ADVERTISEMENT:

 

 
 

Verkeer op die N1 in beide rigtings het vir kilometers opgehoop vanweë die gas-tenkwa wat naby die Waterpoort-afdraai aan die brand geslaan het. Gespesialiseerde personeel is na die toneel ontbied wat die oorblywende gas in die beskadigde tenkwa veilig na ‘n ander tenkwa kon oorplaas. Die oorblywende gas is “afgebrand”, waarna die N1 weer oopgestel is. Foto's verskaf.

N1 vir ure gesluit ná gas-tenkwa brand

Date: 01 July 2021 By: Andries van Zyl

Verkeer het vir etlike kilometers opgehoop op die N1 tussen Louis Trichardt en Musina nadat hierdie besige hoofroete van Suid-Afrika vir bykans 18 ure gesluit is weens ‘n gas-tenkwa wat Maandagmiddag aan die brand geslaan het.

Die tenkwa se vlamme kon gelukkig betyds geblus word, voordat die hoogs ontvlambare vrag LP-gas kon ontplof. Skade aan die vragmotor het egter veroorsaak dat die N1 Maandag kort na 14:00 vir veiligheidsdoeleindes gesluit moes word. Talle motoriste en vragmotorbestuurders is hierdeur gestrand gelaat. Die wat nie kon omdraai nie, moes ‘n koue nag op die N1 in hulle voertuie spandeer, alvorens die pad uiteindelik Dinsdag net ná 08:00 weer oopgestel is.

Madoda Mthembu, SANRAL se operasionele- en instandhoudingsbestuurder in die Noord Streek, het Dinsdagmiddag by navraag die voorval bevestig en gesê die N1 moes gesluit word nadat die tenkwa weens die brand ‘n lekkasie opgedoen het. Hy het gesê gespesialiseerde personeel is na die toneel ontbied wat die oorblywende gas in die beskadigde tenkwa veilig na ‘n ander tenkwa kon oorplaas. Die oorblywende gas, het Mthembu gesê, is “afgebrand”, waarna die N1 weer oopgestel is vir verkeer.

Alhoewel almal begrip het vir die gevaarlike situasie wat weens die gaslek ontstaan het, het sommige motoriste en vragmotorbestuurders se gemoedere hoog geloop weens die urelange oponthoud om die pad weer oop te kry.

Oud-inwoner Gideon Meiring, wat tans bietjie vakansie hou op Tshipise, was een van hierdie ontstoke motoriste. Onbewus dat die pad steeds vroeg Dinsdagoggend gesluit was, het hy na Louis Trichardt gereis vir ‘n besoek. Sy hele dag is egter ontsier toe hy hom vasgery het in ‘n massiewe verkeersopeenhoping digby die Waterpoort-afdraai.

Uit frustrasie het Meiring toe maar weer omgedraai, terug Tshipise toe. “Kan jy glo, by die tolhek wou hulle my weer laat betaal, nadat ek reeds betaal het toe ek Louis Trichardt toe wou kom! Ek het vir hulle gesê: Dit sal die dag wees! Ek het uit my voertuig geklim, die veiligheidskegels uit die pad gehaal en om die tolhek gery,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring was die minste wat die padowerheid kon doen om mense by die tolhek in te lig dat die pad gesluit is en watter alternatiewe roete(s) gebruik kon word. “Hulle kan mos nie ‘n ou se geld vat, sy tyd mors en nie praat nie, terwyl jy weet die pad is toe nie,” het Meiring gesê. “En wat van die vragmotorbestuurders wat nie kon omdraai nie? Hulle moes vir ure lank sonder kos en water sit. Dit is darem nie billik nie,” het Meiring gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1248

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT