ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leanda le Cornu het op 5 Mei die leisels as president van VLU Noord neergelê. Hier is sy afgeneem met die blomme wat sy as blyk van waardering ontvang het. Foto verskaf.

Leanda lê leisels as president van VLU Noord neer

Date: 15 May 2021 By: Pétria de Vaal

Leanda le Cornu, welbekende inwoner van Louis Trichardt, het al diep spore in die Vroue Landbou-unie (VLU) getrap. Sy het onlangs die leisels as president van VLU Noord aan haar opvolger, Ria Strydom, oorhandig. Ria is van Strewe-tak in die Bosveld-streek.

Le Cornu het die amp as president vir sewe jaar beklee. Sy het egter op 5 Mei, tydens die gesamentlike 25ste en 26ste Kongres van VLU Noord te Weesgerus Vakansieoord naby Modimolle, die tuig neergelê.

Hierdie was ‘n unieke kongres, aangesien dit vir die eerste maal slegs ‘n een-dag kongres was en nie twee dae, soos die gebruik in die verlede was nie. Vanweë Covid-19 is geen kongres in Mei 2020 gehou nie. Twee kongresse se werksaamhede is dus vanjaar gekombineer, sodat die 27ste kongres in 2022 gehou kan word.

“Die normale ampstermyn van ‘n president is ses jaar. Ek het egter ‘n jaar addisioneel gedoen as gevolg van Covid-19,” sê Leanda. Sy het reeds in 1995 by die VLU Hanglip-tak in Louis Trichardt aangesluit. In 1997 is sy verkies as voorsitter van hierdie tak.  “Op 29 Oktober 2002 het ek die Aandblom-aandtak in Louis Trichardt gestig en was vanaf Januarie 2003 tot 2009 voorsitter,” noem sy.

Vanaf 1999 was Leanda aktief betrokke by die Koraalstreek, onder meer in die ampte van sekretaresse, voorsitter en beoordelaar-sameroepster. “In 2004 word ek gekoöpteer as VLU Noord se skakelbeampte (termyn van vier jaar). Die laaste jaar van skakelbeampte en die eerste jaar as Koraalstreekvoorsitter dien ek in beide ampte,” vervolg Leanda. Sy is in 2014 verkies as VLU Noord se president.

VLU Noord bestaan uit drie streke, naamlik Bosveld, Koraal (vanaf Alldays, Dendron, Musina, Louis Trichardt tot Polokwane, Tzaneen en Hoedspruit) en Soetdoring. “In totaal het ek vir 16 jaar op VLU Noord se uitvoerende bestuur gedien,” sê sy.

SAVLU hou drie-jaarliks kongres.  Leanda is in 2015  by hierdie geleentheid verkies as SAVLU se tesouriere. In 2018 is sy in Windhoek verkies as vise-voorsitter. VLU Noord is by die SAVLU geaffilieer. Die volgende SAVLU kongres vind einde Oktober 2021 in Gauteng plaas.

“Dit is interessant dat beide VLU Noord en SAVLU ook geaffilieer is by ACWW (Associated Country Women of the World). Tans is die wêreldpresident Magdie de Kock - ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat in Heidelberg, Gauteng, woon. Ek is ook ‘n individuele lid van ACWW, sê Leanda.

Op ‘n vraag oor hoe Covid-19 haar termyn as president en aktiwiteite beïnvloed het, antwoord Leanda dat dit ‘n inperking op streekbesoeke gehad het, asook op die bywoning van suster-organisasies se kongresse. “Opleiding kon ook nie gedoen word nie en die beplande deelnemerskursus kon nie aangebied word nie. Ons het as gevolg van die pandemie geleer dat tegnologie ons voertuig kan wees om te ‘VLU’.  Tak-  en streekvergaderings en selfs ‘n streekkonferensie is deur middel van tegnologie gehou, “ sê Leanda. Sy voeg by dat hulle elke jaar in Augustus onder meer ‘n tema vir die volgende jaar kies. Vanjaar se kongrestema was ‘Koester en Bewaar’ - ‘n tema wat dus in 2019 gekies is vir 2020.  “Min het ons geweet hoe vanpas die tema sal wees vanweë Covid-19!” sê Leanda.

Leanda gaan beslis nie stilsit noudat sy nie meer president is nie. “Ek sal steeds waar ek kan  geleenthede bywoon as ‘n lid – plaaslik en oorsee. Ek is tans die tak se beoordelaar-sameroepster en sal altyd by my tak betrokke wees. Ek het ‘n VLU-hart en wil deel wees van VLU. VLU het my die geleentheid gebied om as mens te groei en wonderlike VLU-vriendinne regoor die land en selfs oorsee te maak,” sê Leanda. Sy het enige dame wat belangstel om by die twee plaaslike takke aan te sluit, uitgenooi om haar te skakel. “Ja, selfs werkende dames is welkom omdat daar ‘n aandtak is,” sê Leanda. Sy kan geskakel word by tel. 082 895 8576.

 

 
 
 

Viewed: 785

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT