ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die afgelope naweek se skietery volg op ‘n reeks ander skietvoorvalle die voorafgaande drie weke, ongelukkig almal van hulle noodlottig.

Skietvoorvalle neem kommerwekkend toe

Date: 18 June 2021 By: Andries van Zyl

Skietvoorvalle in en om Louis Trichardt neem kommerwekkend toe en inwoners moet dalk maar deesdae liefs met die spreekwoordelik “een oog oop” moet slaap - veral gesien in die lig van die mees onlangse skietery in Louis Trichardt gedurende die vroeë oggendure van Sondag, 13 Junie.

Menige inwoner in die Nuwe Uitbreiding oos van die N1 is net ná 03:30 uit hulle rustige winterslaap wakker geruk deur verskeie geweerskote. Nie lank daarna nie het navrae hieroor op die Soutpansberg Dorpswag se WhatsApp groep verskyn, waarop die dorpswag se beheerkamer gereageer het: “Ons is besig met [die] polisie om te ondersoek”.

Teen kerktyd Sondagoggend het die tonge behoorlik oor die skietery gegons. Die weergawes van wat gebeur het, het gewissel van agt tot 11 skote wat getel is. Ander het gemeen die “skote” was eintlik ‘n voertuig wat ge-backfire het. ‘n Ou Volkswagen Golf in die omgewing sukkel blykbaar met hierdie slegte gewoonte.

Teen laat Sondagmiddag het die volgende inskrywing (uit Engels vertaal) op die dorpswag se WhatsApp-groep verskyn: “Gedurende die vroeë oggendure vanoggend was daar ‘n poging tot inbraak by ‘n woning in die Nuwe Uitbreiding. Tydens [die] voorval het die verdagtes verskeie skote afgevuur. NIEMAND is beseer nie. Ons versoek alle inwoners om ekstra voorsorgmaatreëls te neem vir hulle eie veiligheid aangesien kriminele aktiwiteite in en om die dorp aan die toeneem is. Wees asseblief paraat en bly veilig!”

Die Zoutpansberger het Maandag vir plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane gepols vir meer inligting oor die voorval. Sy het die voorval bevestig en gesê dat twee verdagtes blykbaar besig was om by ‘n huis in Proteastraat in te breek. Die klaer [huiseienaar] het blykbaar wakker geword en gaan ondersoek instel. “Die klaer het sowat ses skote gehoor en gesien hoe een van die mans sy televisie optel,” het Radzilane gesê. Wie die skote afgevuur het, het Radzilane gesê, weet hulle nie. Sy kon wel bevestig dat nog niemand in verband met die voorval gearresteer is nie.

Die afgelope naweek se skietery volg op ‘n reeks ander skietvoorvalle die voorafgaande drie weke, ongelukkig almal van hulle noodlottig. Die aand van 29 Mei het inwoners die skoknuus ontvang dat ‘n 33-jarige minibus-taxi bestuurder die 52-jarige André Duvenhage en sy 29-jarige seun Danie tydens ‘n beweerde padwoede voorval by die Viva-vulstasie op Bandelierkop doodgeskiet het. In die proses het die taxibestuurder homself in die been geskiet. Teen druktyd hierdie week kon niemand nog bevestig of die taxibestuurder, wat ná die voorval op twee klagte van moord gearresteer is, nog in die hospitaal was en of hy al in die hof verskyn het op die klagte teen hom nie.

Skaars 48 uur later het nog ‘n noodlottige skietvoorval waarby lede van die Makhado polisie betrokke was, voorgekom. Hulle het ‘n man Sondagoggend, 30 Mei, in Louis Trichardt doodgeskiet, nadat hulle die man gekonfronteer het. Die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek tans die saak. Dieselfde dag is die 38-jarige me. Lowisa Papo by haar huis in Madodonga doodgeskiet, nadat sy omstreeks 19:00 die deur gaan oopmaak het vir iemand wat geklop het. Haar drie-maande oue baba is kritiek gewond in die skietery.

Die slagting het hierdie week voortgeduur. By Itsani buite Thohoyandou is ‘n 43-jarige ma van vyf en vroue taxibestuurder Vrydagaand, 11 Junie, doodgeskiet. Die vrou, me. Azwianewi Thelma Ramuntshi, is voor haar huis in haar minibus taxi geskiet. Ook in die Thohoyandou area gons die tonge ook behoorlik, nadat die liggaam van ‘n bekende plaaslike sakeman, mnr. Naledzani Munyai, Saterdag, 12 Junie, uitgeken is deur sy familie. Sy liggaam, met verskeie koeëlwonde en toegedraai in plastiek, is op 9 Junie in die bergagtige gebied buite Tshidzivhe gevind. In daardie stadium was sy identiteit onbekend.

 

 
 
 

Viewed: 1138

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT