ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Francois Botha (59). Foto verskaf.

Francois Botha verloor stryd teen virus

Date: 07 August 2021 By: Pétria de Vaal

Nog ‘n bekende inwoner van Louis Trichardt het hierdie week sy stryd teen Covid-19 verloor. Francois Johannes Botha is op 3 Augustus in die Tzaneen MediKliniek weens die virus oorlede. Hy was 59 jaar oud gewees.

Francois was ‘n welbekende inwoner van die omgewing. Hy is op 28 November 1961 in Pretoria gebore. Die gesin het na Louis Trichardt verhuis, waar hy sy laer- en hoërskoolloopbaan voltooi het.

“Na skool het hy sy twee jaar diensplig gedoen. Hy het by die munisipaliteit begin werk en was vir 21 jaar in hulle diens. Daarna het Francois sy eie vervoerbesigheid begin, totdat hy in 2014 afgetree het,” sê sy hartseer vrou, Lynette. Sy voeg by dat Francois sedert sy aftrede op die plaas geboer het.

Lynette onthou dat Francois baie lief was daarvoor om sy Bybelkennis uit te brei. “Hy het ook die mooiste houtwerk-items gemaak. Daar was altyd net een van ‘n item, want dan was dit, volgens hom, uniek. Francois het gelewe vir sy kinders en kleinkinders,” sê Lynette.

Francois (van sy baie goeie vriende het hom soms Cois genoem) was baie lief vir rugby en het ook vir die dorp se eerstespan gespeel. “Hy was ‘n haker, en wanneer stutte seergekry het, dan skuif hy na die stutposisie,” onthou Lynette.

Lynette het elke liewe persoon bedank wat gehelp het in hul tyd van nood, met spesiale vermelding van ds. Innes Nagel, dr. Gaigher, asook drs. Steele en Middleton by die Tzaneen MediKliniek wat uitstekend was.

“Ons het ‘n wonderlike seun, pa, broer, oupa en vriend verloor,” sê Lynette. Francois word oorleef deur sy vrou Lynette, seuns Paul, Jaydee en Franco, ses kleinkinders, asook Francois se ma, Das, suster Mari Jooste en broer Marius Botha.

“Hy is nou by Jesus tot ons hom weer sien,” sê die bedroefde familie.

Wyle Francois se begrafnis vind plaas op Woensdag, 11 Augustus, om 11:00 te Plot 13, Vondeling.

 

 
 
 

Viewed: 2127

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT