ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Molly van den Heever (70). Foto verskaf.

Molly het kosbare vriendskappe gesmee

Date: 06 August 2021 By: 

“Wees U Here, vir haar of hom vir wie ek hier gebid het, lig en sterkte, moed en wysheid, troos en tevredenheid. Laat haar of hom vanaand soos ek, U vrede in haar/sy hart hê en sonder vrees of kwelling gaan slaap. Om Jesus ontwil. Amen".  So lui die handgeskrewe notatjie in Molly se Bybel en so het sy getrou vir menige familielid, vriend en kennis oor die jare in gebed opgedra.

Die gemeenskap van Louis Trichard en veral die vriende en familie op die Soutpansberg moes verlede week hul getroue voorbidder en geliefde sonstraal mens met haar groot en liewe hart vir ewig groet.

Margaret Mary (Molly) van den Heever is op 70 jarige ouderdom ná ‘n kort siekbed aan Covid-komplikasies oorlede. Sy en haar man Tobie is beide op Sondag, 25 Julie,  in die Zoutpansberg Privaathospitaal in Louis Trichardt opgeneem, waar sy vinnig verswak het. Sy is Woensdag, 28 Julie, laatnag oorlede. Tobie (69) is intussen ontslaan en sterk aan by sy huis op sy plaas op die Witvlag-pad.

Molly en Tobie het hulself in 1989 op hulle plaas op die berg gevestig. Sy is in 1950 as ‘n nooi Attard in Pietersburg gebore en was die derde oudste van vyf kinders.

Molly het vir ‘n kort rukkie in Louis Trichard verpleeg, waar sy vir Tobie ontmoet het, en in haar eie woorde: “Ek was dadelik verlief op die lang, aantreklike man met sy donker hare.”  Tobie, Molly en hul kinders het in Pietersburg en aan die Rand gewoon gedurende die jare wat hy werksaam was by die destydse SAUK. Haar gelukkigste jare was nadat hulle hulself op die berg kon kom vestig.  Tobie is baie dankbaar vir die 48 liefdevolle jare wat hy saam haar as sy eggenote kon deurbring.

Molly het kosbare vriendskappe in die gemeenskap en veral onder die susters van die Soutpansberg-gemeenskap gesmee. Op haar unieke en nederige manier het sy in soveel mense se harte gekruip en daar sal sy voortleef vir ewig.  Sy word oorleef deur haar man Tobie, haar kinders Tobie (jr.) en Elize van den Heever, Lance en Marisa Munroe, haar broer Billy Attard, en susters Christa Naude, Annemarie Louw en haar drie kleinseuns – Tobias van den Heever, Lleyton en Mitchell-John Munroe.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor dr. Casper Venter en die res van die mediese personeel by die privaathospitaal vir hulle volgehoue harde werk, ondersteuning en sorg. “Bowenal ‘n baie spesiale dankie aan elke vriend, kennis en familielid wat die gesin met boodskappies ondersteun het en in gebed opgedra het,” het die familie gesê.

Wyle Molly se gedenkdiens vind Vrydag, 6 Augustus, om 10:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente plaas.

 

 
 
 

Viewed: 1706

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT