ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Louis van den Heever (69). Foto verskaf.

Hartseer vaarwel aan geliefde apteker

Date: 15 July 2021 By: Pétria de Vaal

“Meneer Louis Trichardt”. Só het baie mense in die gemeenskap vir Louis van den Heever, bekende apteker en eienaar van Marius Brönn Apteek, geken en sal hom ook so onthou. Hy was beslis ‘n groot pilaar in die gemeenskap.

Die nuus dat Louis skielik verlede Woensdagmiddag weens Covid-komplikasies oorlede is, het vir baie as ‘n groot skok gekom. Volgens Louis se hartseer vrou, Ilona, het hulle albei op Donderdag, 1 Julie, laat toets vir Covid-19, omdat hulle hoë koors gehad het. “Donderdagaand het ons die uitslag gekry dat ons albei positief is. Ons het reeds die oggend die apteek as voorsorgmaatreël toegemaak, sodat ons eers die uitslae kon kry. Dr. Badenhorst het Vrydag sy suurstofmasjien vir Louis geleen wat hy tuis gebruik het. Sy suurstofvlak wou maar net nie bo 90 nie - dit was heeltyd in die tagtigs. Dit het elke dag minder geword,” sê ‘n diep bedroefde Ilona.

Maandagoggend vroeg het Ilona vir Louis na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem. Sy suurstof het toe gespring tussen 19 en 31. “Hy was daar op suurstof vir die dag, terwyl hulle vir hom in intensiewesorg 'n bed gesoek het. Hulle het ons teen vieruur die middag laat weet dat daar ‘n bed beskikbaar was in Netcare Polokwane. Die ambulans het hom so 20:30 opgelaai en deurgevat Polokwane toe. Daar het hy net agteruitgegaan. Hy is Woensdag, 7 Julie, om 15:30 aan asemhalingsterkort oorlede en hulle kon hom nie weer bybring nie,” sê Ilona. Sy noem dat Louis ‘n baie gesonde mens was. Hy het geen ander siektes of gesondheidsprobleme gehad nie.

Louis Elias van den Heever is op 16 Desember 1951 in Springs gebore. Hy het in 1968 aan die Hoërskool Balfour gematrikuleer. Ná skool het hy sy een jaar diensplig gedoen en daarna aan die Potchefstroomse Universiteit gaan studeer, waar hy sy BSc. Pharm verwerf het. Hy was vir ‘n jaar lank in Vereeniging werksaam, waarna hy homself in 1974 op Louis Trichardt kom vestig het en in diens van die destydse Marius Brönn was. Kort daarna het hy die apteek by Marius Brönn oorgekoop.

“Die apteek - sy werk - was sy passie,” sê Ilona. “Sy kliënte was sy passie, sy uitgebreide familie. Hy het elkeen op die naam geken, asook hulle geskiedenis. Hy het baie aande sy hart met my gedeel as hy bekommerd was oor ‘n pasiënt se gesondheid. Hy het nie vyfuur ophou werk nie. Sy kliënte-familie was altyd in sy gedagtes. Hy was lief vir almal, hy het nooit onderskei tussen ras, geloof, arm of ryk, mooi of lelik nie. Vir hom was almal iemand. Hy het elke dag met ‘n lied in sy hart opgestaan - elke dag vir my gesê: 'Nuwe dag, nuwe geleenthede',” sê Ilona.

Ilona bevestig dankbaar dat Louis nooit ‘n 'af' dag gehad nie. Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad en was enige tyd reg met ‘n grappie vir enigiemand wat wou luister. Hy was lief vir die lewe, het die beste van elke dag en elke situasie gemaak. “Hy was verskriklik wys; niemand het geskroom om sy raad of leiding te vra oor dinge nie. Almal het geweet hulle sal sy eerlike opinie en goeie raad kry. Dit was vir hom lekker om elke oggend apteek toe te gaan. Louis was ALTYD positief, maak nie saak wat die situasie of omstandighede was nie,” sê Ilona.

“Louis het sy passie vir visvang so nege jaar gelede herontdek. Baie mense ken hom as ‘n formidabele visserman! Visvang op see was natuurlik sy lekkerste lekker. Hy was lief vir sy tuin en het elke oggend en elke middag ná werk sy rondte in die tuin gedoen om te kyk of alles reg is,” onthou Ilona met deernis. “Niks was ooit vir hom te veel moeite nie,” sê sy.

Louis het gedurende die 1990’s Kilimandjaro geklim. Dit was vir hom ‘n groot hoogtepunt. In sy jonger lewe het hy baie gestap en berg geklim. Hy was altyd aktief, lief vir fietsry. “Hy was ‘n regte besige bytjie – het nooit stilgesit nie,” sê Ilona. 

Volgens Ilona was Louis ‘n nederige mens, en hy was altyd baie bewus daarvan dat alles wat hy het net genade van Bo is. “Alles wat goed is in my het ek by Louis geleer. Hy het só baie geduld gehad, was só ongelooflik verdraagsaam,” sê Ilona.

Ilona bevestig dat Marius Brönn Apteek steeds sal voortbestaan. “Dit is wat hy graag wou gehad het. Dit was sy lewenstaak gewees. Ons het ‘n goeie kliëntefamilie en vertrou dat die apteek steeds van krag tot krag sal gaan,” sê sy. Ilona noem moedig dat sy elke dag haar bes gaan doen om nie vir Louis in die steek te laat nie.

Louis het twee seuns, sy oudste (Jurgens) en jongste (Louis), aan die dood afgestaan. Hy word oorleef deur Ilona, sy twee seuns Nicholas en Shaun van den Heever, skoondogter Marjorie van den Heever en kleinkinders Louis, Mia en Dawid. As gevolg van Covid-19 maatreëls word ‘n private roudiens vanuit die AGS Kerk gehou.

 

 
 
 

Viewed: 3298

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT