ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Yvonne Jäckel (75) en haar man Frans. Foto verskaf.

Beminde oud-suster van die Soutpansberg oorlede

Date: 27 May 2021 By: Andries van Zyl

Inwoners van die Soutpansberg het die afgelope week met hartseer afskeid geneem van nog een van die streek se geliefde inwoners, die 75-jarige Yvonne Jäckel. Sy is Woensdag, 19 Mei, weens hartkomplikasies oorlede.

Yvonne sal onthou word as een van die streek se mees geliefde mediese susters. “Aanvanklik was sy werksaam by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal in beheer van die nagskof. Later jare is sy oor na die Zoutpansberg Privaathospitaal. Daar was sy hoofsuster en vir ‘n tydjie ook instaan matrone ... Sy was veral ‘n goeie kraamsuster gewees. Sy sou ná die tyd die gemeenskap bystaan met raad oor borsvoeding en om te kyk of die ma’s en babas gesond is,” het haar dogter Adele gesê.

Gebore 24 Junie 1945, was Yvonne oorspronklik ‘n nooi van Hoopstad. Op skool was sy ‘n uitblinker leerder en ook hoofdogter. “Wat sport betref het ons altyd vir haar gelag, want sy het altyd gesê sy het altyd derde gekom, maar daar was net drie wat deelgeneem het,” het Adele gesê. Baie sal Yvonne juis onthou vir haar skerp sin vir humor.

Alhoewel Yvonne ietwat met haar gesondheid gesukkel het, was sy nog heel aan die gang en haar dood was onverwags vir die familie. “Ons het nog twee weke gelede gaan inkopies doen. Voor dit het ons nog lekker saam gaan uiteet op Moedersdag … so ja, sy was nog op en top,” het Adele gesê.

Volgens Adele was haar ma ‘n ongelooflike sosiale mens gewees. “Daar waar die aksies was, daar was sy! Almal was lief vir haar gewees – almal wat haar ontmoet het,” het Adele gesê.

Yvonne het haar man Frans, wat in daardie stadium verbonde was aan die departement van landbou, gedurende haar studentejare ontmoet en drie dogters, Tania, Juanita en Adele, sou later uit die huwelik gebore word. Aanvanklik het die familie redelik rondgetrek weens die aard van Frans se werk as landboukundige. Hulle sou hulle egter uiteindelik op die familieplaas Abendburg op die Bluegumspoort-pas in die Soutpansberg vestig waar die Jäckel-familie spog met ‘n ryk geskiedenis. “My oupagrootjie was ‘n Duitse sendeling wat vanaf Berlyn hierna toe gekom het om sendingwerk nie net in die Soutpansberg te verrig nie, maar die hele ou Noord-Transvaal. Daardie tyd het hy nog sy sendingwerk te perd gedoen. Ter nagedagtenis aan hom is daar vir hom ‘n kerkie op die plaas gebou,” het Adele gesê. Alhoewel die plaas steeds in die familie se besit is, het Yvonne en Frans ‘n paar jaar gelede na ‘n ander plaaswoning naby die Bluegumspoort/N1-aansluiting getrek waar hulle gehuur het om nader aan die dorp te wees. Dit is ook hier waar Yvonne verlede week oorlede is.

“My ma was verskriklik hardwerkend en het nog tot die ouderdom van 70 skofte van 12 ure gewerk. Sy het ‘n passie vir mense gehad – regtigwaar ‘n ongelooflike vrou,” het Adele gesê.

Yvonne is veras en volgens Adele beplan hulle ‘n diens om haar ma se lewe te vier vir ‘n latere stadium. “Sy sou dit so wou gehad het. Sy was altyd ‘n bok vir sports gewees,” het Adele gesê. Die feit dat beide haar ander sussies oorsee woon, bemoeilik tans reëlings. Adele het egter gesê dat wanneer hulle duidelikheid het oor die reëlings, hulle familie en vriende daarvan sal inlig.

Wyle Yvonne word oorleef deur haar eggenoot Frans, dogters Tania Malan Jäckel (en skoonseun Dawie), Juanita van den Berg (en skoonseun Walter), Adele en kleinkinders Jeanine en Danny van den Berg. Adele het namens die familie haar opregte dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap vir hulle ondersteuning, vertroosting en bystand met Yvonne se afsterwe. Sy het ‘n spesiale woord van dank gerig aan Ernst en Joan Joubert wat daar was ten tye van Yvonne se afsterwe om haar pa by te staan, dr. Fred Badenhorst, haar lewensmaat André Müller, asook Avbob Louis Trichardt.

“Sy het regtig ‘n passie vir mense en die natuur gehad. Altyd ‘n bok vir sport en het altyd geglimlag,” het Adele afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 1416

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT