ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 29-jarige Danie Duvenhage (links) en sy 52-jarige pa André (regs) wat op 28 Mei op Bandelierkop doodgeskiet is. Foto verskaf.

Nuwe wending in saak oor pa en seun se dood

Date: 24 June 2021 By: Andries van Zyl

Bykans ‘n maand nadat ‘n 33-jarige man by Bandelierkop gearresteer is nadat die 52-jarige André Duvenhage en sy 29-jarige seun Danie doodgeskiet is in ‘n moontlike padwoede insident, het die saak die afgelope week ‘n nuwe wending geneem.

Die provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Polokwane, me. Mashudu Malabi, het Maandag bevestig dat die saak Vrydag na die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) verwys is vir ‘n beslissing of die man vervolg gaan word of nie.

Die familie het kort ná die noodlottige skietery gesê die voorval het niks met padwoede te doen gehad nie. “Dit was nie padwoede nie. Dit was uittarting gewees!” het Danie se ma, Amanda, aan die Zoutpansberger gesê.

Die koelbloedigheid van die voorval die aand van 28 Mei by die Viva-vulstasie op Bandelierkop het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en ook nasionaal nuusopslae gemaak. Die voorval het op die N1 suid tussen Louis Trichardt en Bandelierkop begin ontvou, nadat die 33-jarige bestuurder van ‘n minibus Danie verbygesteek het, waarna ‘n alterkasie tussen hom en Danie op die pad ontstaan het. Danie en sy vrou, Catherine van Dyk, en hul tweejarige seun Gideon was onderweg na Danie se pa, André, wat op Bandelierkop gewoon het.

By Bandelierkop het die bestuurder by die vulstasie ingedraai. Danie het vir Catherine en Gideon by die hotel gaan aflaai waar André gewoon het, waarna André saam met Danie terug is na die vulstasie toe. Hier het die insident geëskaleer en die man in die minibus het op Danie-hulle geskiet. Danie is op die toneel dood. Sy pa is met sy aankoms by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal dood verklaar. In die proses het die bestuurder van die minibus homself in die been gewond met sy eie vuurwapen.

Die man is op die toneel gearresteer op twee klagte van moord. Hy is daarna hospitaal toe geneem en onder polisiebewaking geplaas.

Sowat twee weke ná die insident het Malabi bevestig dat die man weens die ernstige aard van sy skietwond steeds onder polisiebewaking in die hospitaal was en dat hy nog nie in die hof verskyn het nie, alhoewel die 48-uur tydperk waarbinne ‘n beskuldigde in die hof moet verskyn reeds verstryk het.

Hierdie week het aan die lig gekom dat die 33-jarige man steeds nie in enige hof verskyn het nie en intussen vrygelaat is. Nie-amptelik kon bevestig word dat hy vrygelaat is omdat hy nie ‘n vlugrisiko is nie. Hierdie inligting het aan die lig gekom ná die nuus dat die saak na die DOV verwys is vir beslissing.

Baie mense mag dalk vrae hieroor hê. Regskenners meen egter dat dit ‘n normale verloop van die regsproses is en nie beteken dat die saak nou ten einde geloop het nie. As deel van die normale regsproses kon die man, weens sy hospitalisasie, nie binne 48 uur in die hof verskyn nie. Daardie bepaling van die regsproses het dus verval en die man is ontslaan uit die hospitaal en vrygelaat nadat hy gesond genoeg was. Dit beteken egter nie dat hy nie wel steeds aangekla kan word nie. Dit is juis hieroor wat die DOV nou moet besluit. Alle omstandighede en beskikbare bewysstukke oor die voorval sal ‘n rol speel ten opsigte van die DOV se finale beslissing oor die saak. Dit sluit in die beeldmateriaal oor die verloop van gebeure wat op die vulstasie se sekuriteitskameras vasgevang is.

 
 
 

Viewed: 2947

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT