ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Mimi Greyling (39). Foto verskaf.

Mimi se dood 'n skok

Date: 28 May 2021 By: Andries van Zyl

Huldeblyke het die afgelope week van oral ingestroom vir die ontslape Mimi Greyling van Louis Trichardt, wat kort voor middernag Maandagaand aan ‘n massiewe hartaanval in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede is.

Die dood van hierdie 39-jarige sakevrou en eienaar van Mimi Greyling Rekenmeesters het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Haar man Lourens en die egpaar se drie seuns, Gerhard (13), Stefan (11) en Christiaan (6), is platgeslaan deur haar skielike dood.

Volgens Lourens het Mimi vroeër Maandagaand gekla van pyn in haar voorarms. Hy het toe besluit om haar eerder hospitaal toe te neem, sodat sy iets vir die pyn gegee kon word. Sy is egter kort ná haar aankoms by die hospitaal oorlede.

Lourens het gesê hulle as familie is stomgeslaan deur die gemeenskap se ondersteuning. “Ek het nie besef haar ‘klippie’ het so ‘n groot rimpel-effek gehad nie,” het Lourens Woensdag gesê. Hy besef daar lê vir hom en sy seuns ‘n moeilike tyd voor. “Maar ek het vir hulle die oggend ná haar dood wakker gemaak en vir hulle gesê: ‘Kyk, die son kom weer op en sal weer sak. Ons het nie ‘n ander keuse as om aan te gaan nie’,” het Lourens gesê.

Alhoewel haar dood steeds moeilik is om te verwerk, het Lourens gesê dat hy berusting daarin vind dat God een van sy “gunstelinge” kom haal het. Hy is dankbaar vir die jare wat hulle saam gedeel het. “Negentien jaar gelede was sy in ‘n groot motorongeluk. Ná drie dae in die hospitaal het dokter Pierre Burger vir haar familie gesê dat hulle moet hulle voorberei dat Mimi dit nie gaan maak nie. Op die ou end het sy 19 ekstra jare gekry en ook daarvolgens gelewe deur soveel moontlik te gedoen te kry, so vinnig as moontlik,” het Lourens gesê.

Wat laasgenoemde betref was Mimi bekend as iemand wat in alle aspekte van haar lewe uiters deeglik was. “As sy nie iets 100% kon doen nie, dan het sy dit nie aangepak nie,” het Lourens gesê. So ook het sy gelewe vir haar man en kinders. “Om 200% te gee, was vir haar halwe werk gewees … sy was ‘n ongelooflike Godvresende mens gewees en daar was nie ‘n ma wat liewer was vir haar kinders nie,” het Lourens bygevoeg. Haar deeglikheid en akkuraatheid met syfers was juis dit wat haar so gewild gemaak het onder haar kliënte.

‘n Troosdiens word eerskomende Sondag, 30 Mei, om 12:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente (Haantjiekerk) vir Mimi gehou. Sy word oorleef deur haar man, drie seuns, broer Pieter le Roux en suster Annette Wolmarans.

Lourens het sy opregte dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap vir hulle ongelooflike omgee. Hy het om verskoning gevra dat hy nie op almal se boodskappe kon reageer nie. “Maar wees verseker dat ons in die tyd wat voorlê nog baie op julle gaan steun,” het Lourens gesê.

Lourens sê hy vind ook vertroosting in die profetiese woorde wat Mimi gespreek het in ‘n Facebook-boodskap skaars ‘n halfuur voor haar dood. Die boodskap het gelees: “The will of God will never take you where the Grace of God will not protect you.”

“Ek is dankbaar dat die Here haar vir ons geleen het tot nou toe. Ek gun jou jou rus, my vrou. Hoekom moes jy jou werk so vinnig klaar maak? Lief jou tot ons anderdag weer bymekaar is,” skryf Lourens in 'n persoonlike boodskap aan sy vrou op Facebook. “Sy was my regterhand gewees,” het Lourens gesê.

 
 
 

Viewed: 2150

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT