde vlaag van die Covid-19 pandemie, met die sterftesyfer wat steeds styg. Sondag, 8 Augustus, het inwoners met hartseer verneem van die dood van die 39-jarige Rensia Rossouw van Louis Trichardt ná ‘n stryd van bykans ‘n maand teen die virus.  

Vir Rensia se familie was dit ‘n ongelooflik traumatiese tydperk gewees. Volgens haar man Jullian het Rensia geen onderliggende siektetoestande gehad waarvan hulle weet nie. Hy sê hy vermoed die rede waarom sy so siek geword het, was omdat hulle te laat agtergekom het sy het Covid-19. Teen die tyd wat sy in die Zoutpansberg Privaathospitaal in middel Julie opgeneem is, was sy reeds baie siek gewees. “Daar het sy half beter begin word, maar toe weer slegter. Ek dink die virus het die longe net te erg aangetas … Ons het baie gesukkel om vir haar ‘n bed [in ‘n intensiewesorg-eenheid] te kry, so sy moes hard veg. Ek dink dit het haar ‘n groot knou gegee,” het Jullian gesê.

Rensia was vir drie dae in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal voordat medici daarin kon slaag om vir haar ‘n bed te kry waar sy die nodige spesialisbehandeling kon ontvang wat sy in haar kritieke toestand nodig gehad het. Dit was op die piek van die derde Covid-19 golf, met die enigste bed wat by die Universitas Privaathospitaal in Bloemfontein beskikbaar was. Rensia is op 18 Julie per lug-ambulans na Bloemfontein afgevoer. “Hulle het my laat ingaan by haar voordat hulle haar oorgeplaas het, want hulle het nie gedink sy gaan die aand maak nie,” het Jullian gesê.

Sondag hierdie week was Rensia drie weke in die intensiewesorg-eenheid van die Universitas hospitaal gewees. Sy was sedert haar opname op ‘n ventilator gekoppel en deurlopend onder verdowing gehou. “In 'n stadium het dinge goed gelyk. Al die inligting wat ek gekry het, was dat sy beter word. Die laaste twee, drie dae voor haar dood het sy eers koors gehad wat hulle behandel het. ‘n Dag later het ek gebel toe sê hulle vir my sy het infeksie in die bloed, maar hulle behandel dit. ‘n Dag daarna het hulle gebel en gesê haar hartklop is hoog en bloeddruk is laag. Vandat hulle my Sondag in die kerk gebel het, het dinge vandaar af net baie slegter gegaan en Rensia is so net voor 13:00 oorlede,” het Jullian gesê.

Vir Jullian-hulle was dit baie erg dat hulle nie by Rensia kon wees nie. “Ons kon met haar Face Call oor die selfoon. Ek het probeer fight, soebat en smeek in haar laaste oomblikke, maar dit het nie gehelp nie...” het Jullian gesê terwyl hy geveg het om die trane terug te hou. Hy het gesê hulle, Rensia se ouers Johan en Anne-Marié Jonker ingesluit, glo en vertrou egter dat Rensia hulle in haar laaste oomblikke gehoor het. “Ek dink haar liggaam was net te moeg gewees,” het Jullian gesê.

Rensia se dood was vir hulle as familie ‘n groot skok gewees, aangesien alles daarop gedui het dat Rensia besig was om te herstel. “Ek het ná die tyd met een van haar dokters gepraat. Hy het vir my gesê hulle weet steeds nie regtig hoe om hierdie virus te hanteer nie. Dit is alles trial and error,” het Jullian gesê.

Rensia was ‘n boorling van die Soutpansberg en het beide haar laer- en hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi. Daarna was sy saam met haar familie vir ‘n jaar of twee Kaap toe gewees, maar het weer teruggekom. Rensia sou later vir Jullian in Polokwane ontmoet waar hulle 18 jaar gelede getroud is, voordat hulle weer teruggekom het Louis Trichardt toe. Een seun, Dilan, is uit die huwelik gebore.

Rensia sal onthou word as ‘n regte “sonstraal” mens. Sy het altyd geglimlag en was een van die vriendelike gesigte by die hof op Louis Trichardt waar sy werksaam was. “Dit is wie sy was. Altyd gelag en altyd almal gehelp. Jy kon haar enige iets gevra het, sy sou jou gehelp het,” het Jullian gesê.

“Sy was net van die begin af vir ons ‘n bondel vreugde. Sy was by alles betrokke. Sy het soveel mense gehad waarvoor sy omgegee het ... dit is vir ons sleg om haar op hierdie manier te verloor ... Hierdie ding vra nie of jy geld het of nie, hy vat wat voorkom,” het ma Anne-Marié gesê.

Wyle Rensia se begrafnisdiens vind eerskomende Saterdag, 14 Augustus, om 10:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente plaas, onderhewig aan die nodige Covid-19 regulasies. Die diens sal egter via Facebook Live lewendig uitgesaai word vir dié wat nie die diens kan bywoon nie. Sy word oorleef deur haar man Jullian, seun Dilan, ouers Johan en Anne-Marié Jonker, suster Elmarie van Zyl, skoonfamilie en ouma Bamberger.

Jullian het namens die familie almal bedank wat hulle bygestaan het met Rensia se siekte en afsterwe.

 

 
 
 

Viewed: 2212

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT