ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bo na onder, van links na regs: Dirk van den Berg, Greg Stewart, Madelein Sadie, Regine Bouwer en Riana Muller. Foto's verskaf.

Onderwysers gee steun aan inentingsproses

Date: 02 July 2021 By: Pétria de Vaal

Plaaslike onderwysers het die afgelope week openlik hulle steun gewys ten opsigte van die regering se inentingsprogram teen die gevreesde Covid-19 virus.

“Hoewel die inenting  nie verpligtend is nie, het alle hoërskoolpersoneel aangedui dat hulle dit wil ontvang,” sê mnr. Theo Muller, hoof van Hoërskool Louis Trichardt. Hy spreek ook sy dank uit teenoor die distriks- en plaaslike kringkantoor wat uit hulle pad gegaan het om reëlings te finaliseer. Hierdie sentiment is ook gedeel deur me. Irene Adendorff, hoof van Laerskool Louis Trichardt.

Onderwyser-inentings is op 25 en 26 Junie deur die Departement van Gesondheid by die skouterrein op Louis Trichardt gedoen. Die eenmalige Johnson en Johnson inenting word gebruik. Die feit dat alle departementele onderwyspersoneel se besonderhede alreeds elektronies opgelaai is op die Departement van Gesondheid se elektroniese inentingverskaffingsisteem (EVD) sisteem, het alles vergemaklik. Beheerliggaam-aangestelde personeel, skoonmakers en administratiewe personeel behoort binnekort ook hulle inenting te ontvang. Sommige skole is geskeduleer vir 2 en 3 Julie.

‘n Paar onderwysers van Laerskool Louis Trichardt het openlik hulle ervaring van die inentingsprosedure en –gevolge (al dan nie) gedeel.

Dirk van den Berg was baie beïndruk met die professionaliteit en vriendelikheid van die gesondheidspersoneel by die inentingstasie waar hy was. “Die hele proses het maar so tussen vier en vyf minute geneem en die inenting was glad nie seer nie. Ek kon alles sien, byvoorbeeld die spuit asook die buis waaruit die entstof gehaal word. Ek het geen bekommernis oor die proses gehad nie. Die SMS het onmiddellik na my foon toe deurgekom wat alles bevestig het,” sê hy. Hy was gelukkig om geen newe-effekte daarna te hê nie. “Net soos die medici, is ek ook pro-inenting,” sê Dirk. 

Madelein Sadie is dankbaar dat sy vinnig kon in- en uitglip. Die hele proses het haar minder as 30 minute geneem. Sy sê dat daar wel mense was wat vir ure in die ry gewag het. “Teen die tyd wat ek Saterdag opgedaag het, was die rye baie korter, aangesien die grootste gros reeds afgehandel was. Die personeel wat daar werk was baie bekwaam, vriendelik en behulpsaam. Ek het eers geen newe-effekte gehad nie en toe kry ek skielik Sondag kouekoors en lyfseer. Dit was egter van korte duur. Na vyf ure se koud kry en pyn was ek weer my gewone self. So asof niks met my gebeur het nie!”

“Ek is Saterdag net voor 17:00 gekontak en meegedeel dat ek kon gaan vir ‘n inenting,” sê Riana Muller. “Die wyse waarop ek ontvang is, was regtig aangenaam. Ons kringbestuurder, mnr. Baloyi, was self besig om mense te ontvang en te saniteer. Ten spyte van twee lang dae was die personeel vriendelik, flink en baie bekwaam. Ek het my inenting 17:04 ontvang en 17:20 was ek op pad huis toe. Ongelukkig het ek bietjie newe-effekte gehad Sondag - kouekoors en lyfseer. Teen Maandag was ek amper oor alles en het net nog so ‘n bietjie kopseer gehad,” sê sy.

Vir Greg Stewart was die ervaring positief. “Ek het die personeel as baie professioneel beleef. Ek was in en uit binne een-en-‘n-halwe-uur en het geen newe-effekte ontwikkel nie. Ek was aangenaam verras gewees met die hele ervaring,” sê Greg.

Regine Bouwer is ook op 26 Junie ingeënt. “Ek het vooraf gehoor dat sommige onderwysers drie tot vier ure in ‘n ry moes staan om ingeënt te word. Ek het myself dus vir soortgelyke omstandighede voorberei. By die skougronde aangekom, is ek onmiddellik ontsmet en is die prosedure vriendelik aan my verduidelik. Elke vyf minute was daar 'n beampte wat weer almal se hande ontsmet het. Ek is gelukkig binne ‘n uur-en-‘n-half ingeënt. Ek is deurgaans hoflik en professioneel behandel. Alle moontlike Covid reëls is so getrou as moontlik uitgevoer. Die algemene atmosfeer onder die onderwysers was gedemp, moontlik omdat ek in die ouer groep van onderwysers val,” sê Regine. Sy is ook een van die gelukkiges wat geen newe-effekte gehad het nie.

 

 
 
 

Viewed: 1345

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT