ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 14-jarige Ashton Fick met sy skildery getiteld Hanoverstraat wat aan hom die tweede plek besorg het. Foto verskaf.

Jong Ashton se kuns beïndruk ook Anton Goosen

Date: 25 April 2021 By: Andries van Zyl

‘n Jong Graad 9-leerling van die CVO Vivo, Ashton Fick, se skildertalent het hom onlangs ‘n tweede plek besorg in die Afrikaans.com Skilder met Woorde-kompetisie.

Die kompetisie word aangebied om aan jongmense ‘n kreatiewe uitlaatklep te bied, en vanjaar het die organiseerders dit goedgedink om met bekroonde Suid-Afrikaanse musikant Anton Goosen en Elsie Jooste hande te vat.

Die Skilder met Woorde-kompetisie het sy ontstaan te danke aan ‘n gedagte van Ollie Viljoen. Terwyl Elsie en Ollie na een van Anton se liedjies geluister het, het hy genoem dat hy met elke liedjie ’n prentjie sien. “Dit is dan so skilderbaar”, het hy gesê. Elsie het daar en dan besluit om liedjies te kies vanaf 1976 (Jantjie) tot en met die nuutste album (2019) en dit op kitare te skilder. Die idee met die Skilder met Woorde-kompetisie was om leerders ook die geleentheid te gee om kreatief na die liedjies te luister en dit dan te verbeeld. Afrikaans.com het besluit om agt van Anton se vroeëre liedjies aan die leerders voor te lê om kreatief uit te beeld.

“Die aantal inskrywings was oorweldigend, met kunswerke wat van wyd en syd oor die land ingestroom het. Nie net was dit ’n bewys van die ongelooflike talent van ons land se jong kunstenaars nie, maar ook van die groot liefde wat daar vir die taal is,” het die organiseerders ná afloop van die kompetisie in ‘n verklaring gesê. Anton was self verstom. “Wat ’n wonderlike verrassing om so baie inskrywings te ontvang. Elke kunswerk is so uniek en spesiaal. Ek is omtrent nederig beïndruk en dankbaar vir die deelname. Dit verstom my elke keer hoe nuwe generasies kan identifiseer met liedjies wat dekades voor hulle bestaan geskep is. Deur die oë van ’n kind – inderdaad so verfrissend om te sien hoe hulle die liedjies geïnterpreteer en uitgebeeld het,” het Anton gesê.

Weens die talle goeie inskrywings was die kies van ‘n wenner baie moeilik. Tog het die 16-jarige Marisa Steynberg van Steynbergtuisskool weggestap met die eerste prys met haar skildery getiteld Straattroebadoere. Sy wen daarmee ‘n R2 000-kontantprys en ‘n verdere R10 000 wat as ‘n skenking weggegee sal word.

Met sy tweede plek het die 14-jarige Ashton R1 500 in sy sak gedruk. Maar wat het hom gemotiveer om in te skryf? “Ons het elke jaar by ons skool ‘n kultuurafdeling waar jy kan inskryf vir skeppende kuns. Dit behels skilder, verf, foto’s en multimedia. Ek het dit goedgedink om my horison bietjie te verbreed en iets nuuts te probeer,” het Ashton gesê.

Ashton het gesê hyself het nie gedink sy skildery, getiteld Hanoverstraat, sou so goed doen nie. “Dit was ‘n opwindende week vir my om my naam te sien in die Top 20, om nie eers te praat van tweede kom nie,” het Ashton gesê.

Volgens Ashton het hy Anton Goosen se liedjie Hanoverstraat gekies, omdat dit hom aan laat terugdink aan die goeie ou dae. “Dit was ‘n goeie kompetisie en almal kon deelneem. Ek is baie verras oor my prys wat ek gewen het. My inspirasie was my ouma, Sylvia Fick, en my motiveerder my ma. Ek wil net vir hulle dankie sê vir hulle ondersteuning en bystand,” het Ashton gesê.

Om na die ander pryswenners se kunswerke te kyk, besoek https://afrikaans.com/2021/04/19/afrikaans-com-skilder-met-woorde-kompetisie-bied-kreatiewe-uitlaatklep /.

 

 
 
 

Viewed: 1243

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT