ADVERTISEMENT:

 

 
 

Blouape is beslis nie 'n vreemde gesig in Louis Trichardt nie. Foto: Dr. Bibi Linden.

Blouape en inwoners al meer in konflik

Date: 23 April 2021 By: Pétria de Vaal

Die Zoutpansberger het verlede week berig oor primaat-spesies van die omgewing wat op of langs paaie dood aangetref word en waarvoor die publiek se hulp benodig word. Dr. Bibi Linden, ‘n post-doktorale navorser aan die Universiteit van Venda, is hierby betrokke.

In die tussentyd word die vraag gevra hoe ‘n mens hiermee kan help as dit lyk of die aapbevolking groter en terselfdertyd al hoe lastiger word. Menige inwoner is al keelvol vir die troppe ape wat hulleself tuismaak in die residensiële gebied. Of dit nou ‘n dawerende gehardloop oor sinkdakke is, of honde wat histeries aanhou blaf as hulle ape gewaar, en of dit familie-onderonsies onder die ape is – die situasie is en bly ‘n ongemaklike een vir inwoners.

Baie inwoners het ook fluks gedurende die grendeltyd met groentetuine begin – alles tevergeefs. Van groente en vrugte kan ‘n mens seker wees gaan niks van oorbly as die ape daar verby is nie.

Ape is nie van gister af ‘n probleem in die dorp nie. Die Zoutpansberger het reeds in 2005 berig dat blouape (Vervet monkeys) geklassifiseer word as ‘n beskermde spesie. In 2014 is wenke aan lesers deurgegee wat kan help om ape weg te hou uit erwe.

Die omgewing by die hoërskool loop sleg deur onder die ape wat amok maak.

“Blouaap-getalle is vir seker meer as ‘n jaar of so gelede. Ek verwys veral na die woongebied naby die hoërskool waar ek bly. Dis ongelukkig so dat mense wel ape voer en daarmee saam is vrugtebome ‘n groot aantrekkingskrag,” sê Fanie van Zyl.  “Ek is veral bekommerd oor die groot aapmannetjies. Hulle is glad nie bang vir my honde nie. Hulle sal byvoorbeeld op die muur sit en my honde ‘koggel’ terwyl die honde teen die muur opspring. Sou só ‘n aap my hond beseer of selfs doodmaak, dan sit ek met ‘n groot veeartsrekening of ‘n dooie hond. Die ape mag om verskeie redes nie geskiet word nie. Nou wat staan ‘n mens dan te doen?” vra Fanie. Hy is ook bekommerd daaroor dat die ape al hoe minder ‘n vrees vir mense het. “Hulle gaan huise binne om iets te ete te steel. Verjaag jy hulle, sit hulle net in ‘n boom en eet sonder om te veel notisie van ‘n mens te neem. Of hulle werklik meer word is sekerlik debatteerbaar, maar dat hulle ‘n probleem is en dat dit erger word, is vir seker so,” sê ‘n bekommerde Fanie.

“Hoewel ons aan die kant van die dorp woon, het ons nie baie las van ape in ons erf nie, maar wel in ons straat,” sê Anneke Stroebel. “Die rede waarom hulle ons moontlik nie pla nie, is omdat ons nie vrugtebome het nie en ons honde skrik hulle af,” sê sy. Anneke voeg by dat sommige inwoners in hulle straat wel ape voer. “By die Zoutpansberg Privaathospitaal het sekuriteitswagte opdrag om hulle die hele tyd te verjaag - dus hou die ape maar dak- en taklangs. Daar is neut-, mango- en avokadobome waarvan die vrugte deur personeel gebruik mag word,” sê sy.

Vir Natarchia Haëfele is die ape ‘n groot steen des aanstoots – hoofsaaklik omdat hulle haar ma (ook in die hoërskool-omgewing) se vrugtebome, groentetuin en selfs kruietuin so verwoes.  “Daar is net ‘n effense groenigheidjie wat uit die grond uit kom, bv. radyse, sprietuie, slaai en baie ander groente, dan word dit reeds opgevreet. Die hele groentetuin is nou al toegemaak met skadunet, maar steeds laat aap se kind hom nie buite hou nie,” sê sy. “Ons het al alles probeer. Van rubberslange, tot CD’s wat aan bome opgehang word wat die lig weerkaats en hulle glo afskrik, noem dit. Niks hou hulle weg nie,” sê sy gefrustreerd.

Riaan en Ursula van der Westhuizen woon in die gebied aan die suidekant van Laerskool Louis Trichardt en noem dat die ape hulle nie regtig baie pla nie, hoewel hulle opmerk dat die ape meer as gewoonlik blyk te wees. “Die afgelope naweek het een heel rustig en kalm by die kombuisvenster ingekom, op die kas gesit en die kombuis van hoek tot kant bekyk - dit terwyl ek by die deur staan. My teenwoordigheid het hom glad nie gepla nie. Ek vra toe heel kalm: ‘Waarmee help ek jou, apie?’ Met dié kyk hy my aan, vat rustig ‘n patat uit die groenterak en loop weer heel rustig by die venster uit terug na ‘n boom,” sê Riaan.

Ape was vir ‘n tyd lank relatief onaktief in die gebied oos van die N1. Inwoners bevestig dat aap-aktiwiteit al hoe meer word. ‘n Inwoner noem dat hulle die afgelope twee jaar niks mango’s, lietsjies of avokado’s gehad het nie. ‘n Sweep wat bloot op die grond geklap word, laat hulle egter padgee.

Razina Seedat voer graag die wilde voëls in haar tuin – ook in hierdie area. “Ons het ‘n tyd gelede ‘n groot toename in aapgetalle bespeur,” sê sy. Hulle het selfs in die huis ingekom en die pak met voëlsaad oopgeskeur. “Ek het raad gevra op sosiale media en het goeie advies ontvang. Sommige mense het egter planne met gif en ander maniere wat nié sulke goeie advies is nie, aangesien ek regtig nie die ape wil seermaak nie,” sê sy.

Volgens dr. Linden is die verstaan van blouape se gedrag baie belangrik. Waar dit kom by iets te ete, volg hulle ‘n gedrag van “selfbeloning” wanneer hulle iets maklik raakloop om te eet en sal dan altyd teruggaan daarheen (bv. ‘n vrugteboom). “Blouape is baie opportunisties. Hulle sien altyd geleenthede raak,” sê sy.

“Of hulle werklik meer word, is moeilik om te bepaal sonder ‘n wetenskaplike studie soos ‘n ‘bevolkingsensus’. Ape is baie gebiedsgebonde. Waar hulle nou voorkom, leef hulle al vir eeue. Wat mense nie besef nie, is dat, indien ‘n groep ape verwyder sou word (bv. na ‘n wildreservaat), word ‘n vakuum geskep en sal dit weldra net wéér opgevul word deur ander ape,” sê Linden.

Steve Smit en Carol Booth van Monkey Helpline in Durban (www.monkeyhelpline.co.za) is dit eens dat mense glad nie ape se gedrag ken of verstaan nie. Mense beskou ape as indringers en lastig. “Blouape beweeg in gebiede waar hulle veilig voel en waar hulle kos sal vind. Hulle hou glad nie ‘n gevaar in vir mense nie, hoewel ‘n mens nou nie onnodig ‘n klein kind met iets te ete in sy hand sal laat buite loop of speel terwyl daar ‘n trop ape is nie. Wanneer ape aanval, is dit altyd uit selfverdediging,” sê Steve.

Monkey Helpline beveel ook aan dat mense liefs nie ‘n plek skep waar ape gevoer word nie. “Rubberslange kan gebruik word om hulle af te skrik, maar hulle moet gereeld rondgeskuif word – anders raak die ape daaraan gewoond. Die heel beste metode om hulle te verjaag, is deur ‘n  dun, sterk straal te spuit met ‘n tuinslang of waterpistool. Hulle hou glad nie daarvan nie en kies dan die hasepad. Interessant om te weet is dat ape hulle min aan vrouens steur. Dit is dus beter as ‘n manlike persoon ape verjaag.” sê Steve.

Volgens Linden is dit baie belangrik dat alle inwoners hulle kant moet bring en nie byvoorbeeld kosreste by ‘n kombuisvenster uitgooi nie. Komposhope moet verkieslik van stene gebou word en behoorlik toegemaak word.  Vullisblikke moet toepaslike deksels hê wat nie deur ape oopgemaak kan word nie.  “Behoorlike bestuur van vullis is een van die eerste stappe om ape se bewegings te beheer. ‘n Mens moet ook besef dat wanneer jy byvoorbeeld wilde voëls voer, jy definitief probleme met ape sal hê,” sê Linden.

 
 
 

Viewed: 877

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT