ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pa en seun André (52) en Danie (29) Duvenhage was onafskeidbaar van mekaar. Hulle is Vrydag na bewering deur ‘n taxibestuurder by die Viva-vulstasie op Bandelierkop doodgeskiet. Foto’s verskaf.

Talle vrae na pa en seun doodgeskiet word

Date: 04 June 2021 By: Andries van Zyl

Inwoners van die Soutpansberg staan steeds oorbluf oor die gebeure wat daartoe gelei het dat ‘n taxibestuurder Vrydagaand, 28 Mei, die 52-jarige André Duvenhage en sy 29-jarige seun Danie by die Viva-vulstasie op Bandelierkop doodgeskiet het in ‘n beweerde padwoede insident.

“Dit was nie padwoede nie. Dit was uittarting gewees!” het Danie se ma, Amanda, Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

“Die taxi wou verby gegaan het, maar daar was nie plek gewees nie, want ons het agter ‘n vragmotor gery. Toe probeer hy ons van die pad af druk. Hy het links by ons verbygekom en ons toe ‘n hele paar keer voor aankomende verkeer probeer indruk,” het Danie se verloofde, die 29-jarige Catherine van Dyk, gesê. Sy en Danie ken mekaar al van Graad 5 af, was saam op skool op Louis Trichardt en sou op 2 April 2022, ‘n dag na Danie se 30ste verjaarsdag, getrou het.

André, Danie se pa, het by die Bandelierkop Hotel gewoon vanwaar hy sekuriteitskameras vir boere op hul plase geïnstalleer het. Danie, Catherine en hulle tweejarige seun, Gideon, was op pad na André toe waar hulle die aand sou oorbly om die volgende dag Catherine se sussie se 21ste verjaardag in Polokwane by te woon. Die insident het begin ontvou terwyl Danie-hulle nog op pad was Bandelierkop toe.

“Die taxi het later by ons verby gegaan en toe sy spoed drasties verminder ... Ek kon letterlik uit die bakkie uitklim en verby hom loop, maar ek het vir Danie gesê hy moet asseblief nie verby gaan nie. Ek het ‘n slegte voorgevoel daaroor gehad ... ons het daardie aand vir ons lewens gevrees,” het Catherine gesê.

Terwyl die insident hom ontvou het, het Danie sy pa geskakel. By Bandelierkop het Danie reguit na die hotel gery, terwyl die taxibestuurder by die vulstasie ingedraai het. By die hotel aangekom, het Danie vir Catherine en Gideon afgelaai met sy pa wat saam met hom in die bakkie ingeklim het en teruggery het vulstasie toe. “Dit het alles so vinnig gebeur,” het Catherine gesê. Oomblikke later sou hulle die boodskap ontvang dat Danie-hulle geskiet is.

Catherine het vulstasie toe gehardloop. “Daar was klomp mense daar gewees. Ek het oom André gesien lê op die grond langs die bakkie ... Ek het gevra waar Danie is, maar almal het gesê hulle weet nie ... Ek het toe gesien daar lê iemand in die tuin. Dit is toe wat ek op hom afgekom het, maar die polisie het my gekeer. ‘n Vriend van my was ook reeds daar. Hy het my ook gekeer en vir my gesê hy het seker gemaak Danie is nie meer met ons nie,”

André is in die maag gewond en is met sy aankoms by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal oorlede. Danie is in die rug geskiet en is op die toneel dood. Die 33-jarige taxibestuurder het homself ook in die been geskiet tydens die skietery.

Volgens beide Catherine en Amanda is videomateriaal oor die voorval op die vulstasie se sekuriteitskameras opgeneem. Alhoewel die beeldmateriaal aan die polisie oorhandig is, het Catherine-hulle self nog nie na die beeldmateriaal gekyk nie. “Eerlikwaar, ons weet nie wat daar gebeur het nie. Ek vra vir almal, maar niemand wil regtig praat daaroor nie. Ek soek nog antwoorde,” het Catherine gesê. Sy het gesê dit maak hulle as familie kwaad as almal nou spekuleer oor wat hulle dink gebeur het. “Een artikel het gesê Danie het met ‘n mes uit sy bakkie geklim. Dit was nie Danie se geaardheid nie. Niemand kon dit egter bevestig nie. Al hierdie dinge sal deel vorm van die polisieondersoek. Sover was die polisie baie behulpsaam,” het Catherine gesê. In dieselfde asem het sy mense versoek om nie hulle ore uit te leen aan stories oor die gebeure wat heel moontlik nie waar is nie.

“Al hoekom ek dink hulle wou daardie aand die taxibestuurder gaan konfronteer het, was omdat hy ons lewens in gevaar gestel het. Ek en Gideon was Danie se hele lewe gewees en ek, Gideon en Danie was oom André se hele lewe ... Almal sê los dit, maar ek glo Danie en sy pa het daardie aand opgestaan vir iets waarin hulle geglo het,” het Catherine gesê. “Danie en sy pa was baie naby aan mekaar gewees, soos ook Danie en sy boetie Deon. Onafskeidbaar,” het Amanda bygevoeg.

‘n Gesamentlik roudiens vir André en Danie vind eerskomende Maandag, 7 Junie, vanuit die APK op Louis Trichardt plaas. Die diens begin om 10:00. André word oorleef deur sy broers Hannes, Koos en Louis en suster Christine. Danie word oorleef deur verloofde Catherine, seun Gideon, ma Amanda en broer Deon. Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor National Legal Aid, wat onderneem het om die roudiens gratis vir die familie te doen. Dank gaan ook aan Rocco Jonker van Letaba Wireless, waar Danie werksaam was, vir al sy hulp en bystand. “Baie dankie ook aan almal wat op die toneel gehelp het en die gemeenskap in die breë vir almal se hulp en onderskraging,” het die familie gesê.

“Alles is steeds nog so onwerklik! Ons het so baie planne gehad. Dit was so onnodig. Mens verwag nie dat so iets ooit sal gebeur nie,” het ‘n bewoë Catherine afgesluit.

Provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag me. Mashudu Malabi het by navraag bevestig dat die 33-jarige taxibestuurder teen druktyd steeds onder polisie bewaking in die hospitaal was vanweë die skietwond wat hy homself toegedien het. In ‘n polisieverklaring wat ná die insident uitgereik is, het provinsiale polisiewoordvoerder Brigadier Motlafela Mojapelo bevestig dat die taxibestuurder twee klagte van moord in die gesig staar. Die vuurwapen wat in die voorval gebruik is, is gekonfiskeer en vir ballistiese toetse gestuur. Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het ook ‘n volskaalse ondersoek geloods na die oorsprong van die vuurwapen wat gebruik is, asook sy eienaar en die omstandighede wat tot die skietery gelei het.

 

 
 
 

Viewed: 4888

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT