ADVERTISEMENT:

 

 
 

Inwoners word gemaan dat drie gevalle van hondsdolheid die afgelope week bevestig is, een daarvan in Louis Trichardt. Generiese foto.

Drie gevalle van hondsdolheid in streek bevestig

Date: 07 August 2021 By: Andries van Zyl

Inwoners word gewaarsku dat hondsdolheid weer in die streek voorkom, nadat drie positiewe gevalle van die siekte verlede Vrydag, 30 Julie, by die Louis Trichardt Dierebeskermingsverening (DBV) se Legacy-dierekliniek bevestig is.

Al drie gevalle was honde. Twee was rondloperhonde - een van die Piesanghoek-omgewing en die ander een van die Vuwani-omgewing. Die derde hond het behoort aan ‘n troeteldiereienaar van Louis Trichardt.

“Een geval van hondsdolheid is een te veel,” het die plaaslike DBV se inspekteur Lawrence Khodobo gesê.

Alhoewel hondsdolheid maar altyd ‘n gevaar sal inhou vir mens en dier, het Khodobo gesê dat die siekte vanjaar vir hom ietwat meer voorkom. “Ek blameer die Covid-19 pandemie. Normale inentingsveldtogte, soos dié van die Staat, het nie plaasgevind soos voorheen nie. As ons kon uitgaan om inentings te doen, sou ons nie hierdie probleem gehad het nie,” het Khodobo gesê. Die Louis Trichardt DBV kon self nie uitkom by al hul gereelde inentingsveldtogte in buitegebiede nie weens die pandemie en gepaardgaande inperkings. Die span is egter gretig om weer aan die gang te kom.

Nuus van die voorkoms van hondsdolheid in die Soutpansberg-omgewing kom op dieselfde dag as die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se aankondiging ​dat twee gevalle van hondsdolheid in Junie aangemeld is in jakkalse in die omgewing van die Wieg van die Mensdom in Gauteng. Dit het die Gautengse regering aangespoor om dadelik te begin met inentingsveldtogte vir mense se troeteldiere. Gedurende die week van 25 Julie is ‘n derde geval van hondsdolheid bevestig in ‘n ratel. Drie mense is aan die ratel blootgestel en behandel om infeksie deur die virus te voorkom.

Die hondsdolheidvirus word van diere (in meeste gevalle honde) na mense oorgedra in die dier se speeksel wanneer die dier iemand byt. Die virus kan ook deur snye, die mond of oë die mens infekteer. Die eerste simptome van infeksie sluit in hoofpyn, angs, koors, braking en uiterse vrees vir water. Daarna volg verlamming, koma en die dood. Dit neem gewoonlik twee tot 10 weke vir mense en diere om simptome te toon ná infeksie. Wanneer mens of dier die tekens begin toon, is geen behandeling moontlik nie en die persoon of dier sal sterf. Om dadelik ná ‘n byt van ‘n vermoedelik hondsdol dier met behandeling te begin, voordat die simptome begin wys, is dus uiters belangrik. Was die wonde onmiddellik deeglik, verkieslik met ’n ontsmettingsmiddel. Kry so gou moontlik mediese behandeling en onthou dat die behandeling uit ’n reeks inspuitings bestaan en ‘n persoon die volledige reeks moet ontvang.  

“Mense wat vermoed dat hulle gebyt is of in kontak was met ‘n dol hond [of kat] moet so gou moontlik ‘n hondsdolheid inenting gaan kry as ‘n voorsorgmaatreël,” het Khodobo gesê.

Die Zoutpansberger het hierdie week gepoog om by die plaaslike Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, wat verantwoordelik is vir inentingsveldtogte teen hondsdolheid, uit te vind wanneer hulle beplan om weer ‘n veldtog te loods. Die koerant se navrae is egter verwys na die departement se streekkantoor in Sibasa. Herhaalde pogings om die skakelbeampte daar in die hande te kry was onsuksesvol. Een beampte, wat nie op rekord wou gaan nie, het egter genoem dat hulle nou eers fokus op hulle bek-en-klouseer program.

Die departement se skynbare trae reaksie ten opsigte van die uitbreking van hondsdolheid laat talle troeteldiereienaars nou met die vraag wat hulle te doen staan om seker te maak die siekte versprei nie. Vir hulle is daar hoop. Sedert verlede jaar se uitbreking van die siekte in die Soutpansberg het die plaaslike DBV voortgegaan met hulle spesiale aanbieding van R20 per inenting per dier teen hondsdolheid by hul Legacy-kliniek op hul perseel op die Vondeling-pad. Vir meer inligting hieroor, kan die kliniek geskakel word by tel. 082 055 2426.

 

 
 
 

Viewed: 1191

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT