ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Pieter Pretorius (48). Foto verskaf.

Niks kon familie voorberei op Pieter se skielike dood

Date: 28 May 2021 By: Andries van Zyl

Te midde van waarskuwings ten opsigte van die Covid-19 “derde vlaag” wat in aantog is, het Louis Trichardt die afgelope week nog een van sy geliefde inwoners weens dié gevreesde virus aan die dood afgestaan.

Inwoners het met skok gereageer op die nuus van die skielike dood van die 48-jarige Pieter Pretorius, ook bekend as Pierra of Piet Plakkies aan sy familie en vriende, op Donderdag, 20 Mei. Volgens sy vrou Helanie, het Pieter die oggend asemnood begin ondervind en ‘n ambulans is ontbied om hom te kom oplaai by hul plaaswoning net buite die dorp naby die Adam’s Apple Hotel. “Maar dit was te laat gewees. Hy is omtrent 'n halfuur nadat hy by die hospitaal aangekom het oorlede,” het Helanie gesê.

Niks, het Helanie gesê, kon hulle as familie voorberei vir hoe vinnig die virus sy tol geëis het nie. Sy het gesê Pieter was baie bang vir die virus en het baie voorsorg getref om nie die virus op te doen nie. Dat hy daarvan sou sterf was die laaste ding in hulle gedagtes. "Mense verstaan nie die erns van die siekte nie. Tot nou toe weet ons nie hoe die virus by ons uitgekom het nie," het Helanie gesê.

Volgens Helanie het Pieter Vrydag, 14 Mei, begin siek word. “Hy het by die huis gekom en gesê hy voel nie baie lekker nie. Saterdag [15de] het hy vir my gesê dit voel of hy nou regtig griepsimptome het, want sy hele lyf is baie seer. Hy het ook koors gehad,” het Helanie vertel.

Teen Sondag het Pieter se toestand vererger, tot so ‘n mate dat Helanie hom wou hospitaal toe neem. Maar Pieter het vir haar gesê dit is nie nodig nie. “Dinsdagoggend [18de] het hy hom laat toets vir Covid-19. Woensdagoggend 06:30 het ons die uitslae gekry. Hy was positief. Donderdagoggend is hy oorlede,” het Helanie gesê.

Teen Woensdag hierdie week was Helanie en haar twee dogters, Liané (‘n tweedejaar universiteitstudent) en Mienke (‘n Graad 11-leerling van Hoërskool Ben Vorster) nog in kwarantyn. Hulle het hulle verlede Donderdag gaan toets en Vrydag gehoor dat ook hulle positief getoets het vir die virus. “Ons het so ‘n bietjie borspyn gekry, meer kouekoors gehad en so ‘n bietjie smaak en reuk verloor, maar ons is nou weer reg,” het Helanie gesê.

Baie sal vir Pieter onthou vir sy sakebelange in die transportbedryf. Dit het ingesluit ‘n onderneming wat vragmotors herstel in Musina en vragmotors van sy eie. “Hy het altyd gesê hy het diesel in sy are,” het Helanie haar man onthou met ‘n glimlag.

‘n Begrafnisdiens vir wyle Pieter vind Maandag, 31 Mei, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Wyle Pieter word oorleef deur sy vrou Helanie, dogters Mienke en Liané, ouers Gerhard en Rina Pretorius en susters Hannelie en Christelle. Hy sal later op Levubu begrawe word.

Helanie het haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat hulle as familie bygestaan het tydens en ná afloop van Pieter se afsterwe. Sy het ‘n spesiale woord van dank gerig aan Nico Richter, Johan Haasbroek, suster Hannelie, Jaco en Michelle van Tonder, Luke en Marié Enslin en Gerda Nagel van Mosaïek Begrafnisondernemers.

 

 
 
 

Viewed: 2341

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT