ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die projek is verlede jaar deur die Makhado Munisipaliteit goedgekeur, en hoewel die gemeenskap aanvanklik hul ontevredenheid uitgespreek het oor die munisipaliteit se versuim om hulle te betrek by die besluitneming ten opsigte van hierdie projek, wil dit tóg voorkom of meeste inwoners hulself grootliks berus het daarby, asook met die huidige werksaamhede wat tans voortduur. Generiese foto: Letaba Wireless.

Veselkabelprojekte staan vinnig einde se kant toe

Date: 22 May 2021 By: Denise van Bergen

Die deurlopende veselkabelprojek op Louis Trichardt, wat in Desember verlede jaar ‘n aanvang geneem het, blyk in hierdie stadium aansienlik meer vreedsaam te verloop – en, tot verligting van die grootste deel van die gemeenskap, uiteindelik na ‘n punt toe te beweeg. Dit ná maande van ontwrigtings en bittere ongelukkigheid oor die sloot-grawery by wonings wat net nie einde wou kry nie en beskadigde infrastruktuur wat inwoners gedurig sonder water en/of elektrisiteit gelaat het.

Die projek is verlede jaar deur die Makhado Munisipaliteit goedgekeur, en hoewel die gemeenskap aanvanklik hul ontevredenheid uitgespreek het oor die munisipaliteit se versuim om hulle te betrek by die besluitneming ten opsigte van hierdie projek, wil dit tóg voorkom of meeste inwoners hulself grootliks berus het daarby, asook met die huidige werksaamhede wat tans voortduur.

Die Zoutpansberger het weer ‘n draai gaan maak by die veselnetwerkmaatskappye om te verneem hoe elkeen vorder en wanneer voltooiing verwag kan word.

Mnr. Kobus Pretorius, instandhoudingsbestuurder vir Letaba Wireless, sê dat hulle klaar is met die ‘ruggraat’ - dit is die aanlê van ondergrondse veselkabels - wat Skuldbult, die nuwe uitbreiding en sentraal Louis Trichardt bedien. Volgende maand begin hulle dieselfde doen in Eltivillas. 

Volgens Pretorius is die oorhoofse mid-sone verspreidingsvesel na huise toe reeds 80% voltooi in die nuwe uitbreiding, terwyl Skuldbult 30% en sentraal Louis Trichardt 5% voltooi is. Die mid-sone verspreidingsvesel, het Pretorius verduidelik, is wanneer die kabel wat op pale geplant is, tussen die huise gespan word. Van daardie kabel af word vier kliënte dan op elke paal (of elke tweede paal) bedien.

Inwoners kan op die volgende skakel ingaan en hul adres insleutel om te sien of vesel al in hul buurt beskikbaar is: https://www.letaba.net/new/servicecoverage/.

Letaba beoog om teen einde Augustus klaar te wees met alle ondergrondse aanlegte en die span van oorhoofse kabels in Louis Trichardt, waarna hulle dan met installering by huise en besighede sal begin, soos per aanvraag vir die hoë-spoed veselnetwerk. Vir enige navrae kan Pretorius gekontak word by tel 015 004 0047 of 086 101 7409.

Mnr. Grant Small, implementeringsbestuurder vir Britelink - Vumatel se hoofkontrakteur - sê dat hulle basies besig is om klaar te maak. Op die oomblik werk hulle in die ou dorp en nuwe uitbreiding om die laaste buise aan te lê waar veselkabels nog geïnstalleer moet word. Hulle beoog om alle siviele werk (veselkabelinstallering, herinstellings en opruimingswerk) teen einde Mei klaar te hê, sodat hulle teen middel Junie aanlyn en reg is om met installeringswerk by huise en besighede te begin. Bestellings vir hul veselnetwerk kan vooraf reeds gemaak word op Vumatel se webtuiste, vumatel.co.za.

Herotel se kommersiële bestuurder in Limpopo, mnr. Tom Bramwell-Jones, het ook terugvoer gegee. Hy sê dat Herotel se vesel-projek op die dorp tot nou toe goed verloop het, ten spyte van een van die swaarste reënseisoene in jare. Hulle beoog om teen 30 Mei klaar te wees met die laaste siviele werk rondom die projek. Hulle is tans besig om veselkabels op die pale wat oral in die dorp geplant is te span.

Die Herotel-span sê hulle is dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning (en geduld) van die gemeenskap oor die afgelope paar maande. Bramwell-Jones het bevestig dat Herotel teen einde Junie amptelik aanlyn sal wees, en dat die eerste kliënte teen middel-Julie verbind sal wees met hierdie nuwe hoë-spoed veselnetwerk.

Vir Herotel se spesiale vooraf-aansluitingstariewe, gaan op die volgende skakel in en sleutel jou kontakbesonderhede in om solank op hul early bird lys geplaas te word: https://www.herotel.com/fibre-is-coming-to-louistrichardt/.

Dié terugvoer dui positiewe vordering en ‘n ligpunt aan die einde van die tonnel aan, maar kan ons sê dat ons oor die hond se stert is? Is dit dít, of moet inwoners hulself gereed maak vir nuwe kontrakteurs wat die dorp mag binnedring en tuine van voor af begin omdolwe? Die koerant het die antwoord by die munisipaliteit gaan soek.

Volgens mnr. Louis Bobodi, munisipale woordvoerder, het geen ander maatskappye aansoek gedoen hiervoor nie en is Letaba Wireless, Herotel en Vumatel die enigste maatskappye waarvan die munisipaliteit bewus is wat tans nog besig is met die projek. Hy het bevestig dat Letaba Wireless tussen Augustus en September hierdie jaar klaar behoort te maak, terwyl Herotel en Vumatel reeds binne die volgende maand klaar behoort te wees.

Bobodi sê dat die proses stadiger verloop het as wat aanvanklik verwag is as gevolg van skade aan infrastruktuur, wat gevolglik ook ander dienste in die proses geaffekteer het – iets waaroor die munisipaliteit uit die aard van die saak nie gelukkig was nie, omdat dit gedurig aangespreek en uitgesorteer moes word - maar dat die projek binnekort klaar sal wees.

 

 
 
 

Viewed: 727

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT