ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Sufreen Mienie (88). Foto verskaf.

Soutpansberg verloor ‘n pragtige mens

Date: 23 July 2021 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het voorwaar een van sy pragtige inwoners verloor met die dood van die liefdevolle tannie Sufreen Mienie van Louis Trichardt, slegs vier dae na haar 88ste verjaarsdag.

“Dit is nog so onwerklik vir ons, maar sy is op ‘n beter plek,” het haar seun Nick gesê.

Alhoewel tannie Sufreen sedert 2016 drie keer per week dialise moes kry weens nierprobleme, was sy nog verbasend gesond en heel aan die gang vir haar ouderdom. Haar gesondheid het egter in die paar dae voor haar dood dramaties agteruitgegaan.

Volgens Nick het hulle sy ma kort voor haar dood vir Covid-19 laat toets, nadat sy sleg begin voel het. Die toets was negatief, maar tannie Sufreen is wel behandel vir ‘n lugweginfeksie. “Tydens haar laaste dialise het sy asemnood ontwikkel. Ons het haar hospitaal toe gevat en weer laat toets. Dié keer het sy positief getoets. Ek dink dit was maar die Covid gewees – haar liggaam kon nie die virus hanteer nie,” het Nick gesê. Sy ma is vyfuur die oggend van 15 Julie in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.

Tannie Sufreen was aanvanklik ‘n nooi van die Paarl in die Kaap wat in 1967 saam met haar man, Nick, na Louis Trichardt verhuis het. ‘n Jaar later is die egpaar se enigste kind, Nick (junior), gebore. Tragedie sou egter die familie in 1974 tref toe Nick (senior), wat aanvanklik ‘n makelaar was, in ‘n motorongeluk oorlede is. Dit was egter nadat hy vir sy jong familie die pragtige Kaapse gewelhuis aan die bo-punt van Presidentstraat laat bou het met oorlede oom Stompie Steyn as die kontrakteur. Tot vandag toe nog bly die familie in hierdie huis.

Baie sal vir tannie Sufreen onthou vir haar jarelange verbintenis met die plaaslike poskantoor. Sy het vir dekades daar gewerk tot en met haar aftrede, waarna sy weer terug is poskantoor toe om te gaan uithelp tot op die ouderdom van amper 70 jaar. Tannie Sufreen was ‘n baie meelewende Christen en kerkmens en het aktief ingeskakel by haar gemeente, die NG Kerk Soutpansberg. Selfs met die kroniese dialise was sy altyd stylvol en trots.

Nick sê hy onthou sy ma as iemand wat nooit gekla het nie. “Sy het nie een dag in haar lewe oor iets gekla nie. Sy was die een wat altyd daar was vir almal, maak nie saak wie of wanneer nie. Sy het ‘n vrou wat by ons gewerk het en dood is se kind deur die skool gesit ... dit was die tipe mens wat sy was,” het Nick gesê.

Teen druktyd was nog geen finale reëlings getref ten opsigte van ‘n roudiens vir tannie Sufreen nie. Wanneer hierdie reëlings bekend is, sal familie en vriende in kennis gestel word. “Ons as familie wil regtig baie dankie sê aan dokter Emil Gaigher. Hy het regtig uit sy pad gegaan om my ma te help in haar laaste paar dae. Dankie ook aan die personeel van die privaathospitaal vir julle omgee, so ook die Soutpansberg-gemeenskap vir julle woorde van vertroosting en bystand,” het Nick gesê.

Wyle tannie Sufreen Mienie word oorleef deur haar seun Nick, skoondogter Rita en kleinkinders Danie en Junior.

 

 
 
 

Viewed: 1570

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT