ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Theo Muller (links) en me. Irene Adendorff (regs). Foto's verskaf.

Hoofde nie gekant teen sluiting van skole

Date: 02 July 2021 By: Pétria de Vaal

Met President Cyril Ramaphosa se aankondiging van ‘n Vlak 4-inperking as maatreël om die toename in Covid-gevalle onder beheer te kry, sluit skole vandeesweek en nie meer op 9 Julie soos beplan nie.

“Ons voel dat dit nodig is om die skole vroeër te sluit, aangesien al hoe meer kinders (en ouers) óf positief getoets word, óf in aanraking met positiewe Covid-gevalle was en moet isoleer.”  Aldus mnr. Theo Muller, skoolhoof van Hoërskool Louis Trichardt. “Tans het ons slegs een onderwyser wat isoleer,” sê Muller.

Hy noem ook dat die Suid-Afrikaanse Onderwysers-unie reeds ongeveer ‘n maand vantevore oor ’n moontlike vervroegde sluiting gepraat het, wat ten gevolge het dat die skool voorbereid was hierop.

“Leerders is tans besig met ‘n toetsreeks. Hulle het tot Woensdagoggend 12:00 geskryf. Diegene vir wie daar nog toetse geskeduleer is tot Vrydag kom Donderdag en Vrydag skool toe om te skryf. Teen Vrydag is alles dus afgehandel,” sê Muller.

Me. Irene Adendorff, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, noem dat die ouers van ‘n paar leerders vanaf verlede week die skool ingelig het dat hulle kinders se Covid-19 toetsuitslae positief was. Sommige van die leerders was alreeds vir ‘n paar dae by die huis voordat die uitslae bekend was. 

“Die skool het volgens die Departement van Basiese Onderwys se Hersiene Standaard Bedryfspraktyke opgetree. Buiten vir die positiewe gevalle, is enige leerders wat in noue kontak met dié leerders was in self-isolasie geplaas.  Die nodige veiligheids- en voorsorgmaatreëls is in plek en word deurlopend toegepas,” sê Adendorff.

Adendorff bevestig dat elke geval skriftelik aan die Departement van Basiese Onderwys, asook aan die Departement van Gesondheid, gerapporteer word. Die kringbestuurder, asook die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, is verwittig. Die ouers van die skool is ook ingelig.

“Slegs een onderwyseres is ‘n paar weke gelede positief getoets. Sy het dadelik self-isolasie toegepas. Daar is leerders, asook onderwysers, wat in self-isolasie is weens die feit dat hulle in kontak was met ‘n positiewe geval (bv. ‘n familielid of kennis) buite die skool,” voeg Adendorff by. Sy noem ook dat party ouers se toetsuitslae positief was en hulle in self-isolasie geplaas is.

“Ons is dankbaar dat die nodige voorgeskrewe protokol ten opsigte van Covid-19 goed toegepas word en dat al die rolspelers baie goed saamwerk om die veiligheid van ons leerders, personeel en ouers te verseker.  Met die toename in gevalle landswyd, maar ook in ons eie gemeenskap, is ons as skool nie gekant teen die vroeë sluiting van die skole nie. Die kwartaal se akademiese- en assesseringsprogram is op datum, danksy ‘n toegewyde personeelkorps. Die veiligheid van die leerders en personeel bly ons prioriteit tydens die pandemie,” sê Adendorff.

 

 
 
 

Viewed: 940

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT