ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Bertus Marx, voorsitter van die Soutpansberg Posduifklub, staan langs die rou riool wat vir bykans ‘n jaar lank om hulle “nuwe” klubhuis onderkant die rugbylapa uitgeborrel het.

Klub slaak “vars” sug van verligting ná maande se vrot gemors

Date: 01 May 2021 By: Andries van Zyl

Lede van die Soutpansberg Posduifklub slaak ‘n “vars” sug van verligting nadat die Vhembe Distriksmunisipaliteit uiteindelik daarby uitgekom het om gehoor te gee aan ‘n jaar-lange vrot en stink probleem.

Die duiweklub deel hul klubhuis met die Soutpan Jukskeiklub as deel van nuutgeboude sportfasiliteite langs die Levubu-pad. Reg bokant hulle is die nuwe rugbylapa en rugbyklub. Kort nadat die fasiliteite geopen is, het riool egter orals om die duiweklub se klubhuis begin uitborrel.

“Ons het amper ‘n jaar gesukkel en daar gebeur niks. Die ou wat ons elke keer geskakel het, het net vir ons gesê ons is op die [herstel] lys – daar is niks wat hy kan doen nie. Maar hierdie ding is ‘n ou probleem,” het Bertus Marx, voorsitter van die Soutpansberg Posduifklub, einde Maart aan die Zoutpansberger gesê.

Die Zoutpansberger het daarna herhaaldelike versoeke aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit gestuur vir kommentaar oor waarom dit so lank neem om so ‘n groot probleem op te los. Die afgelope paar maande het ‘n riool “vleiland” in die gebied onder die klubhuis en aangrensend tot die Eltivillas woongebied begin vorm. Die stank was, veral in die somer, ondraaglik.

Ná die koerant se aanvanklike navrae het die klub laat weet dat mense wel een of twee keer uitgekom het om te kom kyk. “In ‘n stadium het die een munisipale amptenaar aangevoer dit is nie hulle probleem nie, want dit is privaatgrond. Hy het egter kort daarna besef dit is wel munisipale grond,” het Marx gesê.

Maandag is weer navraag gedoen by Vhembe, waarop munisipale woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai ná weke se stilswye laat weet het: “Die probleem is gister opgelos.” Ten spyte van versoeke het hy egter nie uitgebrei oor wat presies aanleiding gegee het tot die probleem en waarom hulle so lank gevat het om aan die probleem aandag te skenk nie.

Maar wat ook al die rede was, die duiweklub was oorstelp van vreugde dat die probleem nou immers opgelos is. “Hulle het dit baie netjies gedoen,” het Marx gesê. Dit het ingesluit die oopgrawe van die rioollyn. “Ek vermoed ook hulle het die 100 mm pyp nou met ‘n 200 mm rioolpyp vervang om die massa riool te hanteer,” het Marx gesê. Dit het hulle blykbaar gedoen nadat hulle die hele stelsel uitgepomp het, want die maande se blokkasie het veroorsaak dat die riool in die pype en mangate begin hard word het. “Vir ons is dit ‘n gebed wat verhoor is. Hoe lank het ons net nie gesukkel nie. Ek is baie verlig,” het Marx gesê.

 

 
 
 

Viewed: 852

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT