ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Bets en Kobie Cronjé voor hul ses kinders op wie Ma Bets altyd so trots was. Agter, van links na regs, is van oud na jonk, Braam, Pierre, Jaco, Kurt, Claudie (oorlede in 2013) en Fritz. Foto verskaf.

Agter haar klassieke skoonheid was ‘n vurige vrou

Date: 06 August 2021 By: 

“Waar begin mens hulde bring aan ‘n veelkantige diamant soos Bets Cronjé (née Pieterse), enigste kind, ma van ses, ouma van 13, ‘closet’ argeoloog, sendeling, boekpionier, sakevrou, borduur-kunstenaar, lojale vriendin en haar man Kobie se koningin.”

So skryf die familie van wyle Bets in ‘n huldeblyk aan haar. Sy is op 22 Julie vanjaar op die ouderdom van 83 jaar oorlede na ‘n siekbed (nie Covid-verwant nie), slegs agt maande ná haar man Kobie se afsterwe.

“Agter haar klassieke skoonheid en oënskynlike kalm gelaat was ‘n vurige, vlymskerp vrou, ‘n baanbreker en rebel op haar eie terme. Sy en Kobie was van die eerste pionier sendelinge by die Tshilidzini Hospitaal in Venda. Vier van hul ses kinders is daar in Venda gebore,” vervolg die kinders en skoonfamilie in hul onthou van hul ma.

Bets het in 1975 Louis Trichardt Boekwinkel begin in ‘n winkeltjie so groot soos ‘n posseël, vir baie jare die enigste boekwinkel in die dorp. In die tagtigs het haar passie vir boeke en kennis gegroei na ‘n groter en groter boekwinkel in die middedorp, ‘n besigheid wat haar ses kinders deur skool en tersiêre onderwys gedra het. “Sy het grensverskuiwende boeke met groot gedagtes gelees en aangekoop vir haar slim en wonderlike klante wat meestal haar vriende geword het en waarvan daar baie uit alle sfere in die Soutpansberg was en steeds is. So het sy  eiehandig op haar stil en gedetermineerde manier, ‘n groot vormings-invloed op die bevordering van kennis en boeke in ons dorp en streek gehad,” het die kinders gesê. 

Bets was nie bang vir kontroversiële idees soos evolusie of kleur nie. “Haar eerste kamer by Ons Tuiste Ouetehuis was ‘n diep warm rooi geverf. In haar eie ruimte het sy boekrakke soos bou-blokke teen ‘n dieprooi muur gebruik, kunstig tussen haar groot, kleurvolle tapisserieë van Vermeer, Gauguin en Leonardo da Vinci se Mona Lisa. Daarby het sy tot kort voor haar dood nog daagliks haar Beeld gelees, die boekwêreld op TV dopgehou en die herkoms van die mensdom en die heelal bepeins,” het die kinders bygevoeg.

Bets was ook ‘n closet-argeoloog. “Een boekrak was vol swaar boeke van Richard Leakey, oerklipwerktuie wat sy oral opgetel het, en ‘n afbeelding van Mev Ples se kopbeen. So sal haar kinders en 13 kleinkinders haar onthou, haar onuitwisbare indruk op ons lewens en opvoeding, die boeke wat sy aangedra het, haar oop kop, haar lojaliteit en liefde vir ons. Ons is so geseënd en trots om haar gene te dra - ons Ma en Ouma,” was haar kinders Braam, Pierre, Kurt, Jaco, Claudie (oorlede in 2013) en Fritz se opsomming van hul ma.

“Ons bring hulde aan Ouma Bets,” sê al haar kleinkinders: Estienne, Claudine, Ika, Lize, Nina, Jaks, Ernst, Milize, Liam, Jessica, Joshua, Liam jnr. en Kiano. “Ons skoondogters en -seuns was baie lief vir haar; sy het ons soos haar eie kinders liefgehad en ons vir haar. Sy het ons almal op hoogte gebring en gehou van lands- en wêreldgebeure; ons almal gaan haar so verskriklik mis,” was die boodskap van Elthea, Emil Simon, Adri, Tersia en Ashleigh.

 

 
 
 

Viewed: 2053

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT