ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Jacques Smalle, provinsiale leier van die DA. Foto verskaf.

“My boek is skoon,” sê Smalle

Date: 30 April 2021 By: Andries van Zyl

Die provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie (DA) in Limpopo, mnr. Jacques Smalle, bevind homself tans in onstuimige politieke water nadat hy tydelik deur die Federale Regskommissie van alle party-aktiwiteite geskors is.

Die skorsing volg op klagte van beweerde belastingongerymdhede. Bewerings word gemaak dat Smalle onder meer sou gepoog het om belasting te ontduik deur van sy toelaes in sy assistent se rekening te laat inbetaal. Smalle ontken die bewerings egter ten sterkste. “Ek weet my boek is skoon,” het Smalle aan die Zoutpansberger gesê. Die besluit om hom te skors is blykbaar geneem omdat Smalle te naby aan die ondersoek teen die beweerde ongerymdhede staan.

Me. Liza Albrecht, ‘n senior woordvoerder vir die DA, het by navraag Smalle se skorsing verduidelik. “Die Federale Regskommissie van die DA het aanbeveel dat mnr. Smalle van alle DA-party-aktiwiteite geskors word, hangende die uitslag van die saak teen hom voor die regskommissie. Hierdie aanbeveling is aanvaar deur die Federale Uitvoerende Gesag van die party,” het Albrecht in ‘n e-pos aan die Zoutpansberger gesê.

“Ek en my span kon nog nooit iets teenstaan of erken [nie], omdat niks vir ons gegee is nie,” het Smalle gesê. Hy het verwys na die “klagte” teen hom. Albrecht is uitgevra oor wat presies die klagte teen Smalle behels. “Die Federale Regskommissie is besig om die aanklagte teen mnr. Smalle te formuleer en die party kan dus nie daaroor kommunikeer nie,” was Albrecht se reaksie.

Die feit dat Smalle van party-aktiwiteite geskors is, beteken nie dat hy gaan leeglê op sy plaas buite Louis Trichardt nie. “Mnr. Smalle se skorsing beïnvloed nie sy werk as lid van die provinsiale wetgewer nie,” het Albrecht gesê. Dit beteken dat hy sal voortgaan met sy oorsigrol in die Provinsiale Wetgewer wat betref CoGHSTA, onderwys en landbou.

Die DA in die provinsie is tans onder administrasie geplaas, omdat die party se provinsiale kongres op 21 Maart weens die beweringe teen Smalle afgestel moes word. Intussen het die provinsiale leiers se drie-jaar termyn, insluitend Smalle s’n, verstryk, wat nou ‘n vakuum in die provinsie veroorsaak het. Om die vakuum tydelik te vul tot nuwe leiers aangewys kan word, is twee lede van die party se Federale Raad aangestel as administrateurs. Hulle is die party se Federale Raad se adjunk-voorsitter, mnr. James Masango, en Lid van die Parlement me. Annelie Lotriet. Masango sal die politieke leiding neem, terwyl Lotriet die administrasie sal behartig.

Wanneer klagte formeel teen Smalle geformuleer en aan hom gestel gaan word, is onduidelik. Hy het egter reeds aangedui dat hy senior regsadvies ingewin het oor die aangeleentheid. Die saak teen Smalle het egter dalk baie meer om die lyf. ‘n Bron na aan die ondersoek meen die “klagte” teen Smalle het alles te doen met ‘n magstryd binne die party vir politieke leierskapposisies.

 

 
 
 

Viewed: 914

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT